Só skep Kverneland ՚n droomsaadbed

created by dji camera
created by dji camera
Die diepste droom van enige saadkorrel of -pit is ՚n eenvormige, snoesige saadbed waarin hy in knus kontak met die grond kan ontkiem en sy wortels behaaglik kan uitstrek om volle gebruik van voedingstowwe in die goeie grond te maak sodat hy tot ՚n geil gesonde plant kan ontwikkel wat vir die boer hope wins in die sak besorg.
So ՚n perfekte saadbed is wat Jupidex se Kverneland Enduro Pro vir die boer skep – vinnig, flink en bekostigbaar. Of jy vlak of diep wil bewerk, Enduro is steeds jou antwoord en boonop geniet jy die toegewyde ondersteuning van Jupidex se kundiges en rotsvaste na-verkoopdiens wat jou immer doel-treffend en voorspoedig aan die boer hou.
Boonop kry hierdie werktuig ook ‘n 24-maande waarborg nes ander Kverneland werktuie. Dit is mos nou diens! Hierdie waarborg is geldig vanaf die afleweringsdatum en is slegs beskikbaar op produkte wat na 2022 vervaardig is. Om te verseker jou werktuig bly onder waarborg, moet dit op eenjarige ouderdom geïnspekteer word. Die inspeksie bevestig dat jy mooi na jou Kverneland-toerusting omsien en en dat enige probleem wat opduik ‘n fabrieksfout is wat Jupidex sal noop om spoedig op te tree om dit reg te stel.
Kverneland se ploeë en ander toerusting het geen bekendstelling by SuidAfrikaanse boere nodig nie en bied boere sommer van die wegspring af ’n belangrike voordeel omdat Kverneland se toerusting uit unieke staal vervaardig word, en deur ‘n gepatenteerde koolstofinduksieverhardingsproses gaan. Kragtige en doeltreffende werkverrigting is sinoniem met Kverneland se Enduro-grondbewerkingsreeks.

Die Enduro Pro neem doetreffendheid en tydbesparing na die volgende vlak met sy hoëspoed bewerking asook die eenmalige verstelling en die verskeidenheid bewerkings wat op een slag gedoen word. Die Enduro Pro werk tot 35 cm diep en het ՚n dubbelparallelo-gramrollerskakeling wat in die ry hidroulies verstel kan word om die werkdiepte te verander. Hierdie grondbewerkers is geskik vir ՚n wye reeks toestande, veral vir stoppelbewerking en vir bewaringsbewerking, om jou grondstruktuur te bevorder en grondvog te bewaar.
Hoë gehalte grondbewerking en werkverrigting teen hoë snelhede
Die uitdaging om doeltreffend in lang en digte plantreste te werk is deeglik in ag geneem met die ontwerp van die Enduro-reeks om optimale grondbewerking en die beste vermenging te verseker. Die Enduro-modelle se 320 mmboutvlerke verseker eweredige snywerk oor die hele werkwydte, selfs wanneer die masjien vir vlak werk verstel word. Dit is beskikbaar met die Knock-on-opsie, wat beteken dat die punte woerts-warts met ՚n gewone hamer vervang kan word.
Die grondvryhoogte is 870 mm en die tussenbalkspasiëring (eerste, tweede en derde ry tande) is 750 mm uit mekaar geplaas om blokkasievrye werking in verskillende toestande (mielies, sonneblom, koring, kanolastoppels of ander groot gewasse) te verseker. Die Enduro Pro se tande is tussen 275 mm en 285 mm uitmekaar geplaas en so aan die raamwerk gemonteer om egalige grondvloei te verseker.
- Bewerking van die grond
Die Kverneland Enduro Pro bied ՚n konfigurasie van drie rye verspringende tande aan ՚n gemonteerde of sleepbare raam. Dit bied lekker vermenging en afronding van die grond sonder die risiko van verstopping.

Die sleepbare Kverneland Enduro Pro-T in aksie.
Die toets lê in die tand: Nuwe Triflexfunksie vir verbeterde indringing en vermenging
Een van die grootste voordele van Kverneland se Triflex-tande is die feit dat die ratse, elastiese hol tand sy pad deur die grond oopvibreer om beter bewerking teen ’n laer koste en ‘n hoër spoed te bewerkstellig. Die veerkragtige tand kan 7 cm van kant tot kant meegee om verby versperrings soos klippe te spring met ‘n outomatiese wegbreek van 700 kg. Die veerkragtigheid van die tand absorbeer ook skokke. Die tweede voordeel is die unieke en spesiale ontwerp van die tande, wat twee werksones tot gevolg het. Van die punt van die tand tot by die eerste hoek is slegs 33 grade, wat goeie indringing en losmaak verseker. Die tweede sone het ‘n hoek van 73 grade wat doeltreffende en homogene vermenging van die bogrond bied sonder om kluite na die oppervlak te lig.
- Gelykmaak van die grond met die skottels
Die Kverneland Enduro Pro bied die opsie tussen gelykmaakskare of gelykmaakskottels. Die Enduro Pro se tweede parallelogram in die gelykmaakstelsel verseker ՚n konstante werkhoek, selfs wanneer die diepte aangepas word. As alternatief vir die agterste dubbelroller op die Pro-weergawe kan ‘n drievoudige vingerhark gemonteer word of ‘n volgende hark saam met die rollers aan die agterkant van die werktuig gekoppel word om die grond netjies gelyk te maak en om onkruidontwikkeling te stuit.
- Herkonsolideer jou grond
Die laaste stap van grondvoorbereiding is herkonsolidasie van jou grond, wat in eerlike Afrikaans beteken om die grond lekker ferm vas te trap sonder om dit te verdig. ՚n Vlak, weerbestande saadbed is die geheim tot die finale afronding – wat uitloging van kunsmis verminder en jou grondvog bewaar. Die dubbelrollers wat agterna kom, verseker ՚n konstante werkdiepte, en daar is ook ՚n wye reeks rollers beskikbaar om aan elke boer se behoeftes en vereistes te voldoen.
- Die unieke Triflex-ontwerp van die tande.
- Die Enduro Pro werk so: Eerstens maak die tande die grond los, daarna maak die skottels die grond gelyk en laastens word die rollers ingespan om die grond lekker ferm en kluitvry vas te trap – en dit alles in een flink bewerking.
Enduro Pro T-sleepmodel
Benewens die driepuntgemonteerde modelle, bied Kverneland ook sleepmodelle. Die Enduro Pro T sleepmodel het ‘n werkwydte van 4 tot 5 meter. Die sleepmodelle is 3-ry, sleepbare en opvoubare grondbewerkers. Die sleepbare Enduro voldoen aan die behoeftes van kommersiële mediumgrootte boerderye. Die tande is ongeveer 280 mm uit mekaar gespasieer met ՚n hoë onderbalkvryhoogte van 870 mm, wat goeie grondvermenging tot gevolg het sonder die risiko van verstoppings. Soos met al Kverneland se toerusting, is die verstellings eenvoudig.
Die dieptebeheerwiele tesame met die verstelbare agterrollers verseker ՚n egalige werkdiepte en hou die tande sekuur op koers deur die grond. Twee verskillende rame is beskikbaar. Die langer weergawe (+450 mm) kan ook met Actipress Twin- of Double Cage-agterrollers toegerus word. Kom kyk self vanjaar by NAMPO na die indrukwekkende reeks Kvernelandgrondbewerkers en ander toerusting.
Kverneland maak boer pure plesier, want met Kverneland weet jy jy gee jou saad die beste kans om die beste opbrengs te lewer. Boonop kan jy jaar na jaar reken op Kverneland se ongelooflik streng gehaltebeheer en toerusting en Jupidex se flink span handelaars se skitterende kundigheid en diens.
As jy meer wil weet oor Kverneland se reeks werktuie vir alle toepassings, kontak Jupidex by (+27)33- 386-3574 of stuur ՚n e-pos na info@ jupidex.co.za, of besoek hulle webwerf by http://www.jupidex.co.za.

