Categories: NewsPublished On: 22nd June 2016

Slaggate van hernubare energie

By 2 min read
478 words

inus

Inus Dreckmeyr, besturende direkteur en stigter van Netshield (Pty), het by Solidariteit KragDag oor die slaggate van hernubare energie gepraat aangesien al hoe meer mense onafhanklik vanaf Eskom wil begin leef.

Inus ontwerp al vir die laaste 15 jaar gesofistikeerde hernubare energiestelsels vir afgeleë areas waar daar nie kraginfrastruktuur is nie. Hy en sy gesin bly al agt jaar in die Pretoria-omgewing; totaal onafhanklik van Eskomkrag. Volgens hom is dit nie so eenvoudig nie en die verbruiker moet vir homself doelwitte stel.

“Vandat my jongste seuntjie kan onthou, is ons onafhanklik van Eskom,” sê hy.

Beplanning is van groot belang wanneer dit by hernubare energie kom, die verbruiker moet neerskryf wat hy alles van krag wil voorsien in sy huis en moet dit prioritiseer soos wat die belangrikste in sy huishouding gaan wees. “My huis se ligte is die belangrikste,” sê hy. Hy voeg ook by dat jy moet weet hoeveel energie elke ding in jou huis gebruik.

Stel jou kragverbruik saam op ‘n sigblad in ‘n program soos Excel as deel van jou beplanning. “Kyk watter tyd van die dag jy ook die meeste krag benodig,” sê Inus.

Hy herinner ook verbruikers dat sonpanele net ‘n sekere tyd van die dag energie bymekaar kan maak, daarom kan jy ook tydskakelaars daarvoor stel.

Volgens Inus moet jy mooi na jou inligting op jou Excel-blad kyk as jy hom klaar saamgestel het. “Maak seker jou stelsel is uitbreibaar indien jy later in jou lewe groter wil gaan”. As jy panele op die dak sit, sorg dat daar genoeg plek is as jy later nog wil byvoeg. Inus sê ook dat jy seker moet maak die panele is ordentlik gemonteer.

Indien jy reeds ‘n Eskom-aansluiting het, sinkroniseer jou wisselrigter daarmee.

As daar ‘n probleem by jou stelsel opduik is dit nie so eenvoudig om dit uit te sorteer nie. “Die bestuurstelsel moet so goed wees sodat dit sê as daar fout is en jy moet weet as die batterywater laag is.” Die batterye sal iewers vervang moet word en wees versigtig om batterye te meng.

Wanneer jy alles installeer moet die verbruiker weet wat aangaan. “Probeer goed koop waar jy verstaan wat aangaan.” Soos ‘n vooruitbetaalde meter kan nie krag terugsit nie.

‘n Voorbeeld van ‘n stelsel is die 1 kW Grid-Tied-stelsel. As jy 1 kW se elektrisiteit gebruik, word geen krag vanaf Eskom aangekoop nie. Op hierdie stelsel spaar jy. As jy 2 kW se elektrisiteit begin gebruik, sal 1 kW vanaf jou sonpanele kom en die ander 1 kW sal vanaf Eskom aangekoop word. Hier spaar jy net die helfte.

‘n Grid-Tied Limiter word gebruik om te keer dat surpluskrag van die panele na Eskom toe vloei. Vir hierdie stelsel word geen batterye benodig nie en die stelsel kan vir enige grootte ontwerp word. As daar ‘n kragonderbreking is, sal die stelsel wel nie kan krag voorsien nie, al is dit ‘n sonnige dag.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0