Categories: NewsPublished On: 1st September 2017

Swak La Nina-toestande is moontlik in die tweede deel van die somer

By 3 min read
591 words

reen wolke

Huidige toestande

Ligte reën het in die tweede gedeelte van Augustus 2017 oor die oostelike en noordoostelike dele van die Somerreënvalgebied begin voorgekom wat die eerste somerreënval is. Verdere ligte neerslae het ook oor die Wes- en Suidkaap voorgekom maar dit is steeds nie voldoende om die droogte te breek nie. Augustus 2017 is gekenmerk deur baie sterk en aanhoudende winderige toestande oor die grootste deel van die land wat “normaal” is vir Augustus. Dit is tekenend van die oorgang van seisoene met koue fronte wat baie vinnig oor die land beweeg het.

Die volgende is kritiese risiko’s waarna opgelet moet word vir September:

  • Droogtetoestand van wintergrane en veral koring in die Wes-Kaap
  • Die gevaar vir ryp en koue toestande vir koring en vrugte in veral die binnelandse produksiegebiede soos die Noord-Kaap se besproeiingsgebiede.

Somergewasaanplantings gaan eers vanaf Oktober begin plaasvind.

El Nino en Indiese Oseaan

Nuutste voorspellings dui steeds dat neutrale of gemiddelde see-oppervlaktemperature in die Sentrale Stille Oseaan gaan heers tot ten minste die einde van 2017.  Daar is egter voorspellings wat begin neig na swak La Nina-toestande in die tweede deel van die somer. Indien dit gebeur lyk dit byna na dieselfde patroon as in 2016/17.

Die belangrike Indiese Oseaan see-oppervlaktemperature neig ook na neutrale of gemiddelde toestande alhoewel dit nog baie vroeg is in die seisoen en vinnige veranderings nog kan plaasvind.

Reënval en temperatuur:  

Somerreënvalgebied

Min reën word verwag oor die grootste deel van die Somerreënvalgebied vir September en die eerste gedeelte van Oktober. Voorspellings dui egter dat toestande baie kan verbeter vir reën oor die sentrale tot oostelike dele van die Somerreënvalgebied vanaf die tweede gedeelte van Oktober 2017 (accuweather.com). Op hierdie vroeë stadium lyk dit asof meer as 50 mm kan voorkom in Oktober oor die grootste deel van die Somerreënvalgebied met die uitsondering van die verre westelike en noordwestelike dele van die Noord-Kaap.

Koue nagte met ryp is steeds moontlik tot in die tweede deel van September oor veral die sentrale tot suidelike dele van die binneland.

Winterreënvalgebied

Kort- tot mediumtermynvoorspellings dui daarop dat reën wel nog kan voorkom rondom die tweede en laaste week van September.  

Opsomming

  • Die neiging weg van El Nino duur voort en daar begin nou ‘n kans ontwikkel vir swak La Nina-toestande in die tweede deel van die somer. Indien dit gebeur lyk die patroon baie dieselfde as in 2016/17.
  • Dit lyk asof die reënvalvooruitsigte vir die grootste deel van die somerreënvalgebied begin verbeter teen die tweede deel van Oktober. Huidige voorspellings dui op neerslae van meer as 50 mm vir die tweede deel van Oktober.
  • Alhoewel daar ten minste nog drie reëngebeurtenisse in September vir die Wes-Kaap voorspel word, begin die kanse vir genoegsame reën om die ernstige droogte in die Wes-Kaap te breek verswak met die reënseisoen wat einde se kant toe staan.
  • Met die reën wat nog in September in die Kaap se wintergraangebied behoort voor te kom, kan dit betyds wees om nog ‘n positiewe invloed op veral die koringoes uit te oefen.
  • Tans lyk dit nie of baie laat ryp oor die binneland gaan voorkom nie maar die gevaar bly bestaan want die gemiddelde uittreedatum vir ryp oor die sentrale tot suidelike binneland is maar eers teen die einde van September.

Die inligting vervat in hierdie verslag word op eie risiko gebruik en die opsteller/Santam of enige ander persoon/instansie genoem in hierdie verslag neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid/interpretasie van inligting vervat in hierdie verslag nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0