Categories: NewsPublished On: 15th February 2016

Vuurwapeneienaars: Is jou lisensie geldig?

By 1 min read
274 words

vuurwapen

Baie Suid-Afrikaners is nie bewus daarvan dat hulle vuurwapenlisensie ook soos hulle bestuurslisensie hernu moet word nie.

Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het al die vuurwapeneienaars in die land daarop bedag maak om te kyk wanneer hulle vuurwapenlisensies verval en om dit betyds te hernu.

Die vuurwapenwet behels dat die lisensie binne 90 dae voor die vervaldatum hernu moet word.

“Mense wie se vuurwapenlisensies verval het, en wat dit nie betyds hernu nie, sal hulle vuurwapens by die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet indien en kan moontlik ‘n strafregtelike klag teen hulle kry. Mense wat vrywillig hulle vuurwapens by die polisie inhandig sal nie vervolg word nie,” sê luitenant-generaal JK Phahlane.

Volgens Fred Camphor, besturende direkteur van SA Jagters, weet hy nie of mense se lisensies wat alreeds verval het, dit kan hernu nie.

SA Jagters het alreeds hulle 39 000 lede van die nuutste verwikkelinge ingelig en gesê hulle moet betyds hulle lisensies hernu.

Volgens syfers wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontvang is in November 2015 is daar 123 000 vuurwapens waarvan die lisensies alreeds verval het.

Fred noem ook dat baie mense net vergeet het om hulle lisensie te hernu of dat daar sekere omstandighede  kan wees hoekom hulle dit nie hernu het nie. SA Jagters glo dit is nie haalbaar of prakties om so baie mense te vervolg wat eintlik wetsgehoorsame burgers is nie.

SA Jagters het ‘n dringende vergadering met die Suid-Afrikaanse Polisiediens belê en wag nog vir terugvoering.

In die jongste wetgewing met betrekking tot vuurwapenlisensies word daar wel voorsiening gemaak daarvoor dat jy tydelik aansoek kan doen vir ‘n vuurwapenlisensie, wat moontlik kan help indien jou lisensie verval het.

Bron: SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV)

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0