Categories: NewsPublished On: 13th January 2016

Senwes skenk R1-miljoen aan Droogterampfonds

By 2 min read
304 words

senwes_logoSenwes is die hoofskenker van die Droogterampfonds wat agt weke gelede deur Agri SA gestig is en het R1 miljoen tot die fonds bygedra. Lede van die publiek het ook bygedra tot die fonds deur teksboodskappe te stuur en verdere bydraes is deur instansies soos die Beefmaster-genootskap, Voermol, Sanlam, Monsanto, Grainovation, Overberg Agri en FNB gelewer. Spoornet en vervoermaatskappye is bereid om die veevoer na boere te vervoer wat ook ’n groot hulp sal wees. Die fonds staan tans op R1 878 353,78.

“Ek wil die maatskappye wat ‘n groot bydrae gelewer het bedank, maar veral ook die gewone man op straat wat duisende rand via kleiner skenkings bygedra het,” sê Senwes-groep se hoofbestuursbeampte, Francois Strydom. Elke bietjie dra by tot die groter geheel van die fonds.
Die adjunk uitvoerende direkteur van Agri SA, Christo van der Rheede, bestuur die fonds en gee die versekering dat hulp by die regte plekke uitkom.

Omri van Zyl, Agri SA se hoofbestuursbeampte sê: “As tuiste van die Suid-Afrikaanse boer, is dit Agri SA se hooftaak om voedselsekerheid te verseker sodat ons landsburgers nie honger ly nie. Die gevolge van hierdie vernietigende droogte sal nog vir jare gevoel word en alle korporatiewe entiteite – nie slegs die agri-sektor nie – moet betrokke wees by hierdie projek.”

Die boere steun nie net op die fonds nie en kom verder steeds bymekaar regoor die land om te bid vir reën. “Ons leef in die hoop dat ons gebede binnekort verhoor sal word,” aldus Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl. In sekere streke is gebede al verhoor nadat die reën in die afgelope week geval het.

Boere wat ’n dringende tekort aan veevoer benodig moet Agri SA of hulle naaste landbou-unie skakel in die verband. Indien boere ’n bydrae tot die fonds wil lewer moet hulle www.droogterampfonds.co.za besoek.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0