TLU SA: Dien die begroting Suid-Afrika werklik?

pravin gordhan
Mnr Louis Meintjes, president van TLU SA, sê sy grootste enkele probleem met die begroting is dat politieke doelwitte voorrang geniet en nie werklike ekonomiese doelwitte nie. “As ons werklik ekonomiese groei wil sien moet die begroting geskoei wees op private eiendomsreg, die vryemark en algemene gesonde ekonomiese beginsels.” Alles moontlik moet gedoen word om die ekonomie in ‘n sterk groeifase te kry, want dan kan armoede en werkloosheid verbeter word.
Die benadering om die ondernemers, wat juis die ekonomiese groei kan bewerkstellig, al hoe swaarder te belas is gevaarlik in die sin dat hulle sonder veel moeite hulle penne kan gaan inslaan waar dit meer vriendelik is om geld te maak.
Hy sê wat die landbou betref is dat daar net gepraat is oor die besteding aan kleinboere en opkomende landbou. “Dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar waar is die besteding aan kommersiële landbou wat die sleutel tot ons landbousukses hou? Baie word gepraat oor geld vir ontwikkelingsprojekte vir kleinboere, maar nooit word gemeet watter bydrae dit tot die ekonomie lewer nie.
“As een boer ’n pampoen teen R5 produseer en ʼn ander moet nog geldelik gehelp word om dit teen R20 te produseer, maak dit mos eerder ekonomiese sin om die pampoenproduksie by die eerste boer te laat en die geld op ’n ander manier tot voordeel van die tweede een te bestee.”
Die bykomende brandstofheffing is nie vir landbou positief nie en waar daar na die ernstige droogte gepoog word om herstel te bewerkstellig, sal die bykomende koste in die produksieproses net die proses nog meer bemoeilik.
Meintjes sê daar is nie geld om grondhervorming te versnel soos die politici wil sien nie. “Dit laat vir my die gevaarligte flikker oor al die uitsprake van onteiening sonder vergoeding.”
Alvorens daar nie werk gemaak word om die korrupsie en diefstal uit die staatskas te stuit nie, sal geen begroting enigsins tot Suid-Afrika se opbou kan dien nie.
Bron: TLU SA