Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 7th June 2026

Rula Agri wys nuwe tegnologie vir presisie- en kalktoediening by NAMPO 2026

By 4 min read
685 words

DSC_0559

Rula Agri se nuwe kalk-brokkelblaser het groot belangstelling by NAMPO gelok. Die implement is ontwerp om kalk presies op verskillende dieptes in die grondprofiel toe te dien om suurgrondprobleme meer effektief aan te spreek.

By NAMPO vanjaar het Rula Agri weer hul vermoë en toewyding aan boere getoon wat betref die ontwikkeling en vervaardiging van praktiese en innoverende oplossings vir moderne boerdery. Met ’n sterk fokus op minimum bewerking, presisieplant en doelgerigte kalktoediening, het die Rula Agri-span boere gewys en ingelig oor hoe die maatskappy se toerusting en tegnologie gebruik kan word om grondgesondheid en produksiepotensiaal verder te verbeter.

Volgens Jimmy Ebersohn, is Rula Agri toegewyd daaraan om oplossings te ontwerp wat werklik waarde op boere se plase toevoeg.

“Ons fokus bly om implemente te ontwikkel en vervaardig vir meeste Suid Afrikaanse plaaslike omstandighede, maar terselfdertyd help om meer akkuraat en doeltreffend te werk,” het Jimmy verduidelik.

Een van die produkte wat groot belangstelling gelok het, was Rula Agri se minimum bewerkingsplanter. Die planter is toegerus met Rula Agri se nuwe minimumbewerkings plantereenheid wat toegerus is met Precision Planting se V-set 2 elektriese aangedrewe uitmeet-eenheid vir akkurate saadplasing. Die stelsel is ook toegerus met ’n outomatiese gronddrukbeheerstelsel (down/up force) wat die druk op jou plantereenheid beheer wat konstante opkoms en plantdiepte verseker.

Die implement sluit verder ’n hidrouliese kunsmistoediener met breektande  in, sowel as standaard plantereenhede aan die agterkant met individueel beheerde toetrapmeganismes.

’n Nadere kykie na die in-lyn tandkonfigurasie van Rula Agri se kalk-brokkelblaser, wat ontwerp is om kalk op verskillende dieptes in die grondprofiel te plaas vir meer effektiewe behandeling van suurgrond.

Die grootste trekpleister by die Rula Agri-uitstalling was egter die bekendstelling van hul nuwe kalk-brokkelblaserstelsel, waaroor Ruan Jonas meer besonderhede gedeel het: “Die nuwe kalk-brokkelblaser werk met drie in-lyn tande wat elk op verskillende dieptes funksioneer. Die eerste tand plaas kalk op ongeveer 200 mm, die tweede op 300 mm en die derde op 400 mm diep. Hierdie stelsel is ontwerp om suurlae diep in die grondprofiel effektief aan te spreek, iets wat dikwels nie met oppervlakkige kalkstrooiing bereik word nie.”

“Baie boere sukkel met suurgrond wat dieper in die profiel voorkom. Met hierdie stelsel kan ons kalk presies plaas waar dit benodig word en dus jou suurlaag direk aanspreek,” het Ruan gesê.

Volgens hom is die implement spesifiek ontwikkel om probleemareas in die grondprofiel doelgerig aan te spreek, eerder as om kalk slegs oppervlakkig toe te dien. Die onderpunt van die tand (skoene) van die implement plaas die kalk in ’n band van ongeveer 200 mm breed, wat ’n effektiewe behandelingsone van sowat 200 mm by 200 mm vorm. Die tandkonfigurasie en ryspasiëring kan ook aangepas word volgens elke boer se behoeftes.

“Nie alle grondprofiele lyk dieselfde nie. Daarom gee ons produsente die opsie om die implement volgens hul spesifieke suurgrondtoestande op te stel,” het Ruan verduidelik.

Hy het verder beklemtoon dat die implement nie as ’n tradisionele skeurploeg (ripper) ontwerp is nie, maar spesifiek as ’n kalk-brokkelblaser wat die ondergrond se oppervlak effektief opbreek om behoorlike en eweredige kalkplasing moontlik te maak.

Jimmy het ook meer vertel oor die bakwa-gedeelte van die kalktoediener. Die bak het ’n dravermoë van 8 m³ en beskik oor ’n beskermende siflaag wat keer dat klippe of vreemde voorwerpe in die stelsel beland.

Materiaal word deur ’n hidroulies aangedrewe kettingstelsel verskuif, terwyl ’n verstelbare afskuifplaat sorg vir egalige materiaalvloei na die Venturi-eenheid. Van daar word die kalk met ’n hoëdruk-, hoëvloei-lugstroom deur die sisteem versprei om eenvormige toediening oor die rye te verseker.

Die Rula Agri-span by NAMPO 2026: Ruan Jonas, Joseph Legote en Jimmy Ebersohn.

Nog ’n belangrike ontwikkeling is die beweegbare uitmeetmeganisme wat aanpaksels voorkom, wat veral belangrik is wanneer kalk met ’n hoër voginhoud hanteer word. ’n Bykomende beskermende roosterstelsel help ook om plantmateriaal en kleiner voorwerpe uit die sisteem te verwyder om optimale werking te verseker.

“Die hele ontwerp gaan daaroor om konsekwente materiaalvloei en akkurate plasing te verseker, selfs onder moeiliker toestande,” het Jimmy verduidelik.

Met hierdie nuwe tegnologie bevestig Rula Agri hul fokus op innoverende oplossings wat boere help om grondgesondheid, doeltreffendheid en opbrengspotensiaal verder te verbeter.

Vir meer inligting oor Rula Agri se implemente en toerusting en hoe dit jou boerdery na die volgende vlak kan neem, besoek gerus hul webwerf, skakel hulle by 082-882-1272 of stuur ’n e-pos na info@rula-agri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0