Orthman stel nuwe saadhanteringstegnologie bekend by NAMPO 2024

IMG_8508
Die SeedPro 400 by NAMPO 2024.
Orthman se Unverferth SeedPro 400-saadkar was beslis die hoogtepunt by hulle NAMPO 2024-uitstalling.
Die saadkar is vir die eerste keer aan boere by NAMPO vertoon, nadat dit al ‘n geruime tyd in die buiteland op die mark is.
Brian Nieuwoudt, Orthman se streekbestuurder, verduidelik dat hulle graag die belangstelling van Suid-Afrikaanse boere wil toets voordat hulle dit hier beskikbaar stel. In hierdie stadium lyk die belangstelling baie goed.

Brian Nieuwoudt, Orthman se streekbestuurder, by die SeedPro 400 wat by NAMPO 2024 uitgestal is.
SeedPro 400
Hierdie saadkar is ontwerp om grootmaatsaad te vervoer. Saadhouers, genaamd Proboxes word bo-op die saadkar geplaas en elke houer kan tot 500 kg se saad dra. Met vier houers kan twee ton saad dus op een slag vervoer word. Met ‘n verdere toevoeging kan nog houers bygesit word.
Die saad kan ook geskei word, so ‘n boer kan mieliesaad in die een houer laai en sojaboonsaad in ‘n ander houer.
Die SeedPro 400 se funksies kan met ‘n handkontrole van ‘n afstand af beheer word. Brian verduidelik jy kan die enjin aanskakel, die saadkar se versnelling stel, die awegaar rondbeweeg en stel hoe vinnig hy moet uitlaai.

Die SeedPro 400 kan talk met die saad meng soos dit ingelaai word, sodat die saad gladder kan vloei.
Die SeedPro 400 wat Orthman by NAMPO uitgestal het het al die spesifikasies en bybehore gehad, maar Brian verduidelik dat jy self kies watter bybehore jy wil saamkoop. Hoewel die een vertoon is op sy eie karretjie gebou is, vertel Brian dat dit nie nodig is nie. Jy kan die saadkar op ‘n wa ook plaas en agter jou trekker of selfs bakkie aansleep.

Die SeedPro 400 het ‘n betroubare Honda-enjin.
Die SeedPro 400 het ‘n Honda-enjin en die awegaar se hoek kan verander word of dit kan uitgeswaai word tot reg bo die planter se saadbak of -bakke. Dit het ook ‘n selflaai-opsie waardeur die awegaar gebruik kan word om saad uit sakke tot in die bakke te laai.
“Een man kan die hele saadkar alleen hanteer,” verduidelik Brian.

‘n Hidrouliese slot sluit nou self die planterrame se vlerke in plek.
Planterrame
Nog ‘n groot trekpleister by die uitstalling was Orthman se opgegradeerde planterrame. Brian vertel dat die meeste boere al Orthman se planterrame ken, maar die ontwerp is onlangs aangepas.
Dit is nou moontlik om die vlerke wat oopvou met hidrouliese krag afwaarts te druk. Vroeër moes boere staatmaak op swaartekrag en gewigte om die vlerke gelyk met die middelste deel van die balk te hou.

Nuwe hidrouliese tegnologie help dat Orthman se planterrame se vlerke nie opdruk as gevolg van windweerstand nie.
Orthman se planterrame kan nou met behulp van hidroulika ook sorg dat die balk altyd in posisie bly en nie oplig wanneer die trekstang afdruk nie. Die hele planter word dus beter gebalanseer deur middel van die nuwe tegnologie.
Waar ‘n operateur voorheen self moes uitklim om die vlerke in plek te sluit word dit nou ook outomaties met ‘n hidrouliese slot gedoen.
Brian verduidelik dat soos wat die tegnologie verander probeer hulle ook om hulle werktuie te verbeter om aan te pas.

Orthman se CS-1465-skraper.
Skrapers
Orthman het hulle bekende skrapers saamgeneem NAMPO toe. Die skrapers is reeds twee jaar op die mark. ‘n Groot voordeel is dat radar- of lasertoerusting bygevoeg kan word om presies gelyk te skraap.
Brian sê dit is onnodig en duur om ‘n groot geelmasjien te gaan koop wat dieselfde werk doen as hulle padskraper wat jy net agter aan jou trekker kan haak.
Orthman se CS-reeks skrapers is ontwerp vir toepassings waar die wegry van materiaal deur ‘n laaigraaf nie nodig is nie, soos vir die konstruksie van terrasse, boupersele, paaie en natuurlik landerye.
Die syplate het vervangbare voor- en ondersnylemme en die skraper self is ‘n A-raam. Die skraper het ‘n hidrouliese kantelas vir presisiegradering. Smeerbare punte vergemaklik die versiening van jou skraper en verseker jare se betroubare gebruik.
Met snywydtes van 305 mm of 350 mm en die vermoë om 5,5 of 6,5 kubieke meter te skuif, is die CS-skrapers veral geskik vir plaaswerk.
Besoek gerus hulle webtuiste www.orthman.com om te leer van die wye verkeidenheid ander produkte wat hulle ook aanbied.