NWKV-prys aan veeartsenykunde student

dr-paul-reynolds-1
Die fakulteit van Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria gee jaarliks ‘n prys aan ‘n student wat uitgeblink het in die kleinvee-kategorie. Die ontvanger van hierdie NWKV-prys vir 2016 is dr JP (Paul) Reynolds.
Paul het in Heidelberg, Gauteng, opgegroei. Hy het nog altyd belangstelling getoon in diere en veral in plaasdiere. Daardie liefde het hy by sy oupa gekry wat sy kleinkinders saam veilings toe geneem het om kalwers en varkies te koop en dan moes hulle dit self grootmaak.
Nadat Paul by Hoër Volkskool in Heidelberg gematrikuleer het, het hy by Tuks sy BSc Dierewetenskappe-graad en sy BVSc (Veeartsenykunde)-graad voltooi.
Sedert die begin van sy studies het Paul ‘n lewendige belangstelling in die produksie van diere getoon, wat ook die keuse was wat hy in sy finale jaar by Onderstepoort geneem het asook die veld waarin hy as veearts wil spesialiseer. Hy het ‘n spesiale belangstelling in kleinvee en voeding en wil graag die bokproduksie in Suid-Afrika verbeter. Hy is ook van mening dat meer navorsing oor bokvoeding gedoen moet word, aangesien dit nie dieselfde as skape is nie.
By die ontvangs van hierdie toekenning het Paul vir Prof Ken Pettey, medeprofessor by die fakulteit, bedank vir sy oop deur vir studente. Paul het verder die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) vir die mooi Merino-trofee bedank. Dit sal eendag ‘n plek op sy rak in sy praktyk kry.
Bron: NWKV