Toyota Hilux Raider Black: Taai is nou ook swart met die spesiale model

toyota hilux black
deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
Toyota het oor die jare heen etlike spesiale weergawes van verskillende modelle in hulle passassiermotorreeks asook die Hilux-bakkies die lig laat sien. By die vorige Hilux-modelreeks was daar byvoorbeeld die “Legend 45-” en “Dakar”-modelle om onderskeidelik die model se 45-jarige bestaansjaar en die vervaardiger se sukses in die uitmergelende Dakar woestynren te herdenk. Die spesiale modelle sorg ook vir ‘n mate van eksklusiwiteit wat weer bydra tot die gewildheid en herverkoopwaarde daarvan.
Die Hilux Raider Black is die nuutste toevoeging tot Toyota se reeks spesiale modelle wat in Suid-Afrika geloods is. Die nuwe weergawe is nie ‘n nuwe model nie, maar slegs ‘n spesiale model wat buite verfraai en met ‘n klompie ekstras in die kajuit gelaai is, om Suid-Afrika se gewildste bakkie nog meer aanlokliker vir kopers te maak – veral noudat Ford se Ranger soms die kollig van die Hilux steel.
Wat die black anders maak
Die “Black” is slegs beskikbaar met die vlagskip 2.8 liter turbodiesel enjin. Die nuwe generasie 2.8GD kragbron lewer 130 kW piekkrag met 420 Nm (vanaf 1 600 – 2 400 opm) maksimum wringkrag vir die handratmodel, terwyl die outomaties se wringkrag tot 450 Nm verhoog is binne dieselfde toerespan. Kopers het ‘n keuse van ‘n 6-spoed handratkas of 6-gang outomaties soortgelyk soos beskikbaar in die ander Hilux’e in die reeks.
Toyota het die “Black” in drie eksklusiewe bakkleurafwerkings beskikbaar gestel, naamlik Glacier White, Chromium Silver en Graphite Grey. Ons het die bekendstelling aan die voet van Tafelberg bygewoon en nademaals huis toe gery met ‘n outomatiese weergawe “Black” in Graphite Grey afgewerk vir ‘n week se padtoets.
Die “Black” se kajuit het aangenaam verras. Binnekant is die sitplekke in swart (hoe dan nou ook anders) leer afgewerk met silwer stikwerk, terwyl die bestuurdersitplek elektries verstelbaar is. Die sitplekke het heerlik gemaklik gevoel en grootliks bygedra tot die aangename rit op teer- en grondpad. Daar is ook etlike paneelinvoegsels met koolstofveselafwerking wat bygedra het tot ‘n gevoel van luuksheid in die algemene ambiaans binne die kajuit.
Standaardtoerusting vir die Raider “Black” sluit in onder meer ‘n 4,2” volkleur TFT multi-opsie raakskerm wat verskeie inligtingsblaaie op ‘n intuïtiewe en gebruikersvriendelike wyse beskikbaar maak. Bluetooth koppeling vir klank en telefoonkommunikasie, radio/cd klankstelsel asook die tru-kamera beelde en bestuursinfo word onder meer op die skerm vertoon. Die “Black” bied ook outomatiese klimaatbeheer as standaard. Die verstelbare stuurwiel bied skakelaars vir die klank, telefoon asook spoedbeheer. Viertrekmodelle kom standaard met elektroniese skakeling vir die 4×4 stelsel wat ook lae-strek en ewenaarslotte bied. Elektroniese hulpstelselsels vir heuwel op en af is ook standaard op die viertrekmodelle.
Die “Black” word ook standaard toegerus met Toyota se hele reeks aktiewe en passiewe veiligheidsbystandstelsels wat onder meer VSC en A-TRAC (op die 4×4’s) insluit. Die ligte bied ook ‘n outomatiese aan/af opsie.
Buite is die “Black”-modelle subtiel, maar tog treffend afgewerk om uit te staan bo die “normale” Hilux-bakkies. Die dak is in antrasietswart afgewerk. Die sierrooster en groot luginlaat in die voorste buffer is swart. Die kantspieëls en wielboogafwerkings is kleurgepas. So ook die deurhandvatsels.
Agter op die bak is die spesiale bakseiltjie en veiligheidsrolbalk ook in swart afgewerk. Pragtige 18’ allooiwiele en “Black”-insignia op die deure en agterklap plaas die seël op die spesiale Hilux Raider “Black” se afwerking.
Vir ‘n relatiewe klein pryspremie van R27 000 bo die gewone Hilux modelle bied die Hilux Raider Black uitstekende waarde inaggenome die ekstras wat as standaard met die “Black” ingesluit word. Wie weet, dalk help die nuwe “Black” om jou BEE-status te verhoog?
Pryse
Hilux Raider Black 2.8 GD-6 Raised Body 6gang handrat – R521 100 (BTW in)
Hilux Raider Black 2.8 GD-6 RB 6gang Out – R538 900
Hilux Raider Black 2.8 GD-6 4×4 6gang handrat – R585 300
Hilux Raider Black 2.8 GD-6 4×4 6gang Out – R604 300
Soos met ander Hilux-modelle, sluit die koopprys van die Hilux Raider Black n 3-jaar of 100 000 km waarborg asook ‘n 5-jaar of 90 000 km diensplan in.
Foto’s: Motorpress