Categories: Artikels, Boer slim!Published On: 10th February 2022

Plant pistasieneute vir meer wins

By 4 min read
733 words

pistachios-gce4c430c7_1920

Die afgelope paar jaar het meer boere in Suid-Afrika pekanneute begin plant omdat die bedryf winsgewend is. Maar daar is ook ander neutsoorte wat vir die boer net soveel of selfs meer geld kan verdien. Een van daaardie neute is pistasieneute, in Engels pistachio nuts, en in Afrikaans ook bekend as pimperneute, of groenamandelboomneute.

Pistasieneute bevat baie vitamien A, vitamien E en kalium, maar min kalorieë. Dit bevat ook melatonien wat jou beter laat slaap.

“Pistasieneute is nie net lekker nie, maar is as ՚n soort superkos bekroon en die internasionale aanvraag daarna het oor die afgelope vyf jaar verdubbel,” sê David Müller van Uitdraai Boerdery naby Prieska.

“Suid-Afrika is van die min lande wat pistasieneute suksesvol kan verbou.

“Pistasieneute is ook ՚n permanente gewas wat teoreties ՚n onbeperkte leeftyd het, mits dit goed bestuur word. Daar is rekords van bome wat ouer as ՚n eeu is en nog baie goed dra,” sê hy.

Uitdraai Boerdery het 6 ha pistasieneute wat al vir sewe jaar in drag is.
David is ook voorsitter van die “Pistachio-produsentevereniging” en nie-uitvoe-rende direkteur van die “Pistachio Nut Company (PNC)”.

Sy pa, Orffer Müller, het destyds pistasieneute op hulle plaas gevestig as deel van ՚n Nywerheidsontwikkelingskorporasie- (NOK) -projek.

Orffer Müller het die eerste verwerkingsmasjiene uit Amerika ingevoer, maar vandag spog Uitdraai met sy eie verwerkingsaanleg.

Pistasieneute is ՚n hoogs winsgewende gewas. “Die omset wissel van R200 000 tot R500 000 per hektaar afhangende van die jaar,” sê David.

Omset van verskeie neutsoorte, per hektaar, verbou in die VSA. (Grafiek:
INC Statistical Yearbook 2019-2020)

Hy noem ook dat ՚n goeie pistasie-oes 3 tot 4 ton per hektaar is en die gemiddeld is 2,5 ton per hektaar. “Ek het tot ՚n oes van 6,5 ton per hektaar by ses van my bome gesien,” voeg David by.

Pistasieneute staan vierde op die wêreldneutproduksielys. Die totale pistasieproduksie kom vanaf vyf lande, naamlik die VSA, Iran, Turkye, Afghanistan en Sirië.

Pistasieneute kan enige plek in Suid-Afrika geplant word. “Daar is sowat tien proefblokke in 2020 regoor die groter Karoo gevestig om verskeie gebiede te toets. Dit presteer baie goed in sekere dele van die Noord-Kaap, mits jy verstaan wat die regte bestuursvereistes is. Pistasieneute verkies lae somerreënval en uiters warm somers,” sê David.

Volgens David word die neute tans plaaslik verkoop en nie uitgevoer nie. “Plaaslike verbruik is sowat 200 tot 250 ton, terwyl internasionale verbruik rondom 600 000 ton is.”

Die groot vraag is wanneer kan die neute geoes word. “Die eerste oes is rondom die sesde jaar en die bome is in volle produksie vanaf 8 jaar oud,” sê hy.

Anders as pekanneute mag pistasieneute nie met die grond in aanraking kom tydens die oesproses nie. “Ons gebruik vangraamskudders van Amerika, maar daar is verskeie masjiene beskikbaar om die neute te oes,” sê David.

Karoo Pistachios is ՚n uiters gewilde produk en baie gesond. Hy raai meer boere in Suid-Afrika aan om pistasieneute te plant.

Elke boer besluit op ՚n besproeingstelsel wat by sy omstandighede en bestuur inpas vir die pistasieneute. David gebruik laevloei-drupbesproeiing.

David noem ook dat die grootste uitdaging met pistasieneute die finansiering van die uitbreiding vir die eerste ses jaar is totdat die boord ten volle dra. “Teen jaar vyf is jou kontantvloei al positief en teen jaar agt het jy reeds al jou geld terug gemaak,” sê hy.

Pistachio Nut Company

Die Pistachio Nut Company is in 2019 gestig met die doel om Suid-Afrika te
posisioneer as ՚n gerekende speler in die globale pistachio bedryf. PNC is die toonaangewende kenners op pistachios in Suid-Afrika en het drie-kwekery waar hul bome vermeerder.

Pistachio Nut Company is voortdurend besig met proewe en voer ook nuwe pistasieneut kultivars in wat op die proef gestel word om die bedryf
voortdurend te verbeter. Pistachio Nut Company is ook ՚n
aandeelhouer in die kooperatief Karoo Pistachios wat ondersteuningsdienste, erwerking en bemarking hanteer.

“Met die aanplant van die bome sal boere ՚n ooreenkoms met Karoo Pistachios aangaan om vir minstens vyf jaar neute aan hul te lewer. In ruil daarvoor verskaf Karoo Pistachios deurlopende tegniese hulp en ondersteuning, velddae en bestuurprogramme om boorde suksesvol te laat produseer en rig aanlegte op wat die neute kan verwerk,” sê David.

Die bedryf is nog klein, maar daar is reeds in 2022 tot 2024, 200 ha se
bome vir aanplanting verkoop. Ons voorsien dat die bedryf vinnig van
hier af sal groei en daar minstens ՚n 1 000 ha ‘pistachios’ gevestig sal wees
teen 2028. Die bedryf het vir lank stilgestaan omdat daar geen bome
beskikbaar was nie” sê hy.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1