Categories: NewsPublished On: 18th November 2016

Renault Captur Sunset Edition

By 3 min read
618 words
renault

renault_captur-sunset-sideq

Renault het onlangs sy gewilde Captur sportsnuts-modelreeks uitgebrei met die toevoeging van dieselenjins asook ‘n pragtige Sunset Edition wat as ‘n beperkte weergawe beskikbaar is. Volgens Renault groei verkope in die klein sportnuts segment en is hulle Captur-model waarvan 300 eenhede elke maand nuwe eienaars kry, se verkope aan’t klim. Dit is tans, naas die goedkoper intreevlak  Sandero, hulle tweede beste verkoper wat,  midde in ‘n straf kompeterende segment en ‘n ekonomie wat knyp, boekdele spreek van die oulike Fransman se gewildheid.

Die Captur-reeks het aanvanklik slegs bestaan uit twee petrolenjin-modelle. Die intree model is die 900 cc turboaangedrewe petrol wat 66 kW en 135 Nm se pieksyfers lewer en na die voorwiele aangedryf word  met ‘n 5-gang handratkas. Twee afwerkingsvlakke naamlik Expression (R249 900) en Dynamique (R264 900) is beskikbaar. Renault se amptelike brandstofverbruik word aangegee as ‘n indrukwekkende 4,9 liter per 100 km.

Die Captur 88 kW Turbo EDC kom toegerus met ‘n 1200 cc vier silinder turbo-oondjie wat 88 kW en 190 Nm uitskop. Aandrywing is ook na die voorwiele maar hier wel deur ‘n 6-gang dubbelkoppelaar outokas. Slegs die hoër Dynamique afwerkingsvlak is plaaslik beskikbaar teen R304 900. Volgens Renault gebruik hierdie knaap slegs 5,4 liter per 100 km.

Nou onlangs was ons by die bekendstelling van twee nuwe modelle, waarvan een ‘n Limited Edition is, wat tot die reeks gevoeg en met die bekende 1,5 dCI diesel turbo enjin toegerus is. Die 1461 cc viersilinder dieselturbo enjin lewer  66 kW se piekkrag en ‘n gewillige 220 Nm wringkrag. Aandrywing is na die voorwiele deur ‘n 5 gang handratkas.

Hierdie dieselenjin is geen onbekende op plaaslike bodem nie en doen reeds fluks diens in  die Juke, Qashqai en  NP200 bakkie-modelle van Nissan. By Renault kom die Duster en die Kadjar met hierdie gewilde oliebrandertjie toegerus. Volgens Renault is hierdie enjin wêreldwyd gesog en word reeds in 85 voertuigmodelle gebruik, waaronder Mercedes se A-klas in Europa.

Benewens die twee nuwe modelle het Renault ook die hele modelreeks se multimediastelsel opgegradeer. Hierdie stelsel bied klasleidende funksies soos ondermeer satnav navigasie in al die modelle. Die bedryfstelsel wat benewens die satnav ook die kommunikasie en slimfoon integrasie, klankstelsel en voertuiginligting oordra, werk nou vinniger met die raakskerm wat aan selfoontablette herinner en soortgelyk werk. By die satnav stelsel is die beelde en kaarte veel meer akkuraat en realisties en is die steminstruksies ook makliker om te verstaan.

‘n  Tru-kamera met hoëresolusie beelde wat vertoon as die motor in trurat geskakel word is ‘n verdere toevoeging . Die radio skakel nou koordloos met jou slimfoon sodat jy jou gunsteling kompelasies vanaf jou selfoon oor die Captur se klankstelsel kan speel.

Die nuwe dieselenjin is beslis ons gunsteling. Tydens die bekendstelling in die dun Gauteng se lug het die klein dieselenjin beïndruk met die gemak waarmee die klein enjintjie verbysteek en versnel. Die hoë wringkrag by lae toere maak die Captur ‘n fees om in verkeer te bestuur. Voeg daarby sy klasleidende verbruiksyfer van 3,6 liter per 100 km( selfs beter as Toyota se Prius hibriede motor!) en ‘n CO₂ syfer van onder 100 g per km en die Captur se gewildheid gaan beslis toeneem. Die Captur 1.5 dCi Dynamique kos R289 900.

renault

Uiteraard sal ons verkies om een van die beperkte weergawe Captur dCi Sunset modelle te hê (slegs 100 word beskikbaar gestel). Die treffende tweekleurmotief afwerking van  swart en skel-oranje is heerlik op die oog. Die oorwegend swart afwerking van die Sunset Edition word binne en buite met mildelike spatsels, strepe en aksente van skel-oranje getooi om ‘n vrolike, treffende en tog stylvolle geheelbeeld te skep.

Die Captur en veral die Sunset Edition stel nuwe standaarde in sy segment vir uitleg en afwerking van die binneruim en  instrumentasie. Die Captur 1,5 dCi Sunset Edition kos R294 400. As jy een kan kry, koop hom dadelik!

ultimate-drive

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

renault

renault

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0