Scania help om plaas te koop

scania 1
Meer as drie keer maan toe! Dit is hoe ver Dirk Lötter se eerste Scania-trok al gery het toe hy hom tweedehands met 1,2-miljoen kilometer op die klok gekoop het. “Toe ek hom op 2-miljoen kilometer verkoop het, het hy steeds baie goed gelyk en baie goed gery, maar natuurlik, ek het self gery en ’n mens kyk mos baie mooi na jou eie goed,” vertel Dirk.
Dirk het nou ’n vervoeronderneming met twaalf Scanias, maar dit was daardie eerste Scania en baie harde werk wat vir hom die deur oopgemaak het na genoeg inkomste sodat hy sy eie plaas kon koop in die wêreld waar hy grootgeword het die Karoo: Dirk en sy vrou, Chanel, het lank ’n oog gehad op die stuk grond in die poort by Millerstasie, 60 km suid van die Karoodorpie, Jansenville. Hy sê so drie jaar gelede is hulle gebede verhoor toe die plaas te koop aangebied is.
Nou pendel hy gereeld tussen Dirk Lötter-vervoer in Bloemfontein en die plaas. Sy Scania-trokke speel ook ’n baie groot rol in die boerdery. Danksy goeie, sterk boorgatwater het hy 160 hektaar onder besproeiing en kan hy genoeg lusern plant vir sy eie Merinoskape en Angorabokke, en om aan te ry vir verkope.
Dit gebeur dikwels dat een van die Scanias ’n vrag gruis vir bouwerk of mis in sakke aanry plaas toe en dan lusern laai om weg te ry. Wol en sybokhaar moet mark toe en Dirk boer ook met boerbokke wat na Durban aangery moet word. Benewens plaasaflewerings, het Dirk ook ’n kontrak om plastiekbakkies vir kosverpakking aan te ry. Die trokke wat vir die “ligte” werk gebruik word, het gewoonlik al 500 000 km op die klok. Om by dieaftreewerk uit te kom moet ’n Scania eers sy kwota sykantelwaens (tippers) met hulle vragte van tot 38 ton elk die land vol sleep.

So volg Dirk die bewegings van sy trokke, selfs al is hy op die plaas. Elke vragmotor is ook toegerus met kameras wat die pad, die kajuit, die vrag en die brandstoftenks kan dophou vir beveiliging.
Scania kan dit hanteer
“Ons gebruik Scanias vir die swaar werk en grondpadaflewerings, want hulle kan dit hanteer,” sê Dirk. Hy glo een van die redes is dat Scania hulle eie enjins en ratkaste vervaardig en dat alles ontwerp is om goed saam te werk. “By Scania is alles Scania.”
Dirk sê enige meganiese ding kan breek, maar met die Scanias het hulle regtig min probleme en as daar ‛n probleem is, is Scania se ondersteuningsnetwerk en dienslewering uitmuntend. Hy sê selfs na ure reageer hulle vinnig om byvoorbeeld ’n werktuigkundige uit te stuur as ’n vragmotor langs die pad ’n probleem het. Daarby ontvang jy omtrent elke uur ’n verslag oor die vordering met die werk. Dirk het meesal van die G460-reeks trokke in sy vloot. Die trokke met hulle ruim kajuite is ook baie gerieflik vir die bestuurders. Dit is gemaklik om te bestuur en gerieflik om in te slaap. “My drywers kan selfs regop staan in die kajuit,” sê hy.
Lig op die sak
Dirk sê naas goeie dienslewering kyk ’n vragmotoreienaar ook na bekostigbaarheid. Jy moet in die eerste plek ’n trok kan aankoop en dan moet sy onderhoud en brandstofkoste nie al jou wins opvreet nie.
“Scania se inhuisfinansiering help baie, want hulle verstaan my onderneming,” sê Dirk. By ’n bank moet jy aan iemand gaan probeer verduidelik waarom jy op ’n sekere tyd moet uitbrei en vernuwe, maar by Scania verstaan hulle dit reeds.
Dirk sê hy het ook baie somme gemaak oor brandstof en oor die algemeen ry sy Scanias 0,1 km verder op ’n liter diesel as ander fabrikate. Dit beteken hy bespaar per trok ongeveer R8 000 per maand, wat ’n groot verskil in die onderneming se winsgewendheid maak.
Die mense maak ook ’n verskil
Benewens al die goeie punte, is dit ook vir Dirk ’n plesier om met die mense van Scania te doen te hê. “As jy by die kantoor in Bloemfontein instap, kan jy sommer voel die mense WIL daar werk en hulle WIL jou help – daar is ’n heerlike atmosfeer.”
Skakel Christopher Magson van Scania Bloemfontein by 072-122-5705 of Scania se hoofkantoor by 011-661-9600 om uit te vind waar is jou naaste handelaar. Besoek gerus ook www.scania.co.za vir meer inligting oor Scania se raakvat-vervoeroplossings.

Met Scania se ondersteuning kan Dirk Lötter en Chanel hulle twee seuns, Kobus en Hardus, op hulle droomplaas in die Karoo grootmaak. Natuurlik het elke knaap ook ‛n Scania, nes Pa!