Slanke nuwe Mitsubishi Outlander bied ongeëwenaarde weelde

mitsubishi-outlander_099_1800x1800
Mitsubishi se gewilde nutsmotor, die Outlander, is hersien en pronk met ’n vars nuwe voorkoms en ’n aantal binneruimverbeterings. Die Outlander is een van Suid-Afrika se gunsteling-weeldeleefstylvoertuie en die jongste verbeterings maak dit ’n selfs nog aantrekliker pakket as voorheen.
Die nuwe Outlander het Mitsubishi se Dynamic Shield-ontwerpbehandeling ondergaan wat hom ’n fris en lynerige nuwe voorkoms gee. Mitsubishi se nuwe ontwerpbenadering – wat onlangs in Suid-Afrika in die nuwe ASX-model onthul is – gee die nuwe Outlander ’n stylvoller en meer doelgerigte voorkoms.
Die fokuspunt van die Outlander se nuwe voorkant-ontwerp is die kenmerkende Mitsubishi-kenteken wat in die middel net bokant die sierrooster sit. Twee stroke chroom strek van die buitenste randjie van die ligdiode-kopligte af waar hulle skerp afwaarts swenk en om die onderste misligte vou. Die uitwerking is nogal treffend en skep die kenmerkende voorkoms wat deur dié vervaardiger se nuwe Dynamic Shield-ontwerp beklemtoon word.
Die toevoeging van chroomhoogtepunte om die herontwerpte sierrooster gee die nuwe Mitsubishi Outlander ’n meer verfynde gevoel – die voertuig lyk steeds fris en taai, maar die nuwe chroomdetail dui op die Outlander se status as weelde-nutsmotor.
Agter steel die Mitsubishi-kenteken reg onder die agtervenster weer die kollig. Die chroomdetail om die stertligte is slim gestileer om die indruk te skep dat hulle ook die Mitsubishi-kenteken omring. Dié subtiele effek vul die fris Dynamic Shield-ontwerp aan die voorkant aan.
“Die Mitsubishi Outlander is ’n luukse leefstylvoertuig in elke sin van die woord,” sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors. “Hy is ruim, gemaklik en stylvol met al die toerusting wat klante in ’n voertuig van hierdie gehalte verwag. Die nuwe ontwerp-benadering gee hom ’n fris en vars voorkoms wat die Outlander se vermoë behoorlik ten toon stel.”
Uitmuntende weelde en gemak, wat hom ’n top-sewesitplekker in sy klas maak
Die Outlander is teen 4 695 mm merkbaar langer as sy onmiddellike mededingers, wat ’n ruimer en weeldiger kajuit tot gevolg het. Hierdie bykomende ruimte, tesame met ’n vernuwende kajuit-uitleg, plaas die Outlander aan die bopunt van sy segment onder voertuie wat sewe sitplekke bied.
Die Outlander se sewe sitplekke, wat oor drie rye strek, bied skitterende gemak en eindelose laaimoontlikhede. Die tweede en derde ry kan heeltemal platvou, wat ’n indrukwekkende hoeveelheid laairuimte beskikbaar stel.
Die leersitplekke is met die oog op lang ritte ontwerp, en die derdery-passasiers het oorgenoeg ruimte danksy die Outlander se ruim kajuit. Die sitplekke in die tweede ry kan 250 mm vorentoe skuif, wat toegang tot die derde ry van enige kant van die voertuig af vergemaklik. Die Outlander pronk ten spyte van sy ruim afmetings met ’n draaisirkel van net 5,3 m wat merkbaar beter as dié van sy mededingers is.
Die nuwe Outlander is met ’n indrukwekkende Rockford Fosgate-klankstelsel toegerus wat nie minder nie as nege luidsprekers, ’n sterk agtkanaal-klankversterker van 710 W en ’n diepbasluidspreker inspan om die volmaakte sitkamerklankervaring vir al die insittendes te bewerkstellig.
Daarbenewens bied die Mitsubishi Outlander die agterste passasiers ook ’n wegvoubare negeduim-DVD-speler in die dak wat duidelik uit al die sitplekke in die tweede en derde ry gesien kan word. Die insittendes kan die klank deur die Rockford Fosgate-stelsel gelei of met koordlose infrarooi-kopstukke daarna luister.
Die Outlander is in pas met Mitsubishi se reputasie vir omvattende toerusting van ’n volledig verstelbare veelfunksie-stuurwiel met ratwisselpedale en toegang tot stembeheer- en handvrye Bluetooth-telefoonwerking voorsien. Die raakskerm vir die klankstelsel is baie gebruikersvriendelik terwyl ’n afsonderlike vertoonskerm verseker dat alle voertuiginligting in ’n oogopslag vir die bestuurder beskikbaar is.
Nog iets wat ’n bydrae tot die ruim atmosfeer in die Outlander se kajuit lewer, is sy glassondak, terwyl toerusting soos outomatiese kopligte en ruitveërs, dubbelsone-klimaatbeheer sowel as spoedbeheer vir die uiterste gemak van die bestuurder en passasiers sorg. Die elektriese werking van die laaideur maak korte mette van alledaagse gebruik.
“Die nuwe Outlander is die soort voertuig wat naatloos by enige leefstyl inskakel. Hy het al die geriefseienskappe wat lang ritte absoluut genotvol maak, en al die kleiner luukses wat help om alledaagse takies te vergemaklik. Dit is die volmaakte rondritsvoertuig vir die Suid-Afrikaanse mark,” sê Campbell.
Topklas-veiligheidsgradering
Mitsubishi is beroemd vir sy wêreldklas-veiligheidsgradering, en die Outlander is gewis nie ’n uitsondering nie. Mitsubishi se gepatenteerde Reinforced Impact Safety Evolution (RISE) vir sy rompsamestelling vorm ’n stewige veiligheidsel om al die insittendes. Hierdie voorste linie van verdediging word verder deur sewe lugsakke en volwaardige ISO-FIX-kindersitplekmonterings aangevul. Mitsubishi se toewyding tot veiligheid het die Outlander ’n volwaardige vyfster-veiligheidsgradering in die Euro NCAP-botstoetse besorg.
Die Outlander is verder met al die kritieke veiligheidseienskappe toegerus, waaronder aktiewe stabiliteit- en kloubeheer (ASTC), sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD) en noodremhulp (BAS), sowel as opdraande-wegtrekhulp (HSA) vir moeilike steiltes.
Sterk en betroubaar
Die opgekikkerde Outlander word deur Mitsubishi se gewilde dubbelbonokas-MIVEC-sestienklep-petrolenjin van 2,4 liter aangedryf. Dié enjin lewer 123 kW en ontwikkel 222 Nm. Sy gemiddelde brandstofverbruik kom op 8,2 liter per 100 km te staan.
Al vier die wiele word deur die volgende geslag van Mitsubishi se splinternuwe INVECS-III-palwisseltransmissie (CVT) met ’n sesgang-sportmodus aangedryf. Die CVT-ratkas pas blitsig by wisselende padtoestande en veranderende verrigtingsvereistes aan, wat tot ’n gladder rit as met gewone outomatiese transmissiestelsels lei.
Die vernuwende Multi Select-aandrywing deur al vier wiele maak dit ’n absolute genot om die Outlander oor wisselende terrein te bestuur.
Die stelsel het drie afsonderlike rymodusse waaruit die bestuurder kan kies:
- 4WD Eco Mode – Die voertuig monitor die terrein en bestuurderinsette en koppel al vier wiele wanneer dit nodig is. Die gebruik van die Eco-modus om die voertuig toe te laat om rytoestande te monitor, verminder brandstofverbruik en sorg vir ’n baie meer doeltreffende rit.
- 4WD Auto Mode – Die Outlander sal al vier wiele in outomatiese modus gekoppel hou tensy padtoestande so soepel is dat dit heeltemal onnodig is. Die outo-modus sal die vierwielaandrywing net soos die eko-modus outomaties verstel, maar met die verstandhouding dat aandrywing deur al vier wiele voorkeur geniet (in teenstelling met die eko-modus, wat net na aandrywing deur al vier wiele sal oorskakel as dit absoluut noodsaaklik is).
- 4WD Lock Mode – Dié modus sal in gewone padtoestande op verrigting fokus. Meer wringkrag word na die agterwiele as in 4WD Auto-modus gestuur om beter verrigting van die wegtrek af, beter beheer wanneer die voertuig op gruis of ander los oppervlakke versnel, en verbeterde stabiliteit teen hoë snelhede te bied. Die oordrag van wringkrag na die agterwiele word op 50 persent gehou, wat beteken dat tot 50 persent van die beskikbare wringkrag onder volle versnelling op droë padoppervlakke na die agterwiele gestuur word. Wanneer 4WD Lock-modus in werking is, word meer wringkrag met kleiner stygings in draaie na die agterwiele gestuur as in die geval van 4WD Auto-modus. Dié modus is ook pasreg vir meer uitdagende veldrytoestande.
Die nuwe Mitsubishi Outlander bied met sy prys van R549 900 ongeëwenaarde weelde en verrigting in sy klas. Die herontwerpte Mitsubishi Outlander is dadelik beskikbaar en word deur ’n volledige fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 km gedek. Versieningstussenposes is elke 15 000 km.
Bron: Mitsubishi Motors Suid-Afrika


