SA se grootste makadamia-verwerkingsaanleg word gebou

AI5A9046
Green Farms Nut Company (GFNC) beplan om Suid-Afrika se grootste makadamianeutverwerkingsaanleg te bou. Die projek, wat reeds by die bestaande fabriek in Witrivier begin is, bestaan uit twee fases, waarvan die eerste volgende jaar voltooi sal wees.
Dit toon die maatskappy se verbintenis tot die bedryf en ondersteun sy strategie om te verseker dat die verbouing van makadamianeute ‘n volhoubare en winsgewende onderneming vir die toekoms bly.
Volgens die Suider-Afrikaanse Makadamia Kwekersvereniging (SAMAC) het nuwe makadamiaboomaanplantings in Suid-Afrika in die afgelope vier jaar verdriedubbel van 1 250 hektaar in 2013 tot 3 870 hektaar in 2016, met byna ‘n verdubbeling van aanplantings tussen 2015 en 2016 vanaf 2 000 hektaar tot 3 870. Tans is daar 28 000 hektaar gevestigde makadamia-boorde met die grootste groeiende streek in Mpumalanga, gevolg deur Limpopo en Kwazulu-Natal.
“Ons belê vir die langtermyn. Ons sal ons onderneming laat groei saam met die groei in die oes: Gegrond op historiese en voortdurend toenemende aanplantings, is ons siening dat dit noodsaaklik is om verwerkingskapasiteit te verhoog om langtermyn lewensvatbaarheid vir die bedryf en ons boere te verseker,” sê Alex Whyte, hoofbestuurder, GFNC.
“Bedryfsyfers projekteer ‘n verhoging van 40% van neute in die dop van 38 500 ton in 2016 tot 64 800 ton in 2020. Om hierdie toename te laat gebeur fokus ons op drie sleutelpunte: verwerkingskapasiteit, gesofistikeerde produkbemarking en waardetoevoeging,” voeg Alex by.
Sleutelaspekte van die projek:
- Fabrieksgrootte het toegeneem met ‘n bykomende 7 000 vierkante meter van die huidige 3 000 tot 10 000 vierkante meter.
- 40% toename in verwerkingskapasiteit van 5 500 ton tot 8 000 ton droëneute in die dop.
- Bykomende 250 ton droogbakbergingvermoë, tot ‘n totaal van 800 ton. Alle neute in die dop en uitgedopte neutegaan deur ‘n droogproses.
- Die nuutste optiese sorteerders wat doeltreffend sal werk deur verhoogde verwerkingspoed en verseker dat verwerkingsfooie tot ‘n minimum beperk word.
- Jongste tegnologie in sterilisasietegnieke. Alle neute moet deur ‘n sterilisasieproses gaan om aan streng vereistes vir voedselveiligheid te voldoen.
- Verminderde waterverbruik deur verbeterde tegnologie en elektrisiteitsbesparing.
Fase twee van die projek gaan na raming in 2020 klaar wees. Die fabrieke in Limpopo en KwaZulu-Natal is onlangs uitgebrei en saam was die operasie 12 200 vierkante meter.
“Ons is besig om te kyk na waarde-byvoeging soos kleinhandelverpakking, braai- en makadamia-olie om te verseker dat ons van toepassing bly in ons ontwikkeling as landbou-onderneming,” sê Alex.
Bron: Green Farms Nut