Reinke poets Brits-boere se toekoms blink

DSC04175
Reinke se pa-en-seun-span Werner en Mario Wolvaardt saam met Stephan van Staden van Van Staden Boerdery.
Met pasgemaakte Reinke-spilpuntoplossings by Van Staden Boerdery is daar nou ’n blink en suksesvolle toekoms wat vir dié familieboerdery voorlê. Reinke het bewys dat die regte spilpunt jou nie net geld en tyd kan spaar nie, maar ook jou boerdery sal laat floreer.
Van Staden Boerdery, ’n familietradisie
Stephan van Staden boer saam met sy pa en drie broers in die Brits-omgewing. Hy is reeds die vierde geslag op hierdie groenteplaas langs die Thabazimbi-pad.
Van Staden Boerdery verbou hoofsaaklik groente, sitrus en tafeldruiwe. Hoewel elkeen van die Van Stadens hul eie rol in die boerdery het, is Stephan verantwoordelik vir die chemiese en bemestingsaanbevelings en kalibrasies.
Soos ander plase in die omgewing is hulle deel van die Hartbeespoortdam-besproeiingskema. Water uit die dam en omliggende opvanggebiede word deur kanale en pompe versprei na landbougrond in die streek. Die skema maak intensiewe landbou in ’n relatiewe droë gebied moontlik.
Die boerdery se uitdagings
Stephan vertel dat hulle reeds verskeie uitdagings op die plaas gehad het. Omdat hulle gelukkig genoeg is om in die besproeiingskema te wees, is dit vir hulle uiters belangrik om water presies en korrek toe te dien.
“Ons het wegbeweeg van die konvensionele pypstelsel. ’n Spilpunt was net meer koste-effektief en minder arbeidsintensief. Daardie syfers het nie meer geklop nie. Spilpunte het dinge vir ons baie vergemaklik,” verduidelik hy.
Hulle het hul eerste Reinke-spilpunt in 2024 laat oprig en begin deur uie onder die spilpunt te verbou. Tans verbou hulle suikermielies onder dieselfde spilpunt.
Ses maande later is ’n tweede Reinke-spilpunt opgerig, waaronder hulle blaarslaai en kool verbou.
“Ons het al van die ander mededingers se spilpunte getoets, maar toe Reinke vir ons verduidelik wat hulle kan bied, het ons besluit om hulle ’n kans te gee. Dit wat hulle belowe het, kry ons,” sê Stephan.
Hy verduidelik dat elke boer sy eie behoeftes het en sy spilpunt wil laat inpas by die boerdery. Reinke het seker gemaak dat die nuwe spilpunte perfek by die plaasuitleg aanpas.
“Ons moes ’n paar aanpassings maak, en ons het al voorheen met maatskappye gewerk wat ons nie kon akkommodeer nie. Reinke het vir ons ’n pasgemaakte spilpunt gebou wat presies op ons lande inpas en aan ons behoeftes voldoen.”
Een van die uitdagings was dat ’n gedeelte van die lande onder nette is waar hulle rissies verbou. Pleks van ’n drie-toring spilpunt het Reinke ’n twee-toring spilpunt gebou wat dieselfde area dek, maar bo-oor die nette kan beweeg.

Van Staden-Boerdery se suikermielies groei mooi onder hul Reinke-spilpunt.
Reinke het die regte plan
Mario Wolvaardt is deel van die pa-en-seun-span wat die beplanning en installasie van die Van Stadens se spilpunte hanteer het. Hy en sy seun Werner het nou saam met die Van Stadens gewerk om die spilpunte aan te pas vir hul behoeftes.
“Ek en Reinke kom ’n lang pad. Ek het gehelp om meer as 500 spilpunte vir Reinke in Afrika op te rig. Daarna het ek my in Brits gevestig. Ek ken hierdie boere al lank en ek het die kennis van die Reinke-produkte. So het ek en Stephan begin gesels,” vertel Mario, Reinke se agent in die wyer Brits-omgewing.
Die Van Stadens het vir Mario gesê dat hulle iemand soek wat ’n volledige diens kan lewer. Hulle wou van hul ou stelsels ontslae raak, en Mario se meer as 40 jaar ondervinding in landbou het ideaal ingepas.
“Ons het gesels oor die funksionaliteit wat ons kan bied en hul behoeftes bespreek. Van hul grootste probleme was arbeid en ongelyke watertoediening op die ou stelsels. Ons was nie die eerste spilpunte op die plaas nie, maar met die uitbreiding van die boerdery en die nuwe lande het ons geweet ons kan help.”
Mario en Werner het vasgestel of die Van Stadens meer as een gewas onder die spilpunte wou verbou en wat hul presiese waterbehoeftes was. Met daardie inligting kon hulle die nuwe stelsels ontwerp en oprig.
“Die nuwe stelsels het veroorsaak dat hulle risiko beter kon bestuur, koste kon bespaar en meer effektief kon boer. Die beheer van die spilpunt het ook verbeter, wat beteken dat hulle onmiddellik arbeid kon spaar. Die spilpunte het hulle in die posisie geplaas om ’n hoër opbrengs per hektaar te kry en steeds water te bespaar.”

Stephan Van Staden van Van Staden Boerdery boer saam met sy pa en drie broers.
Die Reinke-verskil
Stephan het die verskil duidelik gesien: “Ons het agtergekom dat ons waterverbruik tot en met oestyd drasties verminder het. Daar was minder verliese aan water in vergelyking met die ou stelsels, en ons kan ook in terme van opbrengs sien dat daar ’n groot verskil gekom het.”
Saam met die nuwe spilpunte is die Reinke CropX-stelsel ook op die plaas geïnstalleer. Hierdie stelsel laat hulle toe om presiese watertoediening vir elke gewas onder die spilpunt toe te pas.
“Ek dink van die dag dat ons met die spilpuntbeplanning afgeskop het tot vandag toe, het Reinke ons verwagtinge oortref. Ons is baie tevrede met wat hulle vir ons doen. Ons voel ons kan op hulle staatmaak – hulle bring na die tafel toe wat hulle belowe het. Ek sal beslis Reinke aanbeveel aan my buurman,” sê Stephan.

Mario Wolvaardt is Reinke se agent in die Brits-omgewing.
Hoekom kies boere vir Reinke
Reinke-spilpunte is ontwerp om jou boerdery vorentoe te neem, met ligte maar duursame staal en ’n goeie prys, meen Mario.
“Hierdie spilpunte is uniek. Dit pas uitstekend by groenteboere. Ons besproeiingspakkette is dinamies en werk goed. Ek dink die grootste voordeel is ons ondervinding en die fantastiese diens van Reinke se tegniese- en verkoopsmense,” vertel hy.
Hoewel Reinke nog nuut is in die Brits-omgewing, glo Mario hulle is besig is om hulself daar te vestig. In die res van die land en Afrika het hulle reeds bewys wat hul spilpunte kan vermag.
“Die groot doel is om boere te help om effektief te boer. Ons kan nie vir hulle sê hoe om te boer nie, maar ons kan ondersteuning bied sodat hulle die meeste voordeel uit ons produkte kan trek,” sê Mario trots.
Indien jy belangstel om meer te leer oor Reinke se spilpunte en wat die span vir jou kan bied, besoek gerus hul webtuiste by www.reinke.com