RPO Noord-Kaap-kongres: Die rooivleisbedryf kan groei en die droogte sal verbygaan
“Landbou en meer spesifiek rooivleis is een van die bedrywe waar daar nog baie potensiaal vir die toekoms is om werk te skep en dit uit te brei na rykdom oor ‘n breë spektrum,” sê Johan van der Colff, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, Noord-Kaap.
Hy het sy voorsittersrede gelewer op die RPO Noord-Kaap se kongres op 7 en 8 Junie 2017 te Kimberley by die Horseshoe Inn. Die rooivleisboere het byeen gekom om te gesels oor die geleenthede en uitdagings van die afgelope jaar. Daar was ook verskeie sprekers wat boere weer hoop gegee en interessante onderwerpe rondom die rooivleisbedryf aangeraak het.
Johan van der Colff het in sy voorsittersrede gesê die RPO Noord-Kaap het verskeie sake namens sy lede hanteer die afgelope jaar en die grootste hiervan was seker die kwessie van grond. Dit is belangrik dat boere betrokke moet bly om die organisasie sterk te maak om die sake te hanteer. Hy het ook oor die rol van die weer gesels.
“Die natuurtoestande van die afgelope jaar in die provinsie was van die uiterstes. Die westelike gedeelte en die winterreënvalgebied ondervind nog rampdroogtetoestande. Die hulp wat boere aan mekaar verleen het deur hierdie tydperk was baie bemoedigend,” sê hy.
Johan van den Berg van Santam Landbou het boere kom inlig oor klimaatrisikobestuur en klimaatvooruitsigte. Hy sê in ligte trant: “Vergewe maar weervoorspellers, want die meeste van die tyd weet hulle nie wat hulle doen nie. Weervoorspellings is wat die naam sê, net voorspellings.”
Volgens Johan van den Berg is dit belangrik dat boere moet weet dat droogte ‘n ding is wat oor ‘n tyd loop. Die Noord-Kaap het al vir 10 agtereenvolgende jare droogte gehad en toe was daar weer vir nege jaar goeie reën. Daarna was dit weer vyf jaar droog. “So as ons na die verlede kyk is die droogte wat ons nou ervaar eintlik ‘n normale droogte, want dit is deel van ons klimaat,” sê hy.
“Die klimaat in Suidelike-Afrika is baie wisselvallig. Klimaatsgebeure loop dikwels oor meer as een seisoen. ‘n Droogte kom oor ‘n tyd en is so ernstig soos wat jy dit bestuur. Sekere goed kan boere nie bestuur nie,” sê Johan van den Berg.
As die boere byvoorbeeld van Januarie tot Maart swak reënval kry gaan hulle produksie swak wees, dan is dit moeilik in die winter.
Klimaatsverandering is alles wat afwyk van die gemiddeld af. “Die wet van die natuur is om na die gemiddeld toe te neig, nie te droog en ook nie te veel reën nie.”
Johan van den Berg het afgesluit deur te sê: “So die goeie nuus is die weer gaan terugkeer na normaal, ons gaan nie vir ewig die droogte ervaar nie. Die El Niño-waarskynlikheid het afgekom na 30% toe en daar is ‘n bo-gemiddelde kans vir reën.”
Die RPO se strewe is om die belange van die kommersiële rooivleisprodusente binne die waardeketting van die rooivleisbedryf te beskerm en bevorder. Om dit reg te kry word klem op die volgende sake geplaas:
- Bevorder dieregesondheid in die Noord-Kaap.
- Bevorder deelname aan die Predasiebestuursforum.
- Bevorder die toepassing van die kode van beste praktyk in die Noord-Kaap.
- Bevorder geïntegereerde produksiepraktyke.
- Bemagtig belanghebbendes om die voorkoming van veediefstal in die Noord-Kaap te bevorder. Die belangrike vraag aan boere is: Is u vee gemerk?
- Bevorder die ontwikkeling van nuwe/kleinboere tot kommersiële vlak.
- Verhoog die doeltreffendheid van die RPO Noord-Kaap se kommunikasie na belanghebbende rolspelers.
Johan van der Colff het gesê: “Pryse van rooivleis gaan onder druk bly. Hierdie druk gaan grootliks kom van die verbuiker af, wie se vermoë om te spandeer onder druk is. Wat kan jy as boer doen om inkomste te stabiliseer? Fokus op die endogene faktore waarop jy ‘n invloed kan uitoefen soos hulpbronbenutting, finansiering, verhoudings, skeppingskrag en geleenthede.”
Die eksogene faktore soos beleid, klimaat en ekonomiese groei, armoede en die regering se besluite is buite die boer se beheer, maar dit het ‘n invloed op die prys van die produk, produksiekoste, grondwaardes en die uitbreidingsmoontlikhede.
“Maar ek glo as boere het julle die vermoë om te oorleef. Rooivleis is gesond en voedsaam en onthou rooivleis is nie duur nie,” sluit hy af.
Professor Johan Willemse, bekende landbou-ekonoom, het by die kongres gepraat oor die marksiklusse in die landbou en hy sê dit is baie belangrik vir ‘n boer om ‘n vyf jaar-plan te hê. “Net soos enige ander onderneming is dit baie belangrik dat die boerdery ‘n sakeplan moet hê. Ons moet voorsiening maak vir goeie en slegte tye.”
Vind meer uit oor die RPO se werksaamhede by www.rpo.co.za.