Verbruiker het die hef in die hand

rooivleis
“Die sukses van die rooivleisbedryf in Suid-Afrika word bepaal deur die vraag na ons produk,” het Lardus van Zyl in sy voorsittersrede tydens die RPO se nasionale kongres gesê.
As ‘n mens kyk na die vraag na rooivleis, dui die jongste voorspellings daarop dat die binnelandse mark vir beesvleis tot 2025 met 9% sal groei en die mark vir skaapvleis met 13%. Wat baie opwindend is, is dat die Afrika-mark se vraag na rooivleis tot in 2050 sal verdubbel en dat die voedselmark in oos- en suidelike Afrika tot 2040 sal verdriedubbel. Die internasionale mark groei stadiger as die Afrika-mark, maar die vraag styg steeds. Die Sjinese mark is veral belowend.
Die uitdaging is om meer rooivleis te produseer. Die antwoord lê in beter tegnologie en bestuur; hoër intensifisering; aangeplante produksiestelsels en presisie-boerdery. Dit is noodsaaklik om ‘n bemagtigende omgewing te skep sover dit die owerheid se betrokkenheid by die bedryf betref. Dit is krities dat die ontwikkelende sektor, wat 40% van die lewende hawe besit asook die 1,2-miljoen huishoudings wat lewendehawe besit, gekommersialiseer word. Ons moet egter aanvaar dat die Staat beperkte kapasiteit het om dienste aan die bedryf te lewer en dat die bedrywe en spesifiek die RPO ‘n groter rol het om te speel, het Lardus gesê.
Geleenthede wat aangespreek moet word sluit die volgende in:
- ‘n Gemeenskaplike visie moet vir die hele rooivleisbedryf ontwikkel word sowel as ‘n nuwe Terme van Verwysing vir die Rooivleisbedryfsforum, wat die hele waardeketting verteenwoordig.
- ‘n Kollektiewe uitvoerstrategie moet ontwikkel word om ook vir die primêre produsent waardetoevoeging te verseker.
- Dringende aandag sal geskenk moet word aan ‘n vrywillige naspeurbaarheidstelsel ten spyte van die feit dat Suid-Afrika ‘n netto-invoerder is.
- Die huidige klassifikasiestelsel is in die verslagperiode wetenskaplik geëvalueer en daar is konsensus dat hoewel dit sekere beperkinge het, dit nog steeds relevant is. Ons moet egter na ‘n addisionele stelsel kyk om hoë kwaliteit rooivleis te waarborg.
- Rooivleis behoort nie meer as ‘n kommoditeit bemark te word nie. Handelsmerkbemarking is die antwoord.
- Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het redelike goeie kapasiteit om voorligtingsaksies te onderneem, maar daar is probleme met die praktiese uitvoering daarvan.
- Die rooivleisbedryf moet homself reguleer. Dit het in die verslagperiode duideliker geword dat indien bedrywe nie selfregulering toepas nie, die owerheid met wetgewing intree.
- Daar is in die verslagperiode bewys dat ‘n rampdroogte-meestersplan wat tydige staatshulp insluit, iets is waarsonder die bedryf nie kan klaarkom nie.
- Toekomsmarkte, die inwerkingstelling van ‘n beesvleistoekomsmark en die moontlikheid van ‘n toekomsmark vir speenkalwers, maak die bedryf opgewonde en dit maak beter beplanning moontlik.
- Suid-Afrika se veeverbeteringskemas is van hoogstaande gehalte en kan vergelyk word met die beste in die wêreld. Die verdere uitbreiding en uitbouing van die skemas is noodsaaklik om nuwe moontlikhede in genomika te ontgin.
- Navorsing en ontwikkeling in die bedryf bly steeds een van die pilare om tegnologiese ontwikkeling in die bedryf te bevorder.
- Dit is noodsaaklik dat jongmense by die bedryf betrokke sal raak en dat die bedryf vir hulle aantreklik sal wees.
- Ons kan nie die bedryf bestuur as veegetalle tot op distriksvlak nie beskikbaar is nie.
- Geleenthede bestaan om drakrag by wyse van nuwe generasie aangeplante weidings te verbeter.
- Die daarstel van ‘n eenheidsorganisasie wat alle bedrywe in die landverteenwoordig, het krities noodsaaklik geword vir kollektiewe beleidsbepaling en om die beste moontlike verhouding met staatsdepartemente daar te stel.
Bron: RPO Kongres Bulletin