Categories: NewsPublished On: 5th November 2014

Ons sal meer katoen moet dra

By 2 min read
343 words

Foto: upload.wikimedia.org


Wêreldwye katoenverbruik sal gestimuleer moet word om katoenprodusente te motiveer om volgende seisoen weer aan te plant.

Vir die derde agtereenvolgende jaar sal wêreldkatoenproduksie dieverbruik oorskry, wat daartoe sal lei dat wêreldkatoenvoorrade tot nuwe rekordvlakke sal styg met ‘n gevolglike invloed op katoenpryse.

Hierbenewens het Sjina se beleidsverandering van ‘n prysondersteuningsprogram (wat wêreldkatoenpryse die afgelope drie jaar ondersteun het) tot ‘n inkomste-ondersteuningsbeleid, tot die onlangse daling in wêreldkatoenpryse bygedra. Gevolglik het die A-indeks (‘n aanwyser van wêreldkatoenpryse) in Oktober vir die eerste keer in vyf jaar tot onder die vlak van 70 VSA c/lb gedaal.

Die ICAC (International Cotton Advisory Committee) raam dat wêreldkatoenproduksie hierdie seisoen op 26,1-miljoen ton te staan sal kom, min of meer onveranderd vanaf die vorige seisoen. In die lig van die afname in pryse, raam die ICAC dat wêreldkatoenverbruik hierdie seisoen met byna 4% tot 24,4 miljoen ton sal groei. Die ICAC verwag dat katoenverbruik in Asië sterk sal groei; met 5% in die wêreld se grootste twee katoenverbruikslande, Sjina en Indië, wie se gesamentlike aandeel in wêreldkatoenverbruik naby aan 55% is.

Die ICAC verwag dat wêreldkatoenhandel in 2014/15 met 11% sal afneem, hoofsaaklik as gevolg van ‘n geraamde 36% afname in Sjinese katoeninvoere. Saam met die oorskotkatoenproduksie gesien, sal dit na verwagting aanleiding gee dat wêreldkatoeneindvoorrade vir die huidige seisoen tot 21,6 miljoen ton sal toeneem teenoor die 19,8 miljoen ton van die vorige jaar. Ongeveer 58% van hierdie voorrade sal deur Sjina gehou word.

‘n Daling in katoenproduksie kan in 2015/16 verwag word as gevolg van die huidige laer katoenpryse wat sommige produsente sal ontmoedig om volgende jaar katoen aan te plant.

Plaaslike vooruitskouing

Wat die plaaslike vooruitskouing betref, dui die tiende skatting vir die 2013/14-produksiejaar op ‘n totale katoenoes van 47 323 bale vesel, min of meer dieselfde as verlede maand se skatting. Na skatting sal 42 823 bale van RSA se katoenpluksel verwerk word; ‘n styging van 65% oor die vorige seisoen. Die balans van 4 500 bale vesel het betrekking op verwagte Swazilandse geproduseerde katoen wat deur die Swaziland-pluismeule gepluis sal word.

Bron: Katoen SA

 

0
Tags: , ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0