Trofeejag in Zambië weer 'n werklikheid.
Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PHASA) het die besluit van die Zambiese regering verwelkom om ’n verbod op trofeejag wat in Januarie 2013 ingestel is, op te hef. Groot katte sal egter eers op die jaglys aangebring word sodra ‘n akkurate opname van hulle getalle voltooi is.
In die opheffing van die verbod het die minister van toerisme en kuns, Jean Kapata, gesê die hervatting van die jag is bedoel om stropery te verhoed. Hy meen "die erosie van die eienaarskapgevoel en die waaksaamheidsverslapping oor diere, kan lei tot ‘n verslegting in die stroperytoestand."
"Die Zambiese Wildowerheid (ZAWA) het ‘n groot bedrag geld as ‘n gevolg van die verbod verloor. Dit moet ook in gedagte gehou word dat die vermindering van operasionele inkomste vir ZAWA ‘n stremming op die regering geplaas het, wat ZAWA se tekort moes dra,"het die minister in ’n berig gesê.
PHASA se uitvoerende hoof, Adri Kitshoff, het gesê die geval in Zambië toon dat die waarde van jag vir ‘n land se bewaringspraktyke eers opreg waardeer word wanneer dit nie meer daar is nie. "Jag en eko-toerisme is die enigste manier waarop gemeenskappe in bewaringsgebiede ‘n lewe uit die grond kan maak. Sonder jag sal die gemeenskappe geen waarde in wild sien nie en sal hulle in deurlopende konflik met die diere wees,"het sy gesê.
"Fotografie-toerisme op sy eie is nie genoeg nie, gegewe die beperking op gebiede waar digte wildbevolkings en natuurskoon voorkom. Jag komplimenteer eko-toerisme deur besoekers na die gebiede waar wild skaars is te lok, wat bykomende uitdagings aan jagtogte bied,"het sy gesê.
Alhoewel die groot katte nog nie op die Zambiese jagspyskaart is nie, is die regering se besluit, volgens mev Kitshoff, ‘n mosie van vertroue in die konsep van volhoubare benutting. "Ons hoop dat Botswana, wat die uitreiking van jagpermitte op openbare grond vroeër vanjaar gestop het, Zambië se voorbeeld sal volg," het sy gesê. "Waar jag in Suider-Afrika beoefen word, veral in Suid-Afrika en Namibië, floreer wild. Dit is omdat die jagbedryf aansporings skep om om te sien na wild, ‘n bykomende bron van inkomste vir bewaringspraktyke bied en as ’n afskrikmiddel teen stropery dien."
Bron: Nuusvrystelling