Toyota bied afslagdienste vir alle voertuie ouer as 5 jaar

2007_toyota_hilux-pic-3938056767528069864
Die koste van voertuig-eienaarskap is nog altyd die kern van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) se strategiese fokus, sê die maatskappy in ‘n verklaring. TSAM glo dat voertuigonderhoud beide billik en betroubaar moet wees, ongeag of die voertuig vir persoonlike- of besigheidsgebruik aangewend word. Om hieraan te voldoen bied TSAM nou deur die bank verlaagde dienskoste vir Toyota-voertuie ouer as 5 jaar, ongeag ouderdom, model of afstandlesing, by alle handelaars in die plaaslike netwerk.
Hierdie aanbieding, genaamd Toyota Value Service (TVS), bied klante ’n gewaarborgde afslag van minstens 10% op alle onderdele, insluitende enjinverkoelingsmiddel, remvloeistof, ewenaarolie en ratkasolie, asook ’n vasgestelde arbeidstarief. Dít bied Toyota-eienaars die geleentheid om ’n volledige Toyota-diensrekord te behou en sodoende die voertuig se oorspronklikheid, veiligheid en betroubaarheid te verseker deur die uitsluitlike gebruik van egte Toyota-onderdele. In pas met Toyota se reputasie vir uitstaande vakmanskap, word dienste uitgevoer deur gekwalifiseerde tegnici wie se ondervinding gerugsteun word deur gevorderde diagnostiese toerusting.
Toyota Suid-Afrika se rugsteuning vir hulle produk en verbintenis tot billike onderhoudskoste in moeilike ekonomiese tye word hierdeur bewys. Buiten ‘n 12-maande waarborg op vakmanskap én onderdele, word TVS aan die hand van voorgeskrewe versieningskedules gedoen wat die inspeksie van veiligheidskritieke komponente asook alle roetine verstellings en smering insluit.
Danksy ’n aanlyn-kosteberekening wat beide voertuig- en handelaarspesifiek is, is die koste van ‘n Toyota Value Service beide voorspelbaar en deursigtig. Dié berekening verskaf volledige inligting ten opsigte van die onderdele, werkitems en koste vir die diensinterval gespesifiseer deur die klant. Die aanlynberekening is beskikbaar by www.toyota.co.za/valueservice en benodig slegs die voertuig se registrasie- of VIN-nommer. Klante kan ook hulle Toyota Value Service deur die gesofistikeerde MyToyota mobiele toepassing bespreek – die toepassing kan gratis afgelaai word deur die Google Play Store of Apple App Store.
Bron: Toyota Suid-Afrika Motors