Categories: Artikels, BesproeiingPublished On: 7th January 2026

Panda Potatoes: Agrico se verbintenis tot Afrika se boere

By 4 min read
734 words

IMG_5181

In die Pandamatenga-distrik in noordelike Botswana wys Panda Potatoes hoe doeltreffende besproeiingstegnologie ’n boerdery heeltemal kan omskep.

Waar klimaat en grondtoestande uitdagings bied, vorm waterbestuur en betroubare Agrico-spilpunte die kern van hierdie plaas se suksesvolle aartappelproduksie. Deur beplanning en betroubare ondersteuning het Van Vuuren Holdings ’n boerdery geskep wat wys hoe besproeiing ’n sleutelrol kan speel in voedselsekerheid in selfs die mees afgeleë gebiede.

’n Onderneming wat groei saam met water

Volgens Fred Janse van Vuuren, eienaar van Panda Potatoes, was dit die ontdekking van goeie ondergrondse water wat ses jaar gelede die deurslag gegee het om in aartappels te belê.

“Aartappels kort minstens 500 mm water in ’n seisoen. Sonder besproeiing is dit onmoontlik om hier volhoubaar te boer,” sê hy. Boorgate voed die plaas se stelsels, en die water word met pompe na die lande gedra waar Agrico-spilpunte die lande besproei.

Panda Potatoes het met verskeie kultivars geëksperimenteer, maar Mondeor en Siffra het koning gekraai. Fred het vinnig besef dat diversifisering noodsaaklik is om die boerdery winsgewend te maak. Vandag produseer hulle nie net aartappels nie, maar ook droëlande sorghum, terwyl die spilpunte ’n sleutelrol speel in plantvoeding en gewasbeskerming.

Die rol van Agrico in Pandamatenga

Op die plaas staan reeds nege Agrico-spilpunte en nog twee is op pad, vertel die plaasbestuurder Duard Malan. “Behalwe vir besproeiing, gebruik ons ook die spilpunte vir topbemesting en giftoediening. Korrelkunsmis word opgelos, deur doseringspompe ingespuit, en dan saam met die water via die spilpunte toegedien. Dit maak die proses baie doeltreffend.”

Wat produsente soos Duard gerusstel, is dat Agrico die meerderheid van die komponente in-huis vervaardig, insluitend die gegalvaniseerde pype. Dit beteken dat bemesting en chemiese toediening deur die spilpunte kan plaasvind sonder om die spilpunt te beskadig, mits die pype ná gebruik behoorlik uitgespoel word.

“Die stelsels is robuust en die onderhoudskoste is baie laag. As ons wel ’n onderdeel nodig het, stuur Agrico Nylstroom dit vinnig, selfs al is ons byna 1 000 km weg,” sê hy.

Agrico het ’n verbintenis om boere in die mees afgeleë gebiede van Afrika by te staan, en sodoende voedselsekerheid nie net in Botswana nie, maar in die hele streek, te versterk.

MC Pretorius van Agrico se Nylstroom-tak beklemtoon dat die uitdagings in Pandamatenga uniek is. “Hier is geen elektrisiteit nie. Alles word met dieselkragopwekkers en sonkrag aangedryf. Boere wat goeie waterbronne het, moet besproeiingsinfrastruktuur installeer om winsgewend te wees. Ons sien dit as ons plig om stelsels te lewer wat betroubaar is en water teen lae energiekoste beskikbaar te maak.”

Aartappelbedryf in Botswana: uniek en uitdagend

“Hier is ek nie net die boer nie, maar ook die bemarker,” vertel Fred oor die aartappelbedryf in Botswana. “Ons bou self verhoudings met die kettingwinkels. Elke besending gaan Gaborone toe waar die grootste mark is.”

Pryse word nie deur ’n formele stelsel bepaal nie. Fred verduidelik dat hy en sy medeboere na Suid-Afrikaanse pryse kyk en onderling kommunikeer om ’n billike prys vir sekere klas aartappels vas te stel. “As ek alleen in die mark is, kan ek my prys bepaal maar ek hou dit billik. Ek wil hê my produk moet verkoop,” sê hy.

Vertroue gebou oor ’n dekade

Die verhouding tussen Panda Potatoes en Agrico staan reeds sterk vir 10 jaar. Fred sê die kern van daardie sukses lê in drie dinge: prys, gehalte en naverkopediens. “Ons is baie tevrede met Agrico se diens. Hulle verstaan dat ons ver van groot sentrums af is, en hulle bly daartoe verbind om ons vinnig te ondersteun.”

Benewens die spilpunte het die plaas ook Agrico Hoë Spoed Disse (HSD) en ander implemente. Fred verduidelik dat hy besonder tevrede is met die HSD wat plantreste opsny en grond bewerk.

“Dit bevorder die opbou van organiese materiaal en dien as kompos vir die volgende seisoen.”

Uithouvermoë in uitdagende omstandighede

Die Pandamatenga-distrik het sy eie stel uitdagings, waaronder droogtes die afgelope twee jaar, die koste van vervoer na markte en die afwesigheid van elektrisiteitsnetwerke. Tog wys die sukses van Panda Potatoes dat boere met die regte kundigheid, harde werk en tegnologie hierdie struikelblokke kan oorkom.

Fred som dit op: “Boerdery is in my bloed. Ek het op die plaas grootgeword en dit was nog altyd my droom. Met die regte vennote soos Agrico kan ons selfs hier, ver van alles af, ’n volhoubare en winsgewende bedryf bou.”

Kyk na video hieronder vir meer:

Besoek Agrico se webwerf vir meer inligting.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0