Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 5th September 2022

Scania en Shoprite neem die voortou met volhoubare vervoer

By 7 min read
1419 words

DSC_0262

Carol Thorns se uitstekende tjellovertoning het gaste verwelkom by die bekendstelling en oorhandiging van twee Scania Euro 5-vragmotors by Quoin Rock-wynlandgoed voor die majestueuse HottentotsHollands-berge. (Foto: Tisha Steyn)

deur Tisha Steyn

Scania Suid-Afrika het onlangs verskeie Euro 5 nuwe generasie, brandstofbesparende vragmotors aan die Shoprite-groep, ‘n gewaardeerde klant van Scania, oorhandig. Hierdie vragmotors is die eerste van hulle soort.

Die geleentheid was ՚n mylpaal in die vennootskap tussen die twee maatskappye wat, ondanks hulle uiteenlopende aard, streef na ekonomies lewensvatbare en omgewingsvriendelike oplossings vir uitdagings in die vervoerbedryf.

Die Shoprite-groep het 115 van Scania se Euro 5 G450 A5X4 meganiese perde aangekoop, met nog 140 wat oor die volgende aantal maande afgelewer sal word.

Aan die voorpunt van verandering

Die twee Scania Euro 5-trokke is die eerste van 115 trokke wat aan die Shoprite-groep oorhandig is. Nog 140 volg oor die volgende aantal maande. (Foto: Tisha Steyn)

“Scania Suider-Afrika gee die toon aan met die verandering na volhoubare oplossings vir die vervoerbedryf,” sê Erik Bergvall, besturende direkteur van die maatskappy. “Ons gevorderde Euro 5 bied klante, soos die Shoprite-groep, ՚n bewese tien present besparing op brandstof met verminderde uitlaatgasse.”

Scania se vennootskap met die Shoprite-groep het vyf jaar gelede begin
met die aankoop van ՚n aantal Scania Euro 3-trokke. Sedertdien is uitgebreide demonstrasies en toetse op van SuidAfrika se slegste paaie gedoen. Die toetse het bewys dat die Euro 5 deur die bank ՚n brandstofbesparing van tien persent bereik het en dit is wat die
aankoop vir Shoprite beklink het.

Mylpaal

“Die oorhandiging van die eerste twee trokke is ՚n mylpaal in ons vennootskap, maar op ՚n manier ook ՚n bestemming,”

sê Mark Erasmus, Scania Suider-Afrika se hoofbestuurder.

“Ons het die afgelope vyf jaar ՚n pad saam geloop en die oorhandiging is iets om te vier. Maar dit is beslis nie ՚n finale bestemming nie — ons reis saam met Shoprite het pas begin en vandag is net een van die vele merkers in die reis wat ons in die jare wat voorlê sal geniet.”

Volgens Mark gaan dit by Scania nie net oor boute en moere en produkspesifikasies nie, maar oor ՚n diepgewortelde kultuur van 130 jaar wat die maatskappy rig om altyd ՚n tree vooruit te wees en eerste die ratte van verandering te wissel.

Gevorderde tegnologie

Scania was die eerste vervaardiger van swaarvoertuie wat in 2004 die Euro 4-enjin ontwikkel het wat aan die vereistes van die Europese Unie se standaarde vir uitlaatgasse voldoen het. In 2005 het Scania selektiewe katalitiese reduksie-tegnologie (SCR) bekom wat deur ՚n toevoeging van AdBlue by die brandstof die uitlaatgasse verminder om aan Euro 5-standaarde te voldoen.

Die SCR-stelsel is ՚n gevorderde manier om uitlaatgasse te behandel. Die enjin beheer die produksie van afvalmateriaal deur ՚n verhoogde ontbrandingstemperatuur wat dus uitlaatgasse binne die toegelate perke hou.

Dit word gedoen deur die toevoeging van ՚n ureum-gebaseerde vloeistof genaamd AdBlue, wat outomaties in die voertuig se uitlaatstelsel gespuit word om koolstofdioksied (CO2) en stikstofoksied (NO2) in uitlaatgasse van dieselenjins te beperk.

Andrew Havinga van Shoprite en Erik Bergvall van Scania knip die lint tydens die formele oorhandiging van die twee Scania Euro 5-trokke. (Foto: Verskaf)

Volgens Mark is 45 maandlange toetse met verskillende klante met verskillende vereistes se voertuie gedoen en daar is bevind dat die Euro 5-enjin meer doeltreffend brandstof verbruik as hulle bestaande trokke.

Uitgebreide toetse

“Ons is tevrede dat ons kon bewys dat die Euro 5 ՚n ekonomies lewensvatbare oplossing vir brandstofverbruik is en beter aërodinamika vir kliënte soos Shoprite bied. Daarby was die voldoening aan Euro 5-standaarde ononderhandelbaar,”

sê Johnny-Ray Basset, bestuurder van Scania se sleutelrekeninge.

Die eerste toetse is met die Scania Euro 3 P410 en G460 6X4 trokke wat in 2018 deur Shoprite aangekoop is gedoen.

Johnny-Ray sê: “Na afloop van die suksesvolle toetsing van ons demonstrasievoertuie, wat opleiding van bestuurders en die monitering van die voertuig se werkverrigting met ons vlootbestuurstelsel ingesluit het, het Shoprite besluit om sestien Scania PGR- 410-perde aan te koop.”

Hierdie voertuie is in die noordelike streek van die land, waar die paaie in ՚n treurige toestand is, getoets. “Selfs in hierdie omstandighede was die uitslae van die toetse hoogs gunstig met uitstekende brandstofverbruik.”

Jo-Anne Strauss was die gasvrou tydens die glansryke oorhandigingseremonie van Scania se Euro 5- trokke aan Shoprite. (Foto: Verskaf)

Volgens Johnny-Ray het die Euro 5 verskeie eienskappe wat met Shoprite se doelwitte ooreenstem. Dit sluit in ՚n gemaklike, ruim kajuit, veiligheidsaspekte soos elektroniese remme (EBS), ՚n heuwelhou-beheerstelsel, ՚n stelsel wat waarsku wanneer van lane verwissel word, ՚n reënsensor en aanpasbare spoedbeheer. Die groter voorruit bied ook beter uitsig.

Shoprite se bestuurders ontvang uitgebreide opleiding om hulle toe te rus met die nodige kennis en vaardighede.

Scania bied naas tegniese hulp waar dit ook al nodig is, ook ՚n aanpasbare, doelgemaakte onderhoudsplan wat voorkomend is en staantyd beperk.

Drie pilare van volhoubaarheid

Volgens Erik berus Scania se besluitneming op drie pilare van volhoubaarheid:

  • Energiedoeltreffendheid: Scania is voortdurend besig om hulle voertuie se doeltreffendheid te verbeter, wat tot beter brandstofverbruik lei en laer bedyfskoste insluit.
  • Alternatiewe brandstofkeuses met die doelwit om koolstofdioksiedvrystelling te beperk: Scania het die afgelope drie dekades baanbrekerswerk gedoen met alternatiewe brandstofgebruik en het tans wêreldwyd die grootste reeks voertuie wat met alternatiewe brandstof aangedryf word.
  • Intelligente en veilige vervoer: Scania het meer as 500 000 voertuie wat deur kommunikasiestelsels gekoppel is, wat die maatskappy in staat stel om doelgemaakte diensoplossings met gepaardgaande verhoogde rytyd te verskaf.

“Hierdie pilare rig ons ontwikkeling en dit stem ooreen met die koers van Shoprite se doelwitte. Soos Shoprite, wil ons met vennote saamwerk om ondersteuning te bied, rigting aan te dui en kliënte, asook verteenwoordigers op alle regeringsvlakke, in bedryfsliggame en nie-winsgewende organisasies, in te lig oor die belangrikheid van omgewingsrentmeesterskap tot voordeel van die mensdom. Ons doen dit saam omdat ons in dieselfde beginsels glo en dieselfde doelwit het, naamlik om ՚n beter toekoms te skep vir dié wat na ons kom.

“Daar is nie kompromieë vir ons klante wanneer hulle ons volhoubare vervoeroplossings aanvaar nie. Ons vennootskap met Shoprite doen baanbrekerswerk vir ՚n meer volhoubare toekoms wat groot voordele vir die vervoerbedryf, ons ekonomie, mense en omgewing inhou.”

Shoprite

Gaste vergader voor die wynlokaal by Quoin Rock wynlandgoed. (Foto: Tisha Steyn)

Shoprite het ՚n uitgebreide vervoerstelsel wat optimale werkverrigting ter wille van kostedoeltreffendheid vereis.

Die maatskappy het 43 jaar gelede tot stand gekom en is tans Afrika se grootste kleinhandelaar met 3 000 winkels in 11 lande op die kontinent met 29 verspreidingsentrums. Shoprite besit 900 vragmotors en 1 300 leunwaens en verskaf werk aan 149 000 mense, waarvan 1 300 vragmotorbestuurders is.

“Ons fokus op verbeterings in plaas daarvan om verskonings te maak,”

sê Andrew Havinga, hoof van Shoprite se voorsieningsketting.

Shoprite se oogmerk is om met verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en die omgewing, die mees bekostigbare, skeppende en toeganklike kleinhandelaar te wees.

“Ons gebruik inligtingstegnologie vir volhoubaarheidsmeting en -monitering as deel van die besluitneming en bedryf van ons onderneming. Ons fokus op die bou van betekenisvolle vennootskappe, soos met Scania, wat ons help om die impak van ons volhoubaarheidsprojekte te verhoog.

Volgens Andrew fokus die groep daarop om mededingend en volhoubaar te wees en die impak op die omgewing tot die minimum te beperk. “Ons moet besluit watter produkte en hoeveel daarvan ons kliënte nodig het — ons wil vir hulle gee wat hulle nodig het sonder vermorsing.”

Hy glo die vennootskap met Scania en die aankoop van die vragmotors is “՚n groot stap vorentoe, wat die verbruiker ook by die betaalpunt sal ervaar”.

Naverkoopdiens

“Naas verbeterde brandstofverbruik is die naverkoopdiens wat Scania se werktuigkundiges verskaf noodsaaklik om staantyd te verminder,”

sê Gordon Brown, Shoprite se tegniese spesialis in die vervoerafdeling.

Om vermorsing te beperk, word gebruikte verpakkingsmateriaal herwin. Die verpakkingsmateriaal word na elke aflewering teruggeneem na ՚n sentrale punt waar dit saamgepers en verkoop word aan maatskappye wat die herwonne materiaal hergebruik.

Buiten beter brandstofverbruik, fokus die Scania Euro 5 op die gemak en veiligheid van die vragmotorbestuurders. (Foto: Tisha Steyn)

Die meeste aflewerings bestaan uit nie-bederfbare produkte wat nie verkoeling nodig het nie.

Vrugte, groente en ander bederfbare produkte word in verkoelingseenhede vervoer wat ՚n temperatuur van tussen 1 en 5 °C handhaaf. Vekoelingseenhede word aangekoop van ՚n familie-onderneming, GRW, in Wellington. Hierdie eenhede is met sonpanele toegerus, wat beteken dat verkoeling voortgesit word al is die enjin afgeskakel, wat lei tot ՚n verdere brandstofbesparing.

Die nuwe Scania-trokke sal in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Vrystaat ontplooi word. Aflewerings aan winkels in Mpumalanga en Noordwes word vanuit Gauteng hanteer, terwyl die NoordKaap uit die Vrystaat bedien word.

Volgens Gordon word voortdurend nuwe vervoereenhede aangekoop ten einde staantyd tot die minimum te beperk. Gebruikte Scania-vragmotors word terugbesorg vir herverkoop.

Vir meer inligting oor Scania, skakel Teboho Mankga, die korporatiewe kommunikasiespesialis van Scania Suid-Afrika se afdeling Bemarking en Kommunikasie, by (+27)11-661-9600, of stuur ՚n e-pos na teboho.mankga@scania.com.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0