Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 21st October 2022

Tien weglooposse, ‘n visioen …en vye-jenewer

By 9 min read
1705 words

gaby-yerden-GEntNW9V0Qg-unsplash

deur Tisha Steyn

Wat het tien osse gemeen met vyejenewer wat internasionale toekennings opraap? Alles. Want die tien wegloop-osse het in die laat 1880s op ՚n wonderbaarlike manier daartoe gelei het dat die Barnards in Waboomskraal beland het.

“As dit nie vir die osse was nie, was ons dalk vandag nie hier nie,” sê Dean Barnard, vyfde geslag Barnards wat in die Geelwalle-omgewing in die skilderagtige Waboomskraalvallei boer. Die Barnards was van oorgrootoupa Andries se tyd in die laat 1800s tot vandag planmakers. Dean, wat in 2004 saam met sy pa, Deon, begin boer het, is ՚n ware ՚n boere-ondernemer. Hy sien ՚n geleentheid en gelei deur gebed, voeg hy waarde toe tot alles wat die rykdom van die aarde bied.

Met hierdie distilleertoerusting ontwikkel Dean Barnard sy resepte vir
pryswenner-jenewers.

Groen-goud

“My voorouers het in die 1880’s in die Jonkersberg onder kontrak stinkhouten geelhoutbome gesaag,” vertel Dean. “Hulle was togryers in die Sinksabrugomgewing. Hulle het tien osse gehad en my pa Deon onthou nog die name: Tottie, Shortie, Regter, Roos, Skulder, Matroos, Dapper, Stap, Toldraai en Lap.

Die osse se name het verwys na een of ander eienskap van die osse wat uitgestaan het, so Skulder verwys eintlik na Nederlands schouder (shoulder). Maar laat ons nie nou ingaan op Tottie se naam nie …”

Dean vertel: “Op ՚n dag het die tien uitgespande osse weggeraak. Hulle is later bo-op Platberg gevind waar Highlands Lodge vandag is. Uit die hoogte het oorgroot-oupagrootjie Andries ՚n mooi klomp stinkhout- en geelhoutbome gesien, wat tot die belangrike besluit gelei het om grond in Waboomskraal te koop.

Die aarbei-en-sjokolade-jenewer het al gesogte toekennings ontvang, net soos die vye-en-swartpeper-jenewer.

Uiteindelik het hulle met die geld wat die hout, of groen-goud, verdien het, driekwart van die grond in die vallei vir 1 200 pond ‘op skuld’ gekoop. In 1912 het hulle die eerste plase in Waboomskraal gekoop en begin ontbos en ontwikkel. Vandag boer hier nog vier Barnard-broers, naas Deon en Dean, ook Deon se broers, Sakkie en Fanie. Die bome is afgesaag en bo van Platberg af in die rigting van George afgerol. Vir die doel is slote gegrawe en na die bome met treksae afgesaag is, is dit met die span osse tot bo-op Platberg gesleep en teen die berghang afgerol, waar die bosboudepartement dit in ontvangs geneem het. “As mens weet waar om te kyk, is die sleeppaaie nog sigbaar,” sê Dean.

Die hout is op die wa gelaai en na Swellendam geneem. “Met die geld is twee maande se kruideniersware gekoop; die res van die geld is gebruik om die plase af te betaal by ՚n prokureur op George.” Volgens oorlewering het een van die Barnard, broers, Marthinus, wat blind was, saam met ՚n werker, Jakob, die Montagupas te voet aangepak om die geld by Raubenheimers te gaan inbetaal. Teen 1930 was die plase grotendeels afbetaal.

Die Barnardfamilie. Van links, Carla Barnard met klein Israel Ellis op haar
skoot, Deanca en Wean, Carla en Dean se kinders, Zak Ellis, wat oupa
Izak se naam dra, Jeanine, Dean se suster wat agter haar man Cornel
Ellis staan, met hulle dogtertjie Matilda op sy skoot, en agter staan pa
Deon met Dean heel regs, en sy ma Mariana voor met die koeke
.

Waboomskraal

Waboomskraal, destyds as Wagenboomskraal bekend, kry sy naam van die protea-spesie wat in die volksmond as waboom bekend is omdat dit in die tyd van waens gebruik is om wielsparre en remblokke te maak. Die ‘kraal’ verwys na die Outenikwaberge wat die vallei feitlik omring. Die plaas se naam Kouwdouw verwys na die koue mis wat van die berge af in die vallei afsak en die dou wat dan oor die landskap lê. Deon is in 1955 op Waboomskraal gebore.

“Daardie jare was die boerdery maar primitief – hier was nie trekkers en vragmotors nie, net die ou Chev- en Ford-lorrietjies van vyf tot sewe ton wat die vrugte en groente na varsproduktemarkte in Port Elizabeth en Epping in Kaapstad aangery het. Hier is tot druiwe geplant … en die Barnards vat dit nog verder met aanplantings van neute. “Destyds is hier appels en perskes geplant wat aan die Langeberg-inmaakfabriek op Mosselbaai gelewer is. Groente soos tamaties, aartappels, uie, kool, skorsies en pampoene, is Maandae en Woensdae op tot 13 lorrietjies gelaai en mark toe gevat.”

Met verloop van tyd het groenteboer-dery begin afneem namate groente-boere nader aan die markte die oorhand gekry het; vervoer was duur en dit was het nie meer betaal om groente so ver aan te ry nie. Die boerderye in die ryk vallei het baie werk geskep en werkers is van Dysselsdorp tussen Oudtshoorn en De Rust aangery. Met verloop van jare het die werksgeleenthede afgeneem tot seisoenwerkers. Die vallei het goeie koue-eenhede wat belangrik is vir vrugte en hier is

baie water. Die afgelope paar jaar word hier ook kiwi-vrugte geplant wat baie goed aard.

Hop, wat gebruik word vir die maak van bier, word
feitlik eksklusief in Waboomskraal verbou. Die
plante groei tot agt meter hoog.

Hop

Die vallei is die suidelikste plek in Afrika waar hop verbou word, want dit aard net tussen die 40 en 45 noord- en suid-breedtegraad. Naas die ligging, maak die gematigde wind, reënval, koue winter en lang, warm somerdae die vallei geskik daarvoor. Hop het ook tussen 450 en 500 mm water per jaar nodig en die vallei se reënval was nog altyd bestendig, buiten in erge droogtetye. Hopverbouing het in 1935 begin toe die Fernridge-proefplaas in George begin het en die landboudepartement die botanis, Ernest Baker, aangestel het om met proefnemings te begin.

Daar was in ՚n stadium 28 plase waar hop verbou is, maar teen 2015 het dit afgeneem tot agt boere, waarvan sewe in die vallei was en een in George. Tans is daar net sewe oor. Dean vertel sy oupa Izak het in die Geelwalle-gebied met groente geboer. In die 1900s het hulle ook met ko-ring, groente en melkkoeie geboer en hulle inkomste aangevul met die pluk van besemgoed, oftewel fynbos, wat in die berge gepluk is en in Oudtshoorn verkoop is om besems van te maak. Later het Deon perskes geplant, en in 1983 ook op die hop-wa geklim. Vandag is al die dele van die plaas wat daarvoor geskik is onder hop, wat ses maande van die jaar intensief verbou word.

Feitlik al die hop wat in die vallei verbou word, word aan SA Brouerye verkoop. In ՚n stadium het die Barnards ook rooi Angusse aangehou, maar dié moes hulle weens die droogte verkoop. Die lusern wat hulle aangeplant het, het nie so goed gevaar nie, en in 2016 het hulle begin pekanneute plant. Vandag het hulle sowat sewe hektaar daarvan wat volgende jaar in produksie gaan kom. In 2017 het hulle pruime geplant, wat steeds uitbrei, terwyl hulle nou ook amandels verbou. Die plan is om die neute aan ՚n maatskappy in Hartswater te verkoop, maar vorentoe kan hulle self die neute verwerk. In ՚n stadium het hulle ook vye aangeplant, maar die boorde is in 2019 uitgebrei na amandels, wat ook volgende jaar in produksie kom.

Huwelike word in Waboomskraal se klipkraal bevestig.

Vrugte-in-‘n-bottel

“Omdat net die helfte van die vye uitgevoer kan word en ‘n mens min geld kry vir Graad B-vrugte, het ons besluit om ‘vrugte-in-՚n-bottel te begin verkoop,” sê Dean. In ՚n stadium het sy ma, Mariana, tot 14 000 bottels konfyt per jaar gekook. Die gedagte van vrugte-in-՚n-bottel het gegroei. “Een Oujaarsaand het ons lekker gekuier en ek het vir die eerste keer jenewer gedrink. Net daar het ek besluit om self jenewer te begin maak.” In Januarie die volgende jaar het hy vir ՚n kursus ingeskryf om die beginsels van jenewerproduksie te leer.

“Teen April het ek my eerste resep vir sjokolade-en-aarbei-jenewer geskryf, en in Desember my tweede resep, dié keer vir vye en swartpeper.” Die geheime resepte en bestanddele word by ՚n boetiek-jenewerdistilleerder op Mosselbaai gelewer waar die jenewer distilleer word. Slegs ՚n beperkte aantal bottels word gemaak.

In Waboomskraal se onthaalsaal word tot 47 troues per jaar gehou, van
formeel tot informeel.

Visioen

“Daar word altyd gesê ՚n mens kan van enigiets sap maak, buiten avokado’s, piesangs en vye …” Dean het begin eksperimenteer met die onttrekking van sap uit vye. “Vir die eerste probeerslag het ek net vyf liter sap uit sowat 400 kg vye gekry,” vertel hy. Baie bid en probeer, maar een nag het hy ՚n visioen gehad waarin hy presies gesien het hoe hy moet maak.

In ‘n stadium is hier naas aartappels, tamaties, graan, lusern en verskeie groentesoorte ook uie verbou. Hier wys Johan Barnard, ‘n neef en voorman op die plaas, die reuse-uie.

“Die Here het vir my gewys presies hoe om sap uit die vye te kry.” Die volgende oggend was hy al douvoordag by die kombuis waar hy sy resepte ontwikkel. “Toe ek probeer om sap te onttrek soos wat ek in my visioen gesien het, het ek sewe liter sap uit 20 kg vye gekry!” Die jenewer word onder die naam 10 Oxes bemark, en elkeen is vernoem na een van die tien osse. Die gewilde vyeen-swartpeper-jenewer, wat al talle nasionale en internasionale toekennings verower het, heet Skulder. “Ons beplan om later ook brandewyn en whiskey te maak, en elkeen van die produkte sal ՚n os se naam dra.” Dean is nog geheimsinnig oor die maak van jenewer van vars hop. Dit is moeilik om met vars hop eerder as die gedroogde keëls wat gewoonlik in bier gebruik word, te werk.

“Die vroulike plante se blomme moet binne vier uur en onder koel omstandighede verwerk word, anders verlep dit en die geur verander.” Maar soos die aarbeie-en-sjokolade-, en vye-en-swartpeper-jenewer, gaan hop-jenewer ook uniek wees.

Naas pruime Waboomskraal deesdae ook pekanneute en amandels.

Oppie Plaas Venue

Hulle het die Oppie Plaas Venue in 2010 geskep waar 35 tot 47 troues per jaar gehou word. Die huwelik word in die ou klipkraal met sy houtstompe met kussings voltrek, voor die gaste aanstap na die lokaal waar 250 gaste met gemak kan aansit vir heerlike kos uit die kombuis.

Vir meer inligting, kontak Dean Barnard by 072-996-1668 of stuur ՚n e-pos na info@oppieplaasvenue. co.za of besoek die webtuiste by https://oppieplaasvenue.co.za/

Verwysingsbronne Steyn, T. (2015) Bakermat van bier se bitter. Netwerk24 https://www.netwerk24.com/ netwerk24/bakermat-van-bier-sebitter-20150828 Van Wyk, A. (2019) Die Barnards van Waboomskraal (en die geskiedenis van 10 trekosse) SSK Wenakker Nuusbrief, Desember 2019 https://www.ssk.co.za/wp-content/ uploads/Dec-2019-Wenakker.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0