Categories: NewsPublished On: 1st March 2017

Plaasaanvallers en veediewe gevang

By 2 min read
464 words
witkruismonument

witkruismonument web

Honderde boere van die Oos-Vrystaat het Maandagaand, 27 Februarie 2017, saam met die Polisie gewerk om plaasaanvallers by Arlington aan te keer. Die VKB/VL Veiligheidslessenaar sê as deel van die aksies deur die boere en Polisie onderneem, is twee vermeende veediewe op heterdaad by Edenville aangekeer.

Pauline van Zyl, van die plaas Roodekraal in die Arlington-distrik, is Maandagaand omstreek 18:00 in die plaashuis deur drie verdagtes oorval. Willie van Tonder, die veiligheidkoördineerder van die distrik, sê die verdagtes wou geld by haar hê en het aangedring daarop dat sy die kluis moes oopsluit. Daar was geen geld in die kluis nie, en die verdagtes het aangedui dat hulle in die huis sou wag tot haar man, Stefan, tuis is sodat hy vir hulle geld kon gee.

Sy is vasgebind en met ‘n plastiese sak oor haar kop in die badkamer gelos. Sy kon daarin slaag om haar hande los te kry, en het hulp ontbied. Sowat 50 boere het paaie in die omgewing afgekordon, en die drie verdagtes is deur die loop van die aand deur die Polisie en boere gesoek. Al drie is in hegtenis geneem. Pauline is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem vir waarneming.

Boere van sowat tien ander distrikte het ook op die noodoproep gereageer en paaie geblokeer. Lomon Terreblanche, veiligheidskoordineerder van die Edenville-distrik, sê terwyl hulle besig was om een van die paaie te blokeer, is hulle na ‘n toneel ontbied waar beeste rondom 22:00 die nag gelaai is. Twee verdagtes is op heterdaad betrap terwyl hulle besig was om beeste te laai, met sowat 120 beeste van twee ander plase wat daarheen aangejaag is om vermoedelik opgelaai te word. Drie ander verdagtes word nog in dié verband gesoek.

Vrystaat Landbou (VL) se Landelik Veiligheidskomitee wil opregte dank uitspreek teenoor alle boere wat op die noodoproepe gereageer het en binne die raamwerk van die Landelike Beveiligingsplan (LBP) opgetree het. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL, sê die organisasie is uiters dankbaar dat geen lewensverlies tydens die voorval voorgekom het nie, en hy bedank ook die Van Zyl’s dat hulle die situasie so nugter hanteer het onder uiters moeilike omstandighede.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van die komitee, sê dit is kommerwekkend dat dit blyk dat plaasaanvalle al meer verband hou met geweld in terme van veediefstal, en vee wat geroof word. Die vermoede bestaan dat die plaasaanval op die Van Zyl’s die gevolg was van veediewe wat probleme gekry het wat toe tot ’n plaasaanval oorgegaan het. Hy rig ’n versoek aan boere om so paraat as moontlik te wees. “Doen alles binne jou vermoë binne die LBP en die plaaslike veiligheidstrukture om jouself, jou gesin, werkers en eiendom te beveilig en aan misdadigers ’n duidelike boodskap te stuur in terme van plaasaanvalle, veediefstal en ander misdade op plase.”

Bron: VKB/VL veiligheidslessenaar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0