Sagtevrugtebedryf vereer uitblinkers

vrugtebedryf
Sewe toppresteerders in die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf is Vrydagaand by ’n glansgeleentheid op Somerset-Wes vir hulle uitsonderlike bydrae in dié bedryf vereer.
Die toekennings is vanjaar toegeken aan:
– Charmaine Scholtz, Spesialis Landbouwerker van die Jaar;
– Sivuyile Maguga Solitswayi en Irene Jansen, saam vir Algemene Landbouwerker van die Jaar;
– Earl Loxton, Toetreder van die Jaar;
– Dr Piet Stassen, Innoveerder van die Jaar;
– Jack van Dyk, O.S.H. Reinecke Bedryfsleier van die Jaar; en
– Engela Duvenage, Izethelo Media-toekenning.
Twee besondere landbouwerkers in die kategorie Algemene Landbouwerker van die Jaar, is vanjaar vereer. Sivuyile Maguga Solitswayi van die plaas Bronaar in die Koue Bokkeveld, en Irene Jansen van Wilhelm de Kock Boerdery by Worcester.
Sivuyile is een van die ware helde van die sagtevrugtebedryf sonder wie geen boer kan klaarkom nie. Hy is een van die talle algemene landbouwerkers wat dag-in en dag-uit in die warm son vrugte pluk, takke snoei en uitdun, maar wat Sivuyile laat uittroon bo al die ander landbouwerkers is sy fenomenale produktiwiteitsrekord.
Wanneer jy Sivuyile se produktiwiteitsindeks met die gemiddelde werker s’n vergelyk, doen hy meer as dubbeld die werk. Hy pluk meer, hy snoei meer, hy dun meer uit. Én hy is akkuraat teen ’n verstommende spoed − ’n ware boord-ster.
Sivuyile het in 2013 op Bronaar begin werk. Volgens sy bestuurder stel hy hoë doelwitte aan homself en is hy altyd bereid om opdragte uit te voer. “Sivuyile is gemotiveerd en maak seker dat hy sy werk die eerste keer reg doen. Hy is by verre Bronaar se beste en vinnigste plukker. Hy is ’n aanwins vir ons besigheid en ’n uitstekende voorbeeld vir sy mede-werkers. Bronaar salueer hom vir sy uitstekende diens.”
Irene Jansen se jong lewe het met heelwat uitdagings begin. As ’n voormalige inwoner van die Steinthal-kinderhuis by Tulbagh, is sy boonop ’n enkelouer. Maar teen alle verwagtinge in, is Irene besig om vir haarself ’n blink toekoms in die landbou uit te beitel.
Irene se kollegas beskryf haar as ’n gebore leier en uitstekende voorbeeld vir ander werkers. “Irene is by bykans alle plaas-aktiwiteite betrokke, byvoorbeeld die dameskoor, gemengde koor en uitreikgroep. Sy het ook ’n bordspelgroep vir vroue begin. Daarbenewens hou sy van bak en brou en bederf die ander gereeld met soetgoed.
Seisoentyd is Irene by gehalte-evaluering van vrugte en die manipulering van jong bome betrokke. Die ander werkers leer baie by haar en sy is altyd bereid om vrae te beantwoord en te verduidelik.” Landbou is Irene se passie en sy leef dit elke dag ten volle met ’n positiewe gesindheid uit.
Charmaine Scholtz, Spesialis-landbouwerker van die Jaar, het ná skool onderwys studeer en op die plaas Remhoogte by Ceres as jeugwerker begin werk. Die vrugtegogga het gebyt en sy het gou besef dat landbou vir haar ’n groter uitdaging om haarself as mens te ontwikkel, bied.
Charmaine is oorgeplaas na die vrugte-afdeling, waar sy as algemene werker begin het een deesdae die plaas se junior menslike hulpbronbestuurder is. “Charmaine is die soort mens wat elke geleentheid wat oor haar pad kom met oorgawe aangryp en ’n sukses daarvan maak. Haar besondere werksetiek en mensekennis maak van haar ’n staatmaker in ons onderneming,” meen Marina du Toit, haar bestuurder.
Earl Loxton, Toetreder van die Jaar, is besig om sy merk as suksesvolle kommersiële boer in die Noord-Kaap te maak. Earl, wat sy landboudiploma by Elsenburg verwerf het, het in 2011 perseel 593 in die Eksteenvlei-gemeenskap buite Keimoes oorgeneem.
Die wingerdstokke was oud en verwaarloos, en die perseel was klaarblyklik nie winsgewend nie. Earl het dadelik met ’n vernuwingsprogram begin en daar is nou 35 hektaar rosyntjiedruiwe en 7,5 hektaar wyndruiwe. Hy beplan om nog verder te diversifiseer en ander kultivars in te bring. Die afgelope drie jaar het hy ook deel gevorm van die Droëvrugte Tegniese Dienste se Jobs Fund-ontwikkelingsprogram. Deur hierdie inisiatief het hy ’n verdere 9,3 hektaar rosyntjiedruiwe aangeplant.
Dr Piet Stassen, Innoveerder van die Jaar, is vereer vir sy bydrae die afgelope 45 jaar. Sy werk in verskeie landbou-segmente kan as baanbrekerswerk beskou word. Sy navorsingsprotokolle word internasionaal toegepas. Dr Piet evalueer tans steenvrugonderstamme vir die sagtevrugtebedryf.
Die O.S.H. Reinecke Bedryfsleier-toekenning vir 2016 het aan Jack van Dyk gegaan vir sy baanbrekerswerk in veral arbeidsreg vir die vrugtebedryf. Jack, wat onder meer ’n staatsaanklaer en magistraat was voor hy in 1982 in die vrugtebedryf begin werk het, was ’n stigterslid en jare lange voorsitter van die Kaapse Agri Werkgewers-vereniging (KAW). Hoewel hy reeds afgetree het, is hy steeds ’n belangrike rolspeler in die Laborie Dialoog-inisiatief wat aandag gee aan sensitiewe landelike- en arbeidsake.
Die vryskut-wetenskapskrywer, Engela Duvenage, het die Izethelo-toekenning ontvang vir haar bydraes oor die landbouwetenskap. Engela het erkenning ontvang vir haar bydraes om die agri-wetenskap meer toeganklik vir die algemene publiek te maak.
Dié glansgeleentheid, wat ’n jaarlikse instelling van die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf is, vind al die afgelope 41 jaar plaas.
Foto – Vrugte wenners van links na regs: Charmaine Scholtz, Spesialis Landbouwerker van die Jaar; Irene Jansen, Algemene Landbouwerker van die Jaar; Earl Loxton, Toetreder van die Jaar; Jack van Dyk, O.S.H. Reinecke Bedryfsleier van die Jaar; Engela Duvenage, Izethelo Media-toekenning; Sivuyile Maguga Solitswayi, Algemene Landbouwerker van die Jaar. Dr Piet Stassen, Innoveerder van die Jaar kon ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie.
Bron: Hortgro