Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 10th February 2023

Pioneer gewasfokus: Wat is ՚n kuilvoermielie?

By 3 min read
479 words

Screenshot 2023-01-31 080956

Dit is tipies wat ՚n produsent wil sien wanneer mieliekultivars beoordeel word. Die plante is lank en blaarryk.

deur De Bruyn Myburgh, Pioneer-landboukundige

Pioneer toets al die afgelope vier jaar kommersieel beskikbare kultivars in kuilvoerproewe. Die vraag oor wat ՚n kuilvoermielie of -kultivar is, het aanleiding gegee tot die studie. Is dit kwantiteit of kwaliteit wat die grootste gewig dra? In hierdie Gewasfokusartikel ondersoek ons die vrae.

Wat maak ՚n kuilvoerkultivar goed?

Wanneer ՚n kultivar as ՚n kuilvoermielie beoordeel word, word daar altyd eerstens verwys na ՚n plant wat groot (baie lank) en baie blaarryk is. Dit skep die verwagting dat baie volume of totale opbrengs verkry kan word. Die visuele meting is nie verkeerd nie, maar dit is nie die enigste eienskap wat bydra tot ՚n goeie kuilvoerkultivar nie.

In die proewe is metings gegrond op kultivars se blaar-, stam- en kopgewigte om vas te stel wat werklik tot die totale opbrengs van ՚n kuilvoermielie bydra. Tabel 1 en Tabel 2 toon dat ՚n langer (lengte) kultivar meer oorhoofse opbrengs produseer in vergelyking met ՚n korter kultivar.

Dit is duidelik uit die metings in Tabel 1 en Tabel 2 dat P2927, wat ՚n groot plant is, meer volume produseer as ՚n kultivar soos P1975 wat korter is. Kan P2927 ՚n kultivar soos P1975 klop as ons die kultivars ontleed en vanuit ՚n gehalte-oogpunt teen mekaar meet? Sal ՚n groter totale opbrengs die produksiepotensiaal van die dier wat die kuilvoer gebruik aansienlik verbeter, omdat daar meer volume geproduseer word? Kom ons kyk na die gehalte-ontleding van die kultivars wat getoets is.

Wat is goeie gehalte kuilvoer?

Die gehaltemikpunte vir goeie kuilvoer, is soos volg:

  1. Moet gesny word teen die regte droë-materiaal (DM)-persentasie (35 tot 40%).
  2. Hoë styselopbrengs per kg DM.
  3. Hoë totale verteerbare voedingstowwe = TVV (total digestible nutrients = TDN)**.

Tabel 3 bevat die gehalte-ontledings wat by Labworld (Pty) Ltd in Isando, Johannesburg gedoen is. Hulle is ՚n filiaal van CVAS (Cumberland Valley Analytical Services) in die VSA. NIR-tegnologie (naby infrarooi-tegnologie) word gebruik om alle voedingsparameters van gefermenteerde kuilvoer te meet.

Die gehaltedata toon dat ՚n groot massa-opbrengskultivar soos P2927 goeie gehalte kuilvoer produseer, maar dat die effense laermassa-opbrengskultivar, P1975, beter gehalte kuilvoer lewer.

Opsomming

Die toutrekwedstryd tussen die kwantiteit en kwaliteit van kuilvoer is ՚n strawwe een, soos blyk uit Tabel 3. ՚n Goeie vergelyking kan getref word tussen lang en kort kultivars wanneer gekyk word na die melkproduksiepotensiaal. Massa-produserende kultivars kan sterk mededinging kry van effense swakker massa-produserende kultivars met beter gehalte-eienskappe.

Die keuse van ՚n kultivar hang af van hoe dit inpas in ՚n produsent se boerderypraktyke. Indien ՚n boer byvoorbeeld daarop gefokus is om ՚n groenvoergewas soos hawer te vestig, dan sal ՚n mieliekultivar met ՚n korter groeilengte beter by daardie stelsel inpas. Data soos hierdie bied die boer goeie inligting wat hom in staat stel om die beste kultivar wat die hoogste kwantiteit teen die beste moontlike gehalte lewer, te kies.

Vir meer inligting, stuur ՚n e-pos na info.rsa@pioneer.com of gaan na www.pioneer.com/za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0