Pasop vir veldbrande in winderige toestande!

veldbrand tussen brandfort en bultfontein HannesVanDykBrandfortBultfontein
Meer as 60 000 ha se veld en sowat 4 500 bale voer het verlede week tydens veldbrande in die Vrystaat in die slag gebly. Van die ander skade wat boere gely het, is die verlies van sowat 100 skape en meer as 50 beeste in twee verskillende brande. Nog veeverliese word verwag.
‘n Brand in die Frankfort-omgewing het oor ‘n afstand van 26 km gebrand. Die brand het oor die N3 gespring, waar dit op die ou end deur ‘n voorbrand gestop kon word. Thinus Steenkamp, voorsitter van die Vrystaatse Sambreel Brandbeskermingsvereniging (VSSBBV), sê in dié brand alleen is sowat 50 000 ha se veld verloor. ’n Tweede brand wat terselfdertyd in die Cornelia-omgewing voorgekom het, het vir 14 km ver gebrand voor dit by ’n grondpad gestop kon word. Die skade van dié brand word nog bepaal.
’n Boer van Petrus Steyn het 100 van sy skape verloor in ’n brand wat sowat 11 500 ha se veld afgebrand het. Thinus sê die afgelope Donderdag het sewe brande op dieselfde tyd in die provinsie voorgekom, met baie sterk winde (sommige tot 46 km/u) wat toestande vererger het.
Winderige toestande voorspel
Vrystaat Landbou (VL) het ‘n versoek aan alle boere sowel as lede van die publiek gerig om paraat en versigtig te wees met die oog op veldbrande.
“Met die droogte wat pas verby is en onsekerheid oor weerstoestande in die 2017/18 seisoen, kan die Vrystaat nie tans nog ‘n ramp bekostig nie. Ons wil boere vra, beskerm asseblief jou veld, want ons weet nie wat volgende jaar kan gebeur nie. Ons wil bestuurders vra om nie sigaretstompies by voertuie uit te gooi nie, want dit kan gras aan die kante van paaie aan die brand steek. Verder vra ons dat die maak van oop vure sover moontlik beperk word, veral op winderige dae. So ’n oop vuur kan buite beheer raak en groot skade vir ’n totale gemeenskap veroorsaak,” aldus Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL.
Madimetja Themba, voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW), voorspel winderige toestande in die weste van die Vrystaat. Dié winderige toestande sal na verwagting vandag aan die ooste van die Vrystaat en sentraal Suid-Afrika voorkom. Die winde is ’n gevolg van nog ’n koue front wat oor die land beweeg.
Thinus sê volgens die brand indeks is Woensdag, 23 Augustus 2017, ook ’n hoë risiko dag wat winderige toestande betref.
Grootste risikos
“Van die grootste risiko’s vir brande wat ons nie genoeg kan beklemtoon nie, is kragdrade, asook brande by munisipale vullisstortingsterreine,” sê Thinus. Hy sê sedert verlede maand was daar reeds drie brande wat ontstaan het weens kragdrade wat teen mekaar vas waai weens sterk winde, of bome wat breek en op kragdrade beland en aan die brand raak, wat weer die veld aan die brand steek. Hy vra boere om enige moontlike probleme met kragdrade tydig aan te meld, en om enige bome wat rondom kragdrade voorkom, te verwyder.
“Dan wil ons ook vra dat boere enige instandhoudingswerk wat moontlik in die veld moet plaasvind en waarvoor elektriese toestelle gebruik moet word – wat moontlik vonke kan veroorsaak wat brande kan laat ontstaan – op winderige dae te staak,” sê hy. “Dit is ook belangrik dat ’n area waar ’n brand voorgekom het, vir 12 ure daarna steeds gemonitor moet word, want boomstompe kan nog lank smeul en weer vlam vat sou winderige toestande weer voorkom.”
Hooffoto: ‘n Brand word bestry tussen Brandfort en Bultfontein, Donderdag, 17 Augustus 2017. Foto geneem deur: Hannes van Dyk en verskaf deur Vrystaat Landbou
Bron: Vrystaat Landbou