Wellington vir die tweede keer bekroon as die top wyndistrik

Wellington top wyndistrik
Die Mutual & Federal Agri-Wynroete is slegs die tweede wynproduserende area wat die tweede keer bekroon is as Novare SA Terroir se Top Wyn-area. Die eerste toekenning was met die toevoeging van dié afdeling tot die Novare SA Terroir Toekennings in 2010 en vanjaar is Wellington vir die tweede keer beloon.
Vanjaar is ook die eerste keer ooit wat die Novare Top Enkelwingerd Wyn Trofee tydens die kompetisie oorhanding is; ‘n enkelwingerd wyn is die beste verteenwoordiging vir ‘n spesifieke terroir.
Doolhof Landgoed in Wellington het hier met die louere weggestap met hul Doolhof Single Vineyard Malbec 2014.
Dié wyn het die hoogste punte van al die inskrywings gekry en is ook bekroon as die Nasionale Wenner in die Malbec afdeling. Doolhof Landgoed se Doolhof Lady in White 2010 is ook die Nasionale Wenner in die Wit Versnit afdeling.
Doolhof se prestasies tesame met Linton Park Reserve Cabernet Sauvignon 2012 wat weggestap het met een van die Top 5 Landgoedwyne toekennings, asook bo-gemiddeld uitslae deur Wellington Wyne (La Cave), Welbedacht, Diemersfontein en Napier het gelei tot dié gesogte toekenning.
Marko Roux, wingerdboukundige by Wellington Wines, sê in terme van terroir is Wellington ‘n baie opwindende, warm mediterreense wynboustreek waar wyne algemeen goeie intensiteit, vruggedrewe en tipiese kultivar kenmerke toon.
“Met die invloed van omliggende berge en diverse grondtipes word liggings binne die streek gevorm wat kleiner unieke terroirs vorm, waarvan die Doolhofvallei ‘n uitstekende voorbeeld is. Met ‘n streek wat ook volop is met ou vergete Chenin blanc en Cinsaut blokke, bied Wellington ook in hierdie nismark unieke aanbiedinge, meen Roux.
Produksiebestuur van Wellington Wyne, Francois van Niekerk, is ook baie opgewonde oor Wellington se potensiaal. “In die enorme diversiteit van grond en klimaat wat in Wellington gevind word is daar baie min twyfel dat elke kultivar hier ‘n tuiste vind om sy mees gesogte kwaliteit na vore te bring. Die wyne toon ‘n groot variasie in persoonlikheid maar vertoon die fundamentele beginsels van kwaliteit. Dit is waarlik ‘n baie opwindende en unieke streek om in wingerd te verbou en wyn te maak.”
Die ontstaan van die plaaslike Wellington Quest for the Best-kompetisie – vir Wellington deur Wellington, het ook bygedra tot die algehele gehalte van plaaslike wyne. Die eerste Quest for the Best is gehou na afloop van die 2010 SA Terroir Top Wyn-area toekenning.
Quest for the Best is uniek deur Wellington ontwikkel met die doel om juis die besonderse gehalte, terroir en verskeidenheid van Wyne van Oorsprong Wellington en 100% Wellington kelders te vier en aan die publiek ten toon te stel en te spog.
Uitgereik deur Yolandi de Wet PR