Tien goed wat jy van varkpes moet weet

vark
Die Dieregsondheidsforum het varkboere gewaarsku om op die uitkyk te wees vir Varkpes. Dit is baie belangrik dat varke nie kombuisafval gevoer sal word nie en varke moet net van betroubare bronne aangekoop word.
Varkpes kom voor in vlakvarke, bosvarke en ander wilde varke in die Varkpes-beheerde gebiede van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die noordelike gedeeltes van KwaZulu-Natal en in ander suider-Afrika lande.
Plaas – en wilde varke en hul produkte mag nie verwyder word uit gebiede wat met Varkpes besmet is nie, omdat dit ‘n gevaar inhou vir die varke in die res van die land. Varkpes is ‘n siekte wat varke siek maak en die meeste doodmaak. Daar is geen medikasie beskikbaar vir Varkpes nie, maar dit tas nie mense aan nie.
Varke kan Varkpes opdoen as hulle in kontak kom met ander siek varke of as hulle beweeg in die gebiede waar siek varke was. Varke kan dit ook van wilde varke kry, asook van die mis van wilde varke in die Varkpes-beheerde gebiede.
Varke kan ook Varkpes kry as hulle kombuisafval, afval en afval-vleis eet van siek varke of varke wat in kontak was met besmette vleis van siek varke. Die Wet bepaal dat kombuisafval gekook moet word voor dit aan varke gevoer word. Dit word gedoen om varke teen siektes te beskerm.
Varke met Varkpes toon die volgende simptome:
- Varke will nie eet nie.
- Hulle sukkel om asem te haal.
- Dragtige varke kan aborteer.
- Die ore, neus, maag en bene mag rooi raak.
- Die varke vrek baie gou, binne twee tot tien dae.
Varkpes versprei baie vinnig tussen siek en gesonde varke en omtrent al die varke in ‘n kudde mag binne twee tot tien dae vrek. Party varke word siek, maar gaan nie dood nie. Hulle word nog steeds as gevaarlik beskou omdat hulle ander varke siek kan maak. As jy vermoed dat jou varke of iemand anders se varke Varkpes mag hê, moet jy die Staatsveearts onmiddellik in kennis stel. Die varke sal dan getoets word en besmette gebiede of kuddes sal onder kwarantyn geplaas word om te verhoed dat dié dodelike siekte versprei.
Varke met Varkpes onder lede moenie verkoop word nie, want die siekte sal versprei en nog baie ander varke doodmaak. Moenie varke op veilings of by spekulante koop wat nie kan bewys dat die varke gesond is nie. Moenie varke koop of verkoop as daar Varkpes in die gebied is nie. As jy twyfel, kontak jou Staatsveearts vir advies.
Bron: RPO Bulletin