Ripper Tillage: Uit eie bodem, vir ons bodem

rippel tilage 1
’n Tipiese Rip-Till-eenheid van Ripper Tillage
“Mense weet nou ons is hier by NAMPO,” vertel Christine Bouwer van Ripper Tillage. “Hulle kom groet ons en bring hulle buurmanne sodat ons hulle ook kan help om bewaringsbewerking ekonomies toe te pas.”
Dit is Ripper Tillage se tweede jaar by NAMPO en die familiespan moes goed bontstaan om almal te help.
Ripper Tillage se span hou graag boeredae of ‛n demonstrasie op ‛n boer se plaas om die regte toerusting vir hom aan te beveel of spesiaal te maak. Hulle neem die bestaande trekkerkrag in ag, hoe diep die bewerking moet wees en watter tipe grond dit is. Vir meer klipperige grond sal ‛n geriffelde skottel byvoorbeeld beter werk as ‛n baktipe skottel wat meer doeltreffend in sandgrond is. Die soort grond sal ook ‛n invloed op die soort roller hê.
Die beginsel van Ripper Tillage se bewaringsbewerking is dat daar slegs in die plantry ‛n skeurploegaksie van 300 mm en dieper plaasvind om verdigtingsvlakke te breek, sonder om die res van die grond te versteur. Dit kan reeds net na strooptyd gebeur as die grondvogvlakke reg is en ook gebruik word om kunsmis vooraf te plaas. Dit werk veral in droëland en sandgronde waar gewone strookbewerking van vlakker as 300 mm nie doeltreffend is nie.
Die boer verskaf die tande en Ripper Tillage bou die res van die masjien vir die rydwydte en aantal rye.
Nog ‛n gewilde masjien van Ripper Tillage is hulle rolegtand en hulle het vanjaar op NAMPO ‛n indrukwekkende 16-ry stapelvoumasjien vertoon. Christine sê die masjien is al in 2005 ontwerp met die doel om grondkorse tussen jong sonneblom en mielies te breek. Die korse vorm na harde buie reën en dikwels belemmer dit veral die swak sonneblomplantjies se groei so dat boere oor moet plant. Die roleg gee die plantjies kans om behoorlik wortel te skiet en te groei.
Die karretjie bly in die regte spoor as gevolg van ‛n swenkaksie en dit het ‛n drukveer vir drukverstelling. Die karretjies kan ook verskuif word om tussen rye te loop en kan meer aggressief gestel word vir die rol van windkeerwalle.
Nooi gerus die span van Ripper Tillage na jou volgende boeredag. Skakel Christine Bouwer by 082-773-9297 of stuur ‛n e-pos na cpbothariptill@gmail.com.

Chris Botha, Christoff Botha en Christine Bouwer is die Ripper Tillage-span wat hier by hulle indrukwekkende 16-ry rolegtand staan.