NWK beloon klante wat die pad saam stap

NWK Lojaliteitsprogram_Agri Pulse
NWK se eerste lojaliteitsprogram is tydens die algemene jaarvergadering op 1 September die jaar aan aandeelhouers bekend gestel. Heinrich Krüger, NWK-voorsitter, skud blad met Francois de Kock (bestuurder: Finansiering), wat die program se projekleier is.
Die NWK landboudienstegroep is gerat om klante vir hulle volgehoue ondersteuning te beloon by wyse van aandele of kontant vir verdere aankope wat verdien kan word. ʼn Lojaliteitsprogram wat sopas geloods is, gee vir verskeie landbouklante die geleentheid om aandeelhouding in die groep te bekom óf uit te brei.
Hoewel lojaliteitsprogramme algemeen deur landboumaatskappye toegepas word, is dit vir NWK belangrik om nie net sekere groeperinge in die program in te sluit nie. Alle deelnemende klante – dit wil se boere, aandeelhouers, sake-entiteite en selfs die publiek en personeel – kan die voordeel geniet. Aangesien die lojaliteitspunte maandeliks bereken en ná die finansiële jaareinde uitgekeer word, hoef klante dus nie tien tot 15 jaar te wag om die volle voordeel te ontvang nie.
“NWK het na sy aandeelhouers geluister en wil klante beloon vir hulle jarelange en volgehoue ondersteuning. Na heelwat kopkrap is die formule bepaal vir handelsaankope gedoen en graan gelewer en op welke wyse klante beloon word, hetsy met aandele of kontant. Ons vertrou dat dit die gewenste resultaat sal lewer en dat dit sal lei tot die volgehoue ondersteuning van die maatskappy deur alle belanghebbendes,” het Heinrich Krüger, voorsitter van NWK, gesê.
Ná ʼn eenmalige aanlynregistrasie kan klante deel word van die program en vir lojaliteitspunte kwalifiseer soos wat sake met NWK gedoen word. Deelnemers se balans van lojaliteitspunte verdien, kan ná die betrokke maand waarin aankope plaasgevind het op die webtuiste of deur die NWK Online toepassing op ʼn slimfoon of ʼn tablet nagegaan word.
Volgens die groep se hoof uitvoerende beampte, Theo Rabe, weerspieël die program NWK se nuwe ingesteldheid om op alle vlakke voluit klantgerig te wees. Hoe meer besigheid met NWK Handel en Graan gedoen word, hoe groter is die voordeel wat verdien word. Lojaliteitspunte word verdien op aankope deur die handelsdivisie, op graanlewerings en met direkte transaksies soos kunsmis, saad en diesel. Die groep se filiale maak nie tans deel uit van die program nie.
Om te registreer of meer inligting te bekom, besoek die webtuiste www.nwklojaliteit.co.za of kontak ʼn konsultant van NWK Finansiering by 018-633-1000. Navrae kan ook gerig word aan enige NWK Handelswinkel of die naaste NWK-graansilo. Volg ook nuus oor die program op Facebook en Twitter.
Uitgereik vir en namens NWK Beperk deur Infoworks