Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Top landbouvroue van die Kaap gekroon

By 3 min read
570 words

Die Wes-Kaap se top vroulike ondernemers in die landbousektor is onlangs bekroon. Van trekkerry tot teevervaardiging maak die vrouens hulle merk.

Die kompetisie is ‘n vennootskap tussen die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die provinsiale departemente van Landbou en is al 16 jaar aan die gang.

Mnr Alan Winde, minister van ekonomiese geleenthede, het die wenners geluk gewens.

“Dit is gepas dat ons in Vrouemaand die vroue wat ‘n beduidende rol in ons landbousektor speel kan vereer. Al die deelnemers bied ‘n waardevolle bydrae tot voedselsekerheid, werkskepping en ekonomiese groei. Dit is veral belangrik om vroue in hierdie sektor, wat algemeen beskou word as manlike terrein, te vier.

“Die Wes-Kaapse Departement van Landbou is verbind tot die ontwikkeling van vroue in die sektor. Dit is ons doel om meer vroue te laat beweeg van bestaansboerdery tot die punt waar hulle in staat is om hulle produkte uit te voer. “

 Minister Winde het gesê vorige wenners is steeds besig om hulle ondernemings te laat groei.

 “Verlede jaar se wenner, Ilse Ruthford, wat ook die nasionale agri-verwerkingstoekenning losgeslaan het, is tans die aan die hoof van die finansiële bestuur van ‘n wynstoor wat dienste aan meer as 40 produsente lewer.  Ek was verheug om te hoor dat sy haar eie wynetiket later hierdie maand vrystel. Dit is die soort van stories wat ons nodig het om te vertel. “

Die volledige lys van wenners:

Beste Vroulike Werker – Maria Persens – De Fynne Kwekery, Klapmuts

Maria het in ‘n verskeidenheid afdelings van die kwekery oor die afgelope agt jaar gewerk. Haar sleutelrol is om die plantmateriaal wat De Fynne vir navorsingsinstellings kweek te versorg.

Beste Bestaansboer – Moyo Ons Khaya Gemeenskap Garden, Khayelitsha

Moyo Ons Khaya, gelei deur Tenjiwe Kaba, is ‘n gemeenskapstuin in Khayelitsha vir vroue wat met groente boer. Hierdie groep staan bekend vir uitstekende diens aan die gemeenskap en vir die inspirasie wat hulle vir ander inwoners bied.

 Top Entrepreneur op ‘n kleinhoewe – Eugene Simons, Algina Wholesale kwekery, Firgrove

Eugene het begin met ‘n klein onderneming in 2009; die vervaardiging van saailinge vir familie en vriende. Tans produseer sy byna 7 miljoen saailinge per jaar en het verskeie kontrakte met boere.

Top Entrepreneur Verwerking – Jessica Bonin, Lady Bonin se Tee, Kaapstad

Jessica het die onderneming in 2011 begin met ‘n mobiele teewaentjie om wegneem-tee te verkoop. Vandag is Lady Bonin ‘n internasionale handelsmerk. Die tee is handgemeng met organiese bestanddele, met behulp van resepte wat deur Jessica self ontwikkel word. Sy spesialiseer in wilde gewasse, biodinamiese en organiese Rooibos, Heuningbos en Boegoe-tee.

Top Entrepreneur Kommersieel (Provinsiale benoemde) – Ingrid de Waal, Canette Vallei, Stellenbosch

Ingrid is die enigste vroulike laventelboer in die Wes-Kaap. Sy lewer laventel vir vlutige olie, laventelblomme, gedroogde blomme en handgemaakte seep. Ingrid is ook die enigste persoon in Suid-Afrika wat rou laventelheuning produseer. Ingrid kook en verkoop ook tradisionele Kaapse moskonfyt.

 Ministeriële toekenning (Jeug) – Geraldine Theunissen – Wildekrans Wynlandgoed, Botriviervallei

Geraldine is een van ‘n paar vroulike trekkerbestuurders in die Wes-Kaap. Sy bestuur ‘n span manne op Wildekrans Wynlandgoed in die Botriviervallei. Die plaas het verskeie produksie-eenhede soos wingerdstok, sagtevrugte, olywe en skape.

Die nasionale kompetisie sal op 27 Augustus in die Durban gehou word. Provinsiale wenners van regoor Suid-Afrika sal meeding vir die nasionale toekennings, wat die algehele Nasionale Vroulike Entrepreneur-toekenning in sluit.

 

Agter: Eugene Simons (Kleinhoewe-ondernemer), Jessica Bonin (Verwerking) en Ingrid de Waal (Kommersieel)

Voor: Maria Persens (Beste Werker), Tenjiwe Kaba (Bestaansboere) en Geraldine Theunissen (Ministeriële Toekenning)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0