Scania het die regte tweedehandse trok vir jou

scania 1
Hoe meer beweging daar in die tweedehandsevoertuigmark is, hoe beter gaan dit met die ekonomie. Ronald Melville, bestuurder van Scania Tweedehands, sê hy kan sommer gou agterkom as daar ekonomiese groei in die land is, want dan kom daar al hoe meer tweedehandse trokke in.
Op die oomblik kan ’n boer uit sowat 200 tweedehandse Scanias kies en keur om die regte pasmaat vir sy onderneming te vind.
Die regte vragmotor vir die regte doel is baie belangrik, sê Ronald. “As jy ’n bepaalde behoefte het of oor ses maande gaan hê, kom praat met ons, dan soek ons vir jou die regte voertuig vir jou onderneming.”
Net soos met Scania se nuwevoertuigverkope, loop Ronald en sy span ook die pad saam met hulle kliënte. “Ons wil nie net trokke aan jou verkoop nie, ons wil die vervoervennoot in jou onderneming raak, sodat jy kan voortgaan met jou boerdery,” sê Ronald.
Dit beteken dat Scania sy deel van die verantwoordelikheid nakom om seker te maak die vragmotor wat jy koop is in ’n goeie toestand en bly in ’n goeie toestand. Al wat jy hoef te doen as jy die trok se verdere inruilwaarde wil behou, is om seker te maak jy hou by nasientye en dat die persoon wat agter die stuurwiel inklim goed opgelei is en omgee vir die trok.
Dit is die moeite werd om ’n bestuurder te stuur vir Scania se opleiding, want saam met die inligting oor die veilige hantering van die voertuig, word daar ook gebou aan trots op die Scania-naam.
Ronald sê ’n trok se jaarmodel en kilometers speel ’n rol, maar uiteindelik is dit die diensrekord en sorg wat sy waarde bepaal.
Die meeste van die trokke in die tweedehandse voorraad is inruilvoertuie en Ronald sê daar is ’n groeiende neiging by die maatskappye wat voertuievlote het om trokke teen laer kilometers in te ruil.
Vroeër het mense aan hulle vragmotors vasgehou tot op 900 000 km, maar deesdae is dit algemeen dat trokke op 600 000 km ingeruil word, wat vir die volgende koper sommer nog baie diens gaan gee. ’n Scania word gebou om ’n miljoen probleemvrye kilometers af te lê, maar Ronald sê hy weet van Scanias wat al van die 1980’s af loop met drie-miljoen kilometer op die klok en nog steeds goeie diens lewer.
Scania Tweedehands sal ook vragmotors inneem wat al eintlik oor hulle leeftyd is en dit opbou vir nog ’n leeftyd. “Omdat alles aan en in ’n Scania uit die Scania-fabriek kom, is dit maklik om die regte onderdele te vind en ’n trok behoorlik te herstel,” sê hy.
Die waarborge wat Scania gee is vergelykbaar met die van nuwe voertuie. Daar is drie pakkette, naamlik 3 maande/60 000 km, 6 maande/100 000 km en vir gekeurde trokke wat in die Scania-familie onderhou is, kan daar ’n lewenslynwaarborg van tot 1,2-miljoen km gegee word. Die herstel- en onderhoudsplan word dan per kilometer uitgewerk.
Vanuit die Scania-kantoor in Germiston word verkope na die res van Afrika ook gedoen. Die span sorg vir al die nodige dokumente en reëlings sodat die trok gewoonlik binne twee weke oor die grens geneem kan word.

Ronald Melville, bestuurder, Scania Tweedehands, is reg vir jou oproep. Hy het net die trok vir jou boerdery!
Ronald sê hulle het baie boere-kliënte. “Die meeste boere wat hulle produkte moet aanry mark toe of veiling toe se vragmotors ry nie so ver of aanhoudend soos byvoorbeeld ’n vervoerkontrakteur s’n nie. Dit is baie keer seisoenale rywerk. Dit is dus vir ’n boer sinvol om eerder in ’n betroubare, tweedehandse voertuig te belê.”
’n Scania behou sy waarde, maar ’n tweedehandse trok gaan minder kos as ’n nuwe een. Net soos met nuwe voertuie, bied Scania ook volledige finansiering deur sy eie, interne finansiële afdeling. Ronald het ’n ernstige beroep op boere gedoen om na hulle naaste Scania-handelaar te gaan en van daar gehelp te word om die regte voertuig enige plek in die land te vind.
“Daar is slim skelms daar buite wat vals foto’s en inligting versprei en ’n boer kan maar weet Scania sal nooit vir ’n deposito vra op ’n trok wat ’n boer nie gesien het nie. Ons moedig boere aan om te gaan kyk, voel en toetsbestuur voordat hulle koop. ’n Trok is vir ’n boer ’n belangrike belegging en deur ons finansiering en ondersteuning belê ons ook in die boer se onderneming. Dit is die soort verhouding wat ons wil bou vir die toekoms,” sê Ronald.
Om jou tweedehandse Scania te bekom, skakel asseblief jou naaste Scania-handelaar of Scania se Oos-Rand-depot by 011-822-3854.