Reinke se kanniedood spilpunte bied boere waarde vir geld

DSC_0816
՚n Suksesvole oes hang af van ‘n betroubare spilpunt. Reinke laat elke druppel tel.
՚n Noodsaaklike deel van duisende boerderye wêreldwyd is die spilpunt. Wat ՚n boer van ՚n spilpunt verwag is doeltreffendheid, betroubaarheid en lang lewe. ՚n Boer wil die versekering hê dat sy belegging hom dekades lank sal bevoordeel.
՚n Wyse boer wat die regte keuses maak, is oom James O’Kennedy wat op die plaas, Doornkloof, in die Swellendam-distrik boer. Langlewendheid is ՚n goue woord in sy woordeskat en hy kies Reinke vir sy spilpuntbesproeiing.
Oom James vertel: “My grootste behoefte op die plaas was water. Toe ek op die plaas aangekom het, was hier niks nie. Hier was geen wateraanleg of pyplyne uit die rivier nie. Ons het die water met trekkers en sleepwaens aangery, vyf kilometer van die rivier af. Oor die jare heen het ek die plaas begin ontwikkel en uitbrei.

“My eerste sestien hektaar teen die rivier is besproei met ՚n trekker en ou tradisionele spuite. Toe ek vir die eerste keer die spuite aangeskakel het, het ek sommer ՚n knop in my keel gekry, en dit is waar dit alles begin het.
“Die verskuiwing van die pype het ՚n uitdaging vir my begin raak. Ek het
toe navorsing begin doen en daarna ՚n selfloper-kanonspuit aangeskaf. Ek kon nie al die lande met die kanonspuit besproei nie, en die spuit hou nie baie van skuinstes nie. Toe kom die volgende generasie in, en dit was spilpunte.
“Ek het destyds kontak gemaak met Spilhaus en die produk wat hulle op die mark gehad en vir my voorgestel het, was Reinke-spilpunte. Dit is waar dit alles begin het.”
In 1981 is Doornkloof se eerste 13-toring spilpunt onder teen die
rivier opgerig.
Oom James sê: “Die wonder van ՚n spilpunt wat ek beleef het teenoor die ou tradisionele spuite wat elke dag opgetrek moet word, is die feit dat die spilpunt loop wanneer jy wil hê hy moet, hy is betroubaar en daar was in my hele 43 jaar se besproeiing tot dusver geen ander spilpunt wat by ՚n Reinke kom nie.
“Die geheim van ՚n Reinke-spilpunt is sy lae profiel; dit is ՚n ligte spilpunt, en die gehalte materiaal waarvan die spilpunt gemaak is, is topklas. ՚n Reinke-spilpunt is ook stil – jy hoor hom skaars beweeg in jou land. Ek het ander spilpunte ook al op die plaas laat oprig, maar na my mening is daar niks wat by ՚n Reinke kom nie,” voeg hy by.

“Nadat die eerste spilpunt in 1981 opgerig is het die gogga my gebyt. Ons het later daardie jaar nog twee 25-hektaar Reinke-spilpunte gekoop en nog ՚n 12-toring met ՚n oorhang.
“Dit was toe vier Reinke spilpunte, en nommer vyf, ek noem hom die weeskind, was die plaasvervanger van die een 25-hektaar spilpunt nadat ՚n baie sterk noordwestewind hom omgewaai het. Ten spyte van die feit dat die spilpunt omgewaai het, het hy niks anders oorgekom nie, en dit kan alles toegeskryf word aan die sterkte van die staal waarmee die spilpunte ontwerp en vervaardig word,” sê oom James.
“Oor die jare heen het ons uitgebrei en hoofsaaklik kontantgewasse geproduseer; mielies en graan. Ek was op daardie stadium ՚n leek wat somergewasse aanbetref, en ek het gou agtergekom dat ek kundige raad
nodig gehad het.
“Ek het ՚n punt daarvan gemaak om jaarliks in Douglas en Prieska se omgewing te gaan kuier om te kyk wat doen die manne daar en hoe hulle dit doen: hoe bewerk hulle, hoe besproei hulle … Ek wou myself nie slim hou nie, en deur die proses was ek baie bevoorreg om kosbare mense te ontmoet wat hulle kennis met my gedeel het, en daarmee het ek teruggekom,” vertel oom James.
Hy voeg by: “En so het ek die leer geklim. Ek het begin by sewe ton mielies per hektaar en later oeste van veertien ton per hektaar behaal deur die kundigheid wat ek geleer het toe te pas. In 1994 het ek ՚n redelike groot skaapboerdery-afdeling op die plaas begin. Ek het in die Karoo met skaapboerdery grootgeword, so dit is eintlik waar my kundigheid en kennis hoofsaaklik gelê het.”

Oom James was in daardie stadium die tweede grootste wolboer in die Weskaap. Hy het ook verder uitgebrei en ՚n melkstal opgerig met ongeveer 1 000 Jersey-melkkoeie. “Ons het ook langtermyn gewasse, onder meer lusern, onder besproeiing begin aangeplant om insette van buite te verminder.
“Na twintig jaar se besproeiing het ek besef nog ՚n unieke karaktereienskap van die hoësterkte staal van Reinke se spilpunte, is die feit dat al is die staal hoe dun, die spilpunt nie sal meegee nie. Hy sal ՚n gaatjie maak en spuit, maar daardie konstruksie bly staan.
“Nie al ons lande is tafelbladgelyk nie. Die Reinke-spilpunte het ՚n voordeel bo ander spilpunte, deurdat hy groter hellings se buig kan hanteer, opwaarts en afwaarts. Omdat die spilpunt lig is, beweeg hy met gemak. Of die spilpunt afwaarts loop of klim, hy dra nie swaar gewig saam met hom nie, jy hoor hom ook nie kla nie, jy sien maar net hoe hy deur die vallei beweeg en doen wat hy moet doen,” verklaar oom James.
Hy lig ՚n paar eienskappe van Reinke se spilpunte uit: “Die grootste voordeel van Reinke-spilpunte in my oë is die betroubaarheid, sekerheid, langlewendheid en minimale slytasie op die ratkaste. As daar nie probleme by die pomphuise is nie, het die spilpunte nooit gestaan nie. Ek as ՚n besproeiingsboer glo dat voorsorg beter is as nasorg. As jy na jou spilpunt kyk, sal hy na jou ook kyk.
“Ek sal nooit tot my laaste asem iets anders koop as ՚n Reinke nie. Die diens en ondersteuning wat ek vanaf die Reinke-span en Patrick Ellis ontvang is puik,” sê oom James.

Na vele suksesvolle jare het oom James besluit om sy boerdery af te skaal. Sy raad aan jong boere en ander besproeiingsboere daar buite is dat alles in die lewe gepaard gaan met passie.
Bekwaam jou so gou en so goed as wat jy kan om op hoogte te kom met die spilpunt wat jy koop; leer hom ken. As die baas van die plaas nie ondervinding op sy plaas het met wat hy doen nie, kan daardie plaas nooit op sy bene bly nie.
“Ek was bevoorreg om so groot te kon word, hard te werk en kennis op te bou oor wat om my aangaan, en daarvoor is ek ewig dankbaar.”
As jy wil besproei om te wen, skakel vir Patrick Ellis by +27(0)31-350-4525 of stuur ՚n e-pos na patrickellis@reinke.com. Besoek ook Reinke se webtuiste by www.reinke.com vir meer inligting.