SA moet leiersrol speel met skoonenergie
Met die wêreldbevolking wat sewe miljard mense bereik, staar ontwikkelende lande soos Suid-Afrika groot uitdagings in die gesig as dit kom by die volhoubare voorsiening van energie en voedsel.
Volgens Björn Meth, DuPont se verkoopsdirekteur vir Suider-Afrika, is Afrika se hoof-uitdaging vir die onmiddellike toekoms om energie-verskaffing en voedselsekuriteit met die groeiende bevolking in verband te bring.
Hy meen dat dit nou nodig is dat Suid-Afrika homself moet posisioneer om ‘n leierskapsrol in dié verband te speel.
Afrika se bevolking is een van die wat die vinnigste groei en dit word voorspel om voor die einde van die eeu tot 3,6 miljard mense te verdriedubbel.
"Vanuit ‘n energie-oogpunt is dit nodig dat Suid-Afrika meer moet belê in infrastruktuur en die ontwikkeling van vaardighede".
Hy het gesê dat die regering se voorgestelde Integrated Resource Plan (IRP), wat daarop gemik is om 9% van die land se energie uit hernubare bronne teen 2030 te verkry, ‘n stap in die regte rigting is.
"As ‘n ontwikkelende land moet ons hard druk om die fokus weg te skuif van die tradisionele fossielbrandstowwe wat beperk is, en die voortou neem op die vasteland met die gebruik van hernubare vorme van energie."
‘n Onlangse verslag deur die World Wide Fund for Nature (WWF) het aan die lig gebring dat die vraag na energie uit fossielbrandstowwe teen 2050 wêreldwyd 15% laer sal wees as wat dit in 2005 was.
Suid-Afrika se aanbied van die komende klimaatverandering-konferensie van die VN (COP 17) is ook ‘n positiewe stap om die land se beeld as ‘n leier op die gebied van hernubare energie en volhoubaarheid te vestig het mnr Meth gesê.