Vrystaat-boere help Witbank

Witbank
Boeta Groblaar, Alisha de Lange, Annemarie van Heerden, Pietie Groenewald en Johan Nel by die uitdeelaksie.
Boere van die Vrystaat het weer eens bewys dat ‘n mens altyd op ‘n boer kan staatmaak. 86 boere van regoor die Vrystaat wat erg onder die droogte ly, het die Witbankers wat hulle werk verloor het met reuse skenkings gehelp.
Hierdie reddingsdaad is die inisiatief van Pietie Groenewald, ’n boer van Wesselsbron. Hy het op Facebook van Solidariteit Helpende Hand se hulpkreet vir die afgelegde mense gelees en besluit om sy vriende en kennisse te nader om ook te help.
“Ons boere hier in die Vrystaat het ’n moeilike tyd agter die rug en moeilike tye lê nog voor. Toe ons te hore kom van Helpende Hand se skenking van agt ton kos, het ons besluit om ook in te spring,” sê hy.
Die boere het onder meer 22 ton meel, 1 900 liter UHT-melk, 1 800 eiers en 420 varsgeplukte pampoene geskenk om die 300 afgelegde mense te ondersteun.
Pietie het verlde Vrydag, 4 Maart, saam met 17 ander die lang pad vanaf Wesselsbron na Witbank aangepak om self die geskenkpakkies uit te deel. “Dit was absoluut fantasties om dit te ervaar en om te sien waarvoor jou harde werk gaan,” het Pietie gesê.
“Daar is ʼn baie sterk gevoel van samehorigheid en goeie gees onder die mense, al kry hulle baie swaar,” voeg Pietie by.
Helpende Hand het nog sowat nege ton kospakkies onder mense wat afgelê is, uitgedeel. Dr Danie Brink, hoofuitvoerende beampte van Helpende Hand, het die groep van 86 boere se skenking as ‘n blyk van naasteliefde beskryf. “Die afgelegdes het nou finaal klaargemaak by Highveld en het uitsluitsel gekry oor hulle mediese en pensioenfonds.”
Indien jy hierdie mense wil help, stuur ‘n teksboodskap met die woord “Witbank” na 38969 om R10 aan die Witbank-afleggingsnoodfonds te skenk, of indien jy ‘n groot skenking wil maak, besoek www.helpwitbank.co.za vir Helpende Hand se bankbesonderhede.
Bron: Solidariteit Helpende Hand