Toptegnologie skitter by Nampo
Nuttige tegnologie vir die boer is ProAgri se kos en daarom het dié landboutegnologietydskrif se redaksionele span vanjaar weer by soveel as moontlik ou en nuwe vriende gaan inloer by Nampo, sodat hierdie uitgawe propvol Namponuus is. Hier is so ’n paar lusmakerbrokkies.
Claas
Claas se nuwe, uitgebreide uitstalling het vanjaar heelwat aftrek gekry, met veral die twee splinternuwe Arion-trekkers, die 630 en 650-modelle in die 100 tot 140 kW-klas, wat boere met groot belangstelling van alle kante af bekyk het. Die trekkers is die eerstes in die land met Vlak 4-Power Tech-enjins. Al die gerief en tegnologie wat in Claas se groot trekkers is, is ook in die 600-reeks beskikbaar. Michael Howell, Claas se verkoopsbestuurder, sê die ander groot pluspunt wat hulle op Nampo aan boere kon wys was die standaardisering van kajuitkontroles in al die verskillende toerusting. Hy sê: “As jy in die kajuit van ’n Claas-trekker klim, of in ’n Jaguar, of in ’n stroper, sy kontroles lyk presies dieselfde. Alles is gerieflik met armleuningbeheer en die werking is min of meer dieselfde.” Claas het oor die afgelope elf jaar meer as 250-miljoen euro spandeer aan die navor-sing en ontwikkeling van die nuwe trekkers en die maatskappy het ook verlede jaar die gesogte Trekker-van-die-jaar-toekenning by AgriTechnica ontvang.
Daar is ’n nuwe trekker uit Kanada en op die Suid-Afrikaanse mark. Versatile is die oudste knaktrekker in die wêreld, het ’n Cummins-enjin en ’n CAT-ratkas. Die indrukwekkende masjien weeg 24 ton, maar dit is volstrek nie ’n geval van net spiere en geen brein nie. Daarvan getuig sy outostuurgereedfunksie en sy hoofdrukstukbestuurstelsel (head gland management) waar jy slegs ’n knoppie kan druk om af te rat of die werktuig se wiele te laat sak of op te tel. “Hy is baie gewild in Kanada, Amerika, Kazakstan en Rusland en van vanjaar af kom hy Suid-Afrika toe,” sê Jakes Jacobs, landwye bemarker van die Versatile-trekker. Colin Bremner (op die foto) sê met so ’n bielie agter jou, kan boerdery net ’n plesier wees.
GSI is bekend vir sy graanhanteringsoplos-sings, maar by Nampo het hulle gewys hoe hulle ’n kitsgebou kan oprig om gebruik te word vir enige iets, van gewone bergplek, tot ’n fabriek en selfs behuising. Die boogstruktuur, of Arch Span Structure, word op die plek aanmekaar gesit en opgerig. Die staal word op 2-ton tolle op ’n platbakvragmotor, wat ook ’n hyskraan op het, aangery na die bouperseel. Die vragmotor sleep ’n wa waarin al die res van die bougereedskap is.
Op die perseel word die staal van die rolle af deur ’n masjien met 12 rollers gevoer om die boogprofiel te skep en dan help nog ’n masjien om die boog in die beplande radius te vorm. Die stroke geboë staal word dan aanmekaar geheg met ’n spesiale masjientjie wat bo en onder gelyk vasvat en die kante om mekaar buig en waterdig verseël. Xander Pieterse van ProAgri en Natasha Coleman van GSI staan by Nampo onder die boog wat 4 meter hoog is en so drie uur geneem het om opgerig te word. Dit is heeltemal moontlik om ’n struktuur van 10 meter wyd en 20 meter lank in ’n dag se tyd op te rig.
Brazseed verbeter marginale drakrag met 600%
“Wat het gemaak dat Brasilië binne 20 jaar die wêreldleier in vleisproduksie geword het? Hulle het eers hulle weiding gevestig en toe die beeste ingebring. In Afrika koop ons eers die beeste en dan bekommer ons ons oor weiding as dit ’n droogtejaar is.” So sê Gielie Nieuwoudt, bemarkingsdirekteur van Brazseed.
“Boonop het Brasilië destyds hulle gras in Afrika kom haal en sodoende binne 20 jaar 200-miljoen beeste sterk geword. Brazseed het nou weer die veredelde gras in Brasilië gaan haal en oor die afgelope 5 jaar het ons 50 000 hektaar in Suid-Afrika aangeplant. Dit is ’n meerjarige plant wat na die eerste 70 dae reeds vier beeste per hektaar kan kosgee, met ’n proteïeninhoud van 18,4 persent, ’n verteerbaarheid van 42%, ’n veselpersentasie van 28 en ’n energieinhoud van 8 kilojoules per 100 gram. Dit beteken dat ’n bees vir elke 2 kg gras wat hy eet, dieselfde gewig optel as wanneer hy 1 kg mielies sou eet,” sê hy.