Categories: NewsPublished On: 16th March 2017

Vuurwapen-amnestie sal faal om misdaad te bekamp

By 3 min read
583 words
vuurwapen

vuurwapen

Die voorgestelde amnestietydperk van 1 April tot 30 September 2017, waartydens mense onwettige vuurwapens by die SAPD kan inhandig sonder vrees vir vervolging, sal geen bydrae maak om gewapende misdaad te voorkom nie, sê die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters).

Op ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir Polisie, het die minister van Polisie planne bekend gemaak om ‘n amnestietydperk van ses maande vanaf 1 April tot 30 September 2017 in werking te stel. Die SAPD het besonderhede verskaf oor die bekragtiging van die amnestie wat daarop gemik is om onwettige vuurwapens uit die gemeenskap te verwyder.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee het die minister daarop gewys dat ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000 soos gewysig) enige amnestie onderhewig is aan die parlement se goedkeuring. Hoewel Artikel 139 van die wet die minister magtig om ‘n amnestie aan te kondig, maak sub-artikel 139 (2)(a) van die wet dit baie duidelik dat dit slegs geldig sou wees indien die parlement dit goedkeur. Die parlement gaan hierdie week in reses en heropen eers in Mei 2017.

“Ons vind dit baie vreemd dat die SAPD se bestuur die minister oor die amnestie sou adviseer en hy dit aan die kabinet sou voorlê wat dit op hulle beurt goedkeur sonder om die wetlike voorskrifte in ag te neem dat slegs die parlement dit kan bekragtig. Dit bevestig net die onvermoë van die polisie in die algemeen en meer spesifiek die Sentrale Vuurwapenregister,” sê Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters.

Die voorgestelde amnestie maak voorsiening daarvoor dat mense vuurwapens wat onwettig in hulle besit is, by die SAPD kan inhandig sonder om vervolg te word. Die minister het gesê hierdie wapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te kyk of dit met misdaad verbind kan word. Indien wel, sal die polisie dit verder ondersoek waarna vervolgings kan begin.

Camphor het gesê dit is onwaarskynlik dat misdadigers wat onwettige wapens besit dit sou inhandig. “Eerstens, sal misdadigers nie van wapens ontslae wil raak waarmee hulle misdade pleeg nie. Tweedens, sal hulle hulleself aan vervolging blootstel. Baie min vuurwapens, indien enige, wat in misdadigers se besit is, sal tydens die voorgestelde amnestie ingehandig word. Dit is ‘n baie eenvoudige gevolgtrekking om te maak,” het hy gesê.

Volgens Camphor is dit vanselfsprekend dat enige voorwaardelike amnestie ‘n uitweg bied vir mense wat voorheen gelisensieerde vuurwapens besit het, maar verkies om nie meer aan die omslagtige lisensievoorwaardes te voldoen nie.

“Dit is net ‘n herhaling van twee vorige amnesties in 2005 en in 2010. In 2010, is 33 823 onwettige vuurwapens ingehandig, terwyl 46 631 vuurwapens vrywillig deur eienaars aan die polisie oorhandig is. Tydens die 2010-amnestie, is slegs 11 887 onwettige vuurwapens ingehandig, en ’n verdere 30 442 wapens is vrywillig deur eienaars oorhandig. Die adjunk-kommissaris van Polisie het by Woensdag se vergadering bevestig dat nie een van die 122 783 vuurwapens wat tydens beide amnesties ingehandig is, aan misdade gekoppel kon word nie, en niemand is dus vervolg nie.”

SA Jagters sê dit is duidelik dat die polisie hulle op sagte teikens toespits en konsentreer op vuurwapens wat hulle maklik in die hande kan kry. In hierdie geval, sal dit waarskynlik vuurwapeneienaars wees wat eenvoudig vergeet het om hulle lisensies betyds te hernu.”

Volgens Camphor is die enigste resultaat van hierdie voorgestelde amnestieperiode dat die polisie akkedisse vang (verwyder vuurwapens waarvan lisensies verval het) terwyl hulle die krokodil in hulle midde ignoreer (onwettige vuurwapens in misdadigers se besit).

SA Jagters twyfel sterk of die voorgestelde amnestie wettig is ingevolge Artikel 139(1) van Wet 60 van 2000 soos gewysig, en sal die situasie fyn dophou.

Bron: SA Jagters

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0