Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Val Boeredag bied weer 'n fees van vernuftige tegnologie

By 4 min read
645 words

 “95 persent van Val-boeredag se sukses is die praktiese demonstrasies met trekkers en werktuie wat ons hier uitvoer en omdat ons al die groot spelers in die mark hier bymekaar kan kry.” So sê Wynand Ambrosius, wat aan die stuur van sake by die Val-boeredag staan. “Vanjaar was dit veral die kombinasiewerktuie wat die gunsteling vermaak gebied het.”

Die twintigste Val was weer ’n klinkende sukses en omdat die skou vanjaar na die Val-boerevereniging se sportklub met baie meer geriewe geskuif het, was die uitstallers en besoekers nog meer tevrede.

“Ons het daarbenewens nog twee stelle ablusieblokke en vier laaibanke gebou, wat net betyds voltooi is,” sê Wynand. Die parkering, toegang en algemene logistiek was ook baie beter.

Die swaar mis wat vroeg die oggend oor die skouterrein gehang het, het gelukkig heeltemal opgeklaar toe die maatskappye se sprekers en operateurs hulle plekke in die land gaan inneem het om die vingerpuntfeite van elke werktuig en trekker op te noem en te bewys het dat dit werk soos hulle sê.

Ten spyte van die stofstrepe wat op die werktuigbewonderaars se gesigte gelê het, het almal gelukkig en tevrede gelyk met wat die dag gebied het. “Daar was vanjaar tussen 2 200 en 2 300 mense wat deur die hekke gekom het en ons beleef elke jaar ’n sterk groei in ons getalle,” sê Wynand.

 John Deere het al die gewoonte om elke jaar die Val-bywoners met swier te beïndruk. Hier beweeg hulle trekkers en ’n spuit statig vorentoe in ’n traplinie. Die John Deere-toerusting word deur Afgri Meganisasie voorsien, wat ook die hoofborg van die geleentheid is.

Die magtige 570 Versatile-knaktrekker van Kanada is nuut in die land en saam met die 12 meter breë Kverneland CTC Maxi-beitelploeg met 32 tande het hy boere se oë laat rek.

 

Victor Kerslake van Tractor Warehouse vertel hoe werk die Agrex Kulo DDI-misstrooier, wat ’n ingeboude skaal en ’n reikwydte van 32 meter het. Die strooier word elektronies aangedryf en kan in die ry aan- of afgeskakel word. Mario Posthumus het die tegnologies-gevorderde M9540 Kubota-trekker oor die land laat rol.

Equalizer-planters word in Suid-Afrika gebou vir Afrika-grond. Die veeldoelige SL-planter is geskik vir konvensionele, sowel as minimumbewerking en wys hier hoe word elke pit presies op sy plek geplaas.

 

Die Finse Valtra-trekkers van Valtrac met hulle verskeidenheid kleure, was weer pragtoonbeelde van nuttige ingenieursvernuf. Een van die eienskappe van die groter Valtra-trekkers wat werk op die plaas makliker maak, is dat die operateur se sitplek en werkstasie kan omswaai sodat die trekker ook agtertoe kan werk. Dit is veral nuttig vir sny- en optelwerk. 

 

Lemken se Gigant 10 is ’n draer wat gebruik word om die werk nog vinniger en wyer gedoen te kry deur twee werktuie langs mekaar te dra. Die Gigant het met twee Rubins by Val gewerk en die boere was verbaas om te sien hoe 90% van die plantmateriaal onder die grond verdwyn.

Winkelhaak Verspreiders het tien depots rondom Pretoria en regoor die oostelike dele van die land. “Ons verkoop ongeveer 20-miljoen liter brandstof per maand en so 60% van ons mark is boere,” sê Nico van Wyk, die groep se bemarkingsbestuurder. Links van hom staan Flip Ras, bestuurder van die Balfour-tak.

 

StanSaPro van Standerton mag maar met hulle oorspronklike planne spog. Nadat die slim ingenieurs van groot plantermaatskappye hulle produkte in die mark gestoot het, is daar altyd iets waarop StanSaPro se mense kan verbeter. Juan Jansen van Rensburg, streeksonderdelebestuurder, wys hoe jy ’n planter sonder koppelaar kan laat werk deur hulle kontakdryfeenheid bo elke wiel te monteer sodat dit geaktiveer word sodra die planter begin beweeg. Die eenheid dryf dan die saad-, kuns-mis- en entstoftoedieningstelsels van die planter aan sodat die planter ligter kan loop en daar minder slytasie aan die onderdele soos die ratte en kettings kan wees. Stefan Jordaan is die verkoopsbestuurder. 

Onthou om Val Boeredag op jou kalender te merk. Dit is elke jaar op die eerste Woensdag in Julie.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0