Categories: NewsPublished On: 22nd April 2016

Op soek na nuwe talent vir boerdery

By 3 min read
651 words

UP

Jongmense begin ‘n toenemende belangstelling in landbou toon en volgens Prof Nigel Barker, nuut aangestelde hoof van die Department van Plantwetenskappe by die Universiteit van Pretoria, spreek die syfers vanself.

“Daar is beslis ‘n toename in studentegetalle in toegepaste plantwetenskappe soos grondkunde, plantproduksie, tuinboukunde en plantpatologie, maar nog meer aanvoorwerk moet gedoen word om jongmense te lok,” sê hy.

Universiteite, landboubesighede, inset- en diensverskaffers, kommersiële boerderye en bedryfsorganisasies doen voortdurend verslag oor die gebrek aan jongmense in hulle bedryf en die feit dat hulle ondernemings daardeur geraak word. Volgens dr Barker speel die jaarlikse PMA Agri-Food Career Fairs ‘n groot rol om bewustheid oor loopbaangeleenthede in die landbou te skep en dit is ook die ideale platform vir die private sektor om nader aan universiteite te beweeg. 

Volgens Marianne van der Laarse, die organiseerder van die PMA Agri-Voedsel loopbaanuitstallings, is dit egter nie genoeg om jongmense aan te moedig om in landbou te studeer nie, maar dat daar meer gedoen moet word om studente aan praktiese ondervinding bloot te stel, en meer internskappe te skep. Volgens haar is daar ondanks die tekort aan BSc-gegradueerde kandidate,dikwels afgestudeerdes, selfs met meesters- en doktorsgrade, wat dit moeilik vind om werk te kry. Dit is grootliks te wyte aan die feit dat studente nie die geleentheid kry om praktiese werk of internskappe te doen by ‘n maatskappy in die landbou- en voedselbedryf nie.

Die Produce Marketing Association (PMA) in Suid-Afrika -‘n bedryfsorganisasie wat ten doel het om netwerkgeleenthede vir die varsproduktebedryf moontlik te maak – bied al die afgelope vyf jaar Agri-voedsel loopbaanuitstallings aan by die Universiteite van Pretoria, Stellenbosch en KwaZulu Natal. Hierdie jaar se loopbaanuitstalling by die Universiteit van Pretoria is van 19 tot 20 Mei 2016.

Die oogmerk van die Agri-voedsel loopbaanuitstalling is om jongmense te motiveer om ‘n loopbaan in die omvattende waardeketting in die landboubedryf, te oorweeg. Die fokus is op eerstejaar B.Sc. Biologiese Wetenskappe-studente, waarvan vele nog nie besluit het watter spesialisasierigting om in die tweede jaar te volg nie, asook voor- en nagraadse landboustudente. Studente in ingenieurswese en handelsrigtings word ook geteiken.

Voorts word leerlinge van Gr 10 tot 12, met Wiskunde en Wetenskap as vakke, uitgenooi om die loopbaanuitstalling by te woon. Die Agri-voedsel loopbaanuitstalling wat vanjaar by die Universiteit van Pretoria plaasvind, val saam met die jaarlikse Graad 11-toppresteerdersfunksie, waartydens meer as 1 200 toptien Graad 11-presteerders vanaf 160 skole in die UP voedingsgebied, die universiteit besoek, en ook deur die uitstalling beweeg.

Deelnemende maatskappye en organisasies het dus die geleentheid om hulle produkte, dienste, loopbaangeleenthede en beursskemas ten toon te stel en betrokke te raak by nagraadse projekte, asook kontak te maak met studente wat reeds in ‘n toepaslike landbourigting studeer.

Die reaksie vanuit die landboubedryf was tot dusver uitstekend. Die groot tamatieprodusent, ZZ2, se mannekragbestuurder, Johan du Plessis, stem saam dat die loopbaanuitstallings by Universiteite baie waarde het, aangesien ZZ2 aan studente en leerlinge al die loopbaangeleenthede by ZZ2 kan verduidelik.  ZZ2 het reeds hulle stalletjie vir die komende loopbaanuitstalling by die Universiteit van Pretoria bespreek.

Nog ‘n doelwit van die uitstallings is om die beeld van landbou te bevorder. Daar bestaan ‘n wanpersepsie dat landbou ‘n sukkelende bedryf is, en jongmense wil veral nie ‘n loopbaan volg in ‘n bedryf wat op die oog af nie welvarend is nie. Die loopbaanuitstallings het dus ten doel om hierdie persepsies uit die weg te ruim, in samewerking met die onderskeie bedrywe en universiteite. 

Maatskappye/organisasies wat reeds hulle stalletjies bespreek het sluit in: Syngenta, Monsanto, Aartappels SA, Fruit SA (Subtrop, Hortgro, sitrusprodusentevereniging, SATafeldruiwe, Varsprodukte-uitvoerdersforum), SANSOR (SA Nasionale Saadorganisasie), ZZ2, Bosveld Sitrus, Starke Ayres, Sakata APAC (Agricultural Products Agents Council), die Department van Landbou, Bosbou en Visserye, Russellstone, LNR (Landbounavorsingsraad), SA Instituut vir Landbou-ingenieurs, Shoprite Checkers, die Landbou-navorsingsraad (LNR), Waternavorsingskommissie, Westfalia en RSA  Markagente. ‘n Beperkte aantal stalletjies is nog beskikbaar.

Vrygestel deur:                                                                                                                                 

Marianne van der Laarse

Namens die Centre for Growing Talent by PMA (Southern Africa)

Tel 012 332 0696

marianne@agrijob.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0