UNIGRO aangewys as bobaas-makelaar in landbousektor

AFGRI-Logo
UNIGRO Versekeringsmakelaars, een van die sake-eenhede in AFGRI se finansiëledienste-portefeulje, is deur Mutual & Federal (M&F) vereer as die beste versekeringsmakelaar in die landbousektor. UNIGRO se takke op Bethal, Nelspruit, Delmas, Standerton, Balfour en Marble Hall het verlede maand op ‘n spesiale seremonie vir makelaars ‘n Goue Toekenning ontvang vir die gehalte van polisse wat hulle by M&F plaas.
Theo Potgieter, direkteur van Versekeringsdienste by UNIGRO, sê die toekenning weerspieël die gemoedsrus wat boere geniet met versekeringsprodukte wat spesifiek gemik is op die behoeftes van die landbousektor. “Ons bied versekeringsdekking, wat onderskryf word deur vooraanstaande korttermynversekeraars, teen skade weens hael, multi-risiko, wind, vervoer, brande, ryp, bate- en motorversekering” sê Theo.
Die toekenning word verwerf op grond van die gehalte van die polisse wat ‘n makelary by die onderskrywende versekeraar plaas. Versekeraars kwantifiseer hulle blootstelling aan spesifieke risiko’s en werk daarvolgens ‘n gepaste premie uit. As die premie nie die risiko ten volle dek nie, sal die versekeraar mooi dink voordat hy ‘n polis uitreik.
Net makelaars wat polisse met ‘n premie-inkomste van meer as ‘n sekere bedrag by M&F plaas, kwalifiseer vir die Goue Toekenning, sê Theo. Om die gehalte te bepaal van die polisse wat ‘n makelary by ‘n versekeraar plaas, weeg die versekeraar die bedrag wat aan eise uitbetaal word op teen die premie wat betaal word. Dit dui vir ‘n versekeraar aan of hy ‘n wins kan maak uit die bedrywighede al dan nie, verduidelik Theo. Eenvoudig gestel, beteken dit dat die bedrag aan eise wat uitbetaal is aan boere wat deur UNIGRO verseker is, nie meer was as die premies wat gevorder is nie.
UNIGRO Versekering se takke in Noord-Natal en die Vrystaat is by dieselfde seremonie vereer met Silwer Toekennings. UNIGRO Versekering het vanjaar vir die tweede opeenvolgende jaar die gesogte toekenning ontvang.
Uitgereik namens: UNIGRO Versekering