Categories: NewsPublished On: 26th October 2017

RSA steenvrugprodusente staar droogte uitdaging in die gesig

By 2 min read
383 words

vrugteengroente

Suid-Afrika sal ten spyte van die droogte uitdaging sy verpligtinge tot die mark kan nakom vir die 2017/2018-seisoen.

Die Wes-Kaap gaan steeds onder ’n droogte gebuk, met min verligting in sig. Hierdie droogte teister die provinsie reeds vir die meerderheid van 2017. Suid-Afrikaanse produsente is gedwing om drastiese en vindingryke planne in werking te stel om klimaatstoestande teë te staan om te verseker dat hulle die seisoen sal deurmaak – in sommige gevalle met baie beperkte besproeiingswater.

Hulle het hulself egter veerkragtig bewys. En ten spyte van dié moeilike taak bly produsente positief dat hulle hul beperkte hulpbronne optimaal sal kan bestuur gedurende die 2017/2018-seisoen, om sodoende ’n gemiddelde tot effens onder gemiddelde grootte steenvrugte-oes te produseer.

Talle nuwe boorde is in die afgelope vyf jaar gevestig en sal ’n beduidende impak hê op die totale uitvoerskatting soos dié bome hierdie seisoen in drag kom. Die afname wat verwag word as ’n direkte gevolg van die droogte word hierdeur teëgewerk. Die bedryf het ’n baie betroubare model gebruik om die verwagte uitvoeroes oor ’n aantal jare te voorspel. Hierdie beproefde metodologie voorspel dat die nuwe boorde in ’n normale klimaatjaar 1,4 miljoen kartonne aan die pruimeskatting sou voeg, 420 000 kartonne aan die nektarienskatting en 235 000 kartonne aan die perskeskatting soos vergelyk met die 2017-seisoen.

As gevolg van die droogte se impak, sal hierdie toenames nie verwesenlik nie. Dit beteken wel ’n afname van slegs 4% vir pruimuitvoere en 3% vir perske- en nektarienuitvoere in vergelyking met die 2016/17 seisoen. Daar word verwag dat appelkoosuitvoere met 17% sal afneem, siende dat ’n af-jaar in terme van afwisselende drag heel waarskynlik ook sal afspeel.

Die algemene gevoel is dat die vroeë produksiegebiede en -kultivars genoeg water sal hê om goeie oeste te lewer. Kultivars wat vanaf Februarie 2018 geoes word kan druk verwag sou die huidige toestande voortduur.

Op ’n meer positiewe noot, smaaklike vrugte met hoë suikervlakke word verwag en die voorkoms van plae en siektes sal waarskynlik baie laag wees weens die droë toestande.

Die situasie sal van week-tot-week dopgehou word en toepaslike aanpassings sal aan die skattings gemaak word namate die seisoen ontvou. Hortgro sal gereeld oesskattings opdateer om alle rolspelers in te lig. Alhoewel die 2017/18 seisoen ’n uitdaging sal wees, bly die Suid-Afrikaanse Steenvrugtebedryf verbind daartoe om ’n produk van wêreldgehalte kwaliteit aan verbruikers te lewer.

Bron: Hortgro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0