Reën maak Tuinroete-boere ‘modderbestuurders’

reen1
Deur Tisha Steyn
Terwyl groot dele van die Wes-Kaap die afgelope week of wat onder swaar reëns en vloedwater deurgeloop het, het die Tuinroete en Klein-Karoo darem ook hul deel gekry.
Tuinroete
Meer as die helfte van die jaar se gemiddelde reën het reeds teen die middel van Junie in die Mosselbaaigebied van die Suid-Kaap geval. “Daar het reeds meer as 400 mm hier by ons geval,” vertel Henry Meyer, die Suid-Kaap se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap. “Die jaarlikse gemiddeld vir die gebied is 650 mm, en die 220 mm in Mei was die meeste in 38 jaar!”
Maar die boere kla nie, sê Henry, en vertel die storie van ‘n werker wat op ‘n dag by ‘n kelder vasgetrek is waar hy wyn gesteel het. “Om hom ‘n les te leer, het ek vir hom nog wyn gegee. Toe hy uiteindelik die beker neersit vra ek hom: Het jy nou genoeg wyn gehad? Was die wyn te vee?. Sy antwoord was “Nee meneer, die wyn is nooit te veel nie, die man is te min!”
Net so met die reën: “Die reën is nie te veel nie, ons grond is te min!” verklaar Henry.
Met die baie reën in Mei kon hy nie klaar plant nie: Hier is nog sowat 60 ha van my belangrikste gewasse wat ek nie kon plant nie. En in die landerye waar wel gesaai is, kan hy nie met die trekker inkom om teen roes en swamme te spuit nie, die spuitkar sit vas, en die wind waai.
Weens die wind kan die kanola ook nie uit die lug gespuit word nie, want die wind sal die chemiese middels ook oor die graanlande waai.
Volgens hom kan die boere ook nie bemesting toedien nie, want hulle kan nie met die swaar trekkers in die landerye inkom nie. “Ons is nie graanbestuurders nie, ons is modderbestuurders! Ons is nie gerat vir hierdie soort weer nie.”
Henry is ook ‘n suiwelboer wat so 200 jerseykoeie melk. “Die koeie moet deur die modder ploeter en vrotpootjie kom voor. Die bakteriese telling is hoog, want die koeie slaap in ‘n modderbad in oop kampe, nie almal het onderdak oornagplek nie.
Maar die boere kla nie. “Ons grond- en ander opgaardamme is vol. Die grond is versadig – as dit 10 mm reën, lyk dit soos twee duim! Maar dis oukei: die reën maak sy eie skade reg; ek moet die droogte se skade regmaak.”
Die Tuinroetedam by George loop ook oor. Die Ernest Robertsondam en die Wolwedansdam in die Groot-Brakrivier in die Mosselbaai-munisipale gebied is ook albei vol. Die Korentepoortdam by Riversdal, die Duivenhoksdam by Heidelberg, die Elandskloof dam en die Buffeljagsdam is almal of feitlik vol of loop oor.
Louis van Dyk van die Korente-Vette Besproeiingsraad by Riversdal se dit reen elke week. “Wat ṅ seëning van Bo. Baie boere is van mening dat hul eerder die reën kies bo die droogte!” sê hy.
Klein-Karoo
Johan Keller van Volmoed laat weet dat landboutoestande baie gunstig is, maar ook in die Klein-Karoo sukkel die boere om die laaste lande te saai wat te nat is. “Al die riviere loop sterk en die boere hoef nie meer die landerye nat te lei nie, dis nat genoeg.”
Op Volmoed, waar hoofsaaklik met volstruise en lusern geboer word, het dit die afgelope week 35 mm gereën, terwyl 50 mm in die opvangsgebied van die Saffraanrivier teen Robertsonpas tussen Oudtshoorn en Mosselbaai geval het.
Die Kammanassierivier loop sterk en volgens Willem Fourie van die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV) het die Kammanassiedam teen Donderdag 34,53% water met ‘n invloei van 111 kusek gehad Die Stompdriftdam het 23,23% water.
Intussen het Oudtshoorn se burgemeester Chris MacPherson landelike inwoners gewaarsku om hul kinders en diere weg te hou van kanale wat water uit die besproeiingsdamme na plase neem. “Ek doen ‘n ernstige beroep op ouers wat in die omgewing van die waterkanale woon om te verseker dat kinders nie naby die kanale speel of sonder toesig is nie.”
Die leibeurt duur van 19 tot 26 Junie. Die kanaalsisteem strek vanaf die Kammanassie- en Stompdriftdamme verby Dysselsdorp en Oudtshoorn tot net voor Calitzdorp en loop op plekke vlak by huise verby.
Volgens Chris Swart, senior bestuurder van water en riool by die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, het die streek goeie reën gehad en die Raubenheimerdam waaruit Oudtshoorn water kry, loop oor.
Die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) wat water aan De Rust, Dysselsdorp en tot by Calitzdorp verskaf, meer deur beurtkrag gekniehalter word.
“Dysselsdorp asook die Klein Karoo Landelike Watervoorsiening Skema se bron van water is boorgate wat geleë is in die Kammanassieberge en in die omgewing van Dysselsdorp,” verduidelik Chris. Die rouwater word vanaf agt boorgate met ‘n 22 km-lange pyplyn na die watersuiweringsaanleg (WTW) in Dysselsdorp gepomp waar dit gesuiwer word. Daarvandaan word die water na die twee hoof reservoirs in Dysselsdorp gepomp wat onderskeidelik die landelike gebiede asook Dysselsdorp bedien. Hierdie boorgate moet vir ‘n minimum van 20 uur per dag gepomp word om aan die aanvraag te voldoen, maar met beurtkrag lol dit, ten spyte van reën in die gebiede.
Ander damme wat die Klein-Karoo bedien is ook byna vol of aan die oorloop. Die Prinsrivierdam het 96,6% water, terwyl die Calitzdorpdam oorloop. Die Gamkadam by Beaufort-Wes is ook feitlik vol.
Dean Barnard, ‘n steenvrug- en hopsboer van Waboomskraal, sê dit het die afgelope week sowat 30 mm gereën. “Die meeste damme loop al uit en die grond is lekker nat. Ons is baie geseën en baie dankbaar!”
Fanie Kemp van Avontuur, waar met sagtevrugte geboer word, sê die gebied kry baie lekker winterreën en die weidings kan groei. “Deur die genade het dit baie goed gereën!”
Wendy Young van Uniondale het Saterdagoggend gesê dit is heerlik windstil met sonskyn na die 38 mm wat deur die week in die omgewing geval het. “Ek het rondgevra, die boere het almal goeie, baie welkome reën gehad.”
Cavert Barkhuizen, wat onder meer met groente in die Bo-Kammanassie boer, sê die omgewing is goed nat. “Die Kammanassierivier loop: dit het verlede week 30 mm oor twee dae gereën, die week tevore ook 20 mm. Dit was lekker sagte reën en ons is baie dankbaar.”
Vir baie boere in die Klein-Karoo kom die milde reëns te laat. Weeber Truter, wat by Heimersrivier met sybokke boer, se dit het in Mei 50 mm en in Junie sover 70 mm by hom gereën. “Die veld lyk mooi en die hawer, wat ek vir weiding aanplant, groei mooi!”
Hy is al boer oor in dié gebied; die boere rondom hom het weens die droogte van die afgelope agt jaar hul plase verloop en elders ‘n lewe gaan probeer maak. Die plase is uitgekoop deur twee groot boerderybesighede van die distrik, wat ook ‘n invloed op die plaaswerkers op die plase het. “Voorheen het elke plaas ten minste ‘n trekkerdrywer nodig gehad, maar die groot boere gebruik nou een drywer vir vyf plase.”