NVK onttrek honde en katkos van die rakke: Is jou troeteldier veilig?

Verbruikers word aangeraai om seker te maak dat kos vir hul troeteldiere nie een van die produkte is wat onlangs deur die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) van winkelrakke onttrek is nie.
Volgens ’n mediavrystelling uitgereik deur die NVK op 21 November 2025 , wil die kommissie verbruikers in kennis stel van die onttrekking van spesifieke droë honde- en katkosprodukte, soos deur RCL Foods aangemeld.
Die betrokke produkte sluit verskillende sakke van Bobtail, Catmor, Canine Cuisine, Optimizor, Ultra Pet en Superwoof in.
Sowat 55 352 sakke is tussen 26 en 29 Mei, en ook op 4, 5 en 17 Junie 2025 vervaardig en regoor die land versprei.
Volgens RCL Foods het hulle verhoogde vlakke van deoksinivalenol (DON), wat natuurlik in graan soos mielies voorkom, in sekere rou materiaal gevind, en uiteindelik ook in die besmette droë troeteldierkos. Die troeteldierkos het vlakke van meer as 1 000 ppb (0,001 dpm) bevat. Dit kan lei tot verlies aan eetlus en spysverteringsprobleme by troeteldiere.
Troeteldiereienaars word aangeraai om die vervaardigingsdatum op die verpakking na te gaan en indien die kos binne die datums val, nie verder vir hul diere te voer nie.
Die volgende troeteldierkos moenie gebruik word nie:
- Bobtail tussen 28 en 29 Mei 2025 vervaardig
- Catmor tussen 27, 28 en 29 Mei 2025 en 5 Junie 2025 vervaardig
- Canin Cusuine op 4 Junie 2025 vervaardig
- Optimizor op 17 Junie vervaardig
- Ultrapet tussen 26 en 29 Mei 2025 vervaardig
Vir die volledige lys van produkname, volg die skakel https://thencc.org.za/product-recall-various-dry-pet-foods-supplied-by-rcl-foods/
Hoewel gevalle van troeteldiere wat siek geraak het nog nie aangemeld is nie, moet eienaars kennis neem van simptome soos:
- Diere wat skielik weier om hul kos te eet
- Braking kort ná inname van kos
- Diarree en oormatige kwyl
- Gewigsverlies en ’n swak toestand
- Verminderde voedselinname wat lei tot vinnige gewigsverlies
- Moegheid en verminderde aktiwiteitsvlakke
Die sakke troeteldierkos kan na die aankooppunt terugbesorg word vir ’n volle terugbetaling, met of sonder enige bewys van aankoop. Die NVK sal die onttrekking monitor om te verseker dat daar aan die Wet op Verbruikersbeskerming voldoen word.
Die verklaring is uitgereik deur die NVK. Vir navrae, kontak Phetho Ntaba, NVK-woordvoerder, by (+27)82-809-2031 of 012 065 2040.