Categories: NewsPublished On: 25th July 2017

NWK rapporteer ‘n wins ná droogtejaar en kleiner oes

By 4 min read
736 words
nwk

nwk x

NWK kyk terug oor ‘n jaar wat in vele landbou-opsigte selfs swakker was as die voorafgaande jare. Oeste was uiters teleurstellend en die maatskappy het die minste graan ontvang sedert 1992. Die landboudienstegroep het egter steeds ‘n nabelastingwins van R52-miljoen behaal vir die jaar tot 30 April.

Te wyte aan die knellende droogtetoestande is slegs 300 000 ton mielies en 139 000 ton sonneblom ontvang, teenoor 559 000 ton mielies en 87 000 ton sonneblom in die vorige jaar. Die resultaat weerspieël dus nie NWK se werklike potensiaal nie, maar ʼn goeie reënjaar sal verseker dat NWK se resultate weer tot sy reg kom.

Die direksie is verantwoordelik om jaarliks die belegging in die onderskeie departemente, filiale en gesamentlike ondernemings te oorweeg en aanpassings op die waarde daarvan te maak, indien dit vereis word. Vanjaar se resultate is behaal te midde van buitengewone afskrywings wat op beleggings gedoen is – waarvan ʼn bykomende R11-miljoen afskrywing op die bates van die Afrika-ondernemings en die R20-miljoen afskrywing op die klandisiewaarde wat verband hou met die beleggings in Zambië en Botswana, die grootste was.

‘n Positiewe kontantvloei van R516-miljoen is uit bedryfsaktiwiteite behaal. Dié gunstige kontantvloei het gerealiseer uit die bedryfswins van die voortgesette bedrywighede, ‘n wesenlike afname in die graanvoorraad wat gedra word en die suksesvolle afbestuur van handelsvoorraad en grondstowwe. Die positiewe kontantvloei is ietwat gestrem deur die hoër vlakke van lenings en debiteure wat uit die aard van die uitdagende landboujaar gefinansier is.

“NWK se winsgewendheid is nie op die vlak waar die direksie en bestuur dit wil hê nie, maar ek is oortuig dat die draaipunt reeds bereik is. Ek doen ‘n beroep op almal om ter wille van NWK vorentoe toe te kyk en met positiewe insette te help verseker dat dit weer die maatskappy word wat ons ken,” het Heinrich Krüger, voorsitter van NWK, gesê.

Bedryfsoorsig

Ten spyte van die ondergemiddelde graanontvangstes, het die graansegment ʼn positiewe resultaat van R81-miljoen behaal. Kleinhandel het weer eens in ʼn uiters swak landboujaar  uitstekend  presteer  en  R66-miljoen tot die voorbelastingwins bygedra. Die tesourie- en finansieringsdepartement het ‘n wins van R61-miljoen behaal en die Certisure versekeringsonderneming het R4-miljoen tot die groepwins bygedra.

Die Noordfed-meule-onderneming het ‘n voorbelastingverlies van R46-miljoen getoon weens lae volumes teen klein marges. Na Epko Oil Seed Crushing in 2015 deur ʼn brand vernietig is, het ʼn daaruitvoortspruitende inkomste uit bateversekerings- en sakeonderbrekingspolisse gelei tot ‘n bydrae van R58-miljoen tot die groep se voorbelastingwins. Aangesien die volumes en marges by Opti Feeds steeds nie na wense is nie, het die filiaal ‘n voorbelastingverlies van R13-miljoen gely. Opti Chicks het ‘n voorbelastingwins van R11-miljoen gerealiseer, wat gegewe die druk op die hoenderbedryf en hoë voerpryse as gevolg van die droogte nie sleg vergelyk met konkurrente nie.

Die padvervoerbesigheid het ‘n klein wins behaal terwyl die droogte in die graanproduserende gebiede veroorsaak het dat Grasland ‘n negatiewe R2-miljoen tot die groepwins bygedra het. Dít en afskrywings van R8-miljoen op die belegging in die Agrisig-afstandwaarnemingsbesigheid het tot ‘n negatiewe resultaat by die diverse segment gelei.

Vooruitsigte

Na gesprekke met aandeelhouers en ander belanghebbendes, is die direksie en bestuur aktief besig om die geïdentifiseerde hindernisse en negatiewe aangeleenthede aan te spreek en stappe te doen wat die maatskappy se verhouding met sy aandeelhouers, klante, finansierders en personeel sal verbeter.

Die verkoop van Noordfed neem langer as wat die direksie verwag het. Die finale goedkeuring vir die voorgenome transaksie moet deur die Mededingingskommissie verskaf word en ‘n antwoord behoort binne die afsienbare toekoms verkry te word. As eindigende bedryf is Agrisig iets van die verlede en die verfyningsaanleg in Aeroton is verkoop. Die konsolidasie van Opti Chicks en Opti Feeds is op hande. Alhoewel verskeie uitdagings steeds by Noordfed, die Afrika- en Opti-besighede, kunsmis- en ander bedrywe aangespreek moet word – en bepaalde finansiering en kontantvloei-aangeleenthede oorbrug moet word – is die oesverwagting goed en kan die maatskappy na beter finansiële resultate uitsien.

Wat die werwing- en keuringsproses vir die vulling van die hoof uitvoerende beampte-pos betref, het die direksie se nominasiekomitee ʼn kortlys opgestel en formele onderhoude sal in Augustus plaasvind. ʼn Lojaliteitsprogram om klante te beloon vir hul volgehoue ondersteuning, sal in die nuwe finansiële jaar ʼn aanvang neem.

Dividend

Die direksie het ‘n jaareindedividend van 3c per aandeel vir uitkering aan die aandeelhouers goedgekeur. Ingevolge die bestaande belastingwetgewing is dividende onderworpe aan ‘n terughoubelasting van 20%. Die dividend verteenwoordig dus ‘n nabelastinguitkering van 2,4c per aandeel.

Bron: NWK

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0