Orthman bespaar diesel en grondvog

orthman1
Die Orthman verrig die werk van vyf verskillende grondbewerkers op een slag. Die voorste wiel beheer die diepte van bewerking, gevolg deur ՚n skottel, beitelploeg en skoffel. Die agterste roller maak die grond gelyk vir die planter. Kyk net hoe stewig is die werktuig.
Twee kosbare vloeistowwe vir die boer is diesel en water. Daarom moet hierdie twee produksiefaktore bewaar, bespaar en ten beste benut word. Dit is presies wat die span van Orthman vir die boer help doen met die 1tRIPr XD Combo-multibewerker. Orthman glo daar is drie basiese beginsels vir doeltreffende grondbewerking.
Dit is:
Goeie saadbedvoorbereiding
Die saadbed word so voorberei dat daar soveel as moontlik vog behoue bly deur net die strook waarin daar geplant word te bewerk. Die bewerking verbeter ook die deursypeling van water na die plantwortels. Dit verseker goeie ontkieming en ՚n goeie stand.
Presiese kunsmisplasing
Die 1tRIPr XD werk ewe goed met droë, vloeibare of NH3-kunsmistipes. Die verstelbare dieptebeheer laat die boer ook toe om verskillende voedingstowwe op verskillende dieptes in die strook te plaas. Die plante neem dan die voedingstowwe op tye wanneer dit die nodigste is om die beste oes te verseker.
Beste moontlike wortelsonevoorbereiding
Die multibewerker maak die wortelsone in die strook los om optimale wortelontwikkeling te verseker. Dit breek kluite op en maak porieë oop sodat die plantwortels plek het om te ontwikkel en meer doeltreffend kunsmis en vog te kan opneem. Hierdie ontwerp en werking is wat Wéhan Coertze van Pavera Agri, buite Lichtenburg, oortuig het om ՚n 1tRIPr XD-multibewerker aan te skaf.

“Ek het ver gesoek en Orthman se naam vir goeie gehalte loop hulle vooruit,” vertel Wéhan. Hy reken ook dat hy tot ՚n derde van sy insetkoste bespaar danksy die multibewerker.
“Die meeste van die geld wat jy bespaar is op diesel. Ek plant teen omtrent 7 liter per hektaar. Dit sluit al die grondvoorbereiding en die planttery in,” verduidelik Wéhan.
Die Combo-deel van die 1tRIPr XD Combo beteken dat ՚n planter agter die werktuig gehaak kan word sodat die hele grondvoorbereiding- en plantproses eensklaps kan gebeur. Dit bespaar nie net brandstof nie, maar ook tyd. Al die kunsmis word ook terselfdertyd toegedien, wat verdere besparings meebring.
Brian Nieuwoudt van Orthman verduidelik hoe die werktuig grondvogverlies beperk. “Omdat jy al die bewerkings gelyk doen, bespaar die boer 30% tot 40% van die grond se voginhoud tussen die rye.”
Wéhan is ՚n boer wat sy huiswerk deeglik doen en hy reken dat die Orthman 1tRIPr XD Combo homself binne twee jaar kan betaal met diverse graanboerdery, of vier jaar wanneer daar slegs met mielies geboer word.
“Ons het proewe gedoen om te sien wat die winsgewendste manier sal wees om te plant. Ek plant nou 30 000 plantjies per hektaar om ՚n goeie stand te kry. Dan stroop ek so gemiddeld 6 ton permhektaar op droëlande,” vertel Wéhan.

Die werktuig is beskikbaar in verskillende groottes wat wissel van ՚n sestot ՚n sestienry bewerker. Die bewerkingseenhede kan ook apart gekoop word om op enige bestaande Orthman-balk aangebring te word.
Wat naverkopediens betref, is Wéhan baie tevrede met Brian se werk. “Soos Orthman, loop Brian se naam hom ook vooruit. Hy is altyd beskikbaar en bereid om te kom help wanneer ek dit nodig het,” sê Wéhan.
Jy kan ook grondvog en diesel bespaar. Kontak Brian Nieuwoudt by 076-283-0766 of besoek www.orthman.com.