Categories: NewsPublished On: 15th December 2016

Veiligheidswenke ten opsigte van veiligheidstelsels op plase/kleinhoewes

By 2 min read
372 words
Vrystaat Landbou

vrystaat-landbou-logo-275×275

Boere en die plaaslike polisie moet binne die Landelike Beveiligingsplan (LBP) tussen hulle gesamentlike operasies loods om veiligheid en misdade in boerderygemeenskappe aan te spreek.  Die LBP maak voorsiening vir strukture en stelsels wat tussen polisie en boere op plaaslike, cluster (gebieds-) en provinsiale vlak funksioneel moet wees om samewerking te verseker en te verbeter.

Die VKB/VLVeiligheidslessenaar en Vrystaat Landbou (VL) Wet en Orde komitee stel voor dat alle boere, ongeag of hulle lede van georganiseerde landbou is of nie, by ‘n veiligheidsnetwerk/stelsel moet inskakel om pro-aktief na hul veiligheid om te sien en sodoende ook misdade op landbougrond te bekamp/voorkom.

Verder moet boere hulle veiligheidsnetwerk krities evalueer na gelang van die veiligheidskontrolelys, soos hieronder gedeel:

*      Skakel in by die veiligheidstrukture wat tussen die plaaslike SAPD, boere en ander rolspelers in u area geskep is – woon gereeld maandvergaderings by, raak betrokke by wit-bloulig patrollies/plaasaanval inoefeninge 2 keer per jaar en kom gereeld in kontak met veiligheidskoördineerders van beide die SAPD en georganiseerde landbou in u area;

*      Skakel in by plaaswag strukture in u area;

*      Bekom radiokommunikasie, wees ingeskakel by die plaaslike radionetwerk, verhoed dat u sonder kommunikasie sit wanneer selfoon netwerke af is as gevolg van byvoorbeeld kragonderbrekings;

*      Toets gereeld radiokommunikasie met u veiligheidsnetwerk/koördineerder en bure;

*      Raak deel van WhatsApp-groepe waarop inligting rakende verdagte voertuie/persone in u area pro-aktief gedeel word;

*      Doen gereelde en deurlopend inoefeninge van u eie gebeurlikheidsplan – wat insluit die hantering van vuurwapens – tesame met u werkers. Waar moontlik verskaf aan u werkers handradio’s na-ure;

*      Skaf ’n ekstra selfoon aan wat op ’n strategiese plek binne die huis geplaas kan word. Maak seker dat dit altyd gelaai is sodat u in staat sal kan wees om hulp te ontbied indien u bestaande selfoon geroof word. Vergewis uself ook van sekerheids-/noodseine op u slimfoon wat ook aan ‘n bestaande veiligheidsnetwerk gekoppel kan word;

*      Gee voortdurend inligting aan veiligheidskoördineerders van georganiseerde landbou/polisie deur wat van uiterste belang is om pro-aktief op te tree;

*      Kontakbesonderhede/noodnommers van bure, polisie en veiligheidskoördineerders moet altyd byderhand wees of op selfone gelaai wees;

*      ‘N BOER WAT INGELIG IS EN INSKAKEL BY ‘N VEILIGHEIDSNETWERK IS ‘N BEMAGTIGDE BOER!

Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0