Skolemelkprojekte is die suiwelbedryf se langtermynbelegging
Foto: TetraPak.com
Volgens Tetra Pak, leiermaatskappy wat melkhouers vervaardig, dien skolemelkprogramme as "katalisator" vir groei in die melk- en suiwelsektor in ontwikkelende lande. Die direkteur van Tetra Pak se Buro vir Voedsel en Ontwikkeling, Ulla Holm, sê ‘n nuwe "geslag van melkdrinkers" het in baie ontwikkelende markte na vore getree danksy die skolemelkprogramme. Holm sê: "As kinders in die skool begin melk drink, sal hulle dit ná skool ook drink.”
“Selfs toe die skolemelkprogram in 1998 in Kenia gestaak is, het ‘n generasie van melkdrinkers na vore getree. Ons sien dit keer op keer. Dit is ‘n katalisator om ’n mark vir plaaslik vervaardigde melk te skep.”
Die Tetra Pak Food for Development Office, wat met regerings, ontwikkelingsagentskappe, nie-regeringsorganisasies, plaaslike melkverwerkers, en boere werk om die ontwikkeling van die skolemelkprogramme te ondersteun, is in 2000 gestig.
Die eerste Tetra Pak-gesteunde skolemelkprogram is in 1962 in Mexiko geloods. Verlede jaar, meer as 50 jaar later, is 8,3-miljard Tetra Pak-melkhouers deur 64-miljoen kinders regoor 63 lande opgedrink. Nuwe Tetra Pak-gesteunde programme is ook in Myanmar, El Salvador, Ecuador, Uganda, en Letland geloods.
Bron: MPO