Nuwe slimfoontoepassing voorkom botsings in Japan

driving-barista_1800x1800
Japan probeer bestuurders met yskoffie omkoop om nie slimfone te gebruik terwyl hulle bestuur nie.
Die Toyota-Motorkorporasie, die Komeda-maatskappy Beperk en die KDDI-korporasie het op 20 September 2016 met ’n nuwe inisiatief begin waarin ’n slimfoontoepassing wat as Driving Barista bekend staan, gebruik word. Die toepassing kyk of die bestuurder sy foon gebruik en indien nie kry hy ‘n gratis yskoffie. Die veldtog is daarop gemik om die aantal botsings in die Aichi-streek te verminder – dit is die streek waar die meeste botsings as gevolg van slimfone voorkom.
Die Driving Barista-slimfoontoepassing kan net binne die Aichi-streek gebruik word. Die toepassing gebruik ’n girosensor om die hoek waarteen die foon gehou word te meet en die GPS om die afstand gery te bepaal, en bereken dan die afstand wat die bestuurder met die foon met sy gesiggie na onder gery het. Wanneer die saamgestelde afstand die 100 km-kerf bereik, ontvang die bestuurder ’n koepon vir ’n gratis yskoffie by ’n Komeda-koffiewinkel.
Toyota SA hoop Suid-Afrikaners sal ook hierin belangstel as hulle iets gratis kan kry.
“Suid-Afrika het een van die wêreld se hoogste padongeluksyfers en nagenoeg 25% van hierdie botsings word deur bestuurders veroorsaak wat hulle selfone agter die stuur gebruik,” het Glenn Crompton, visepresident van bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, gesê. “Suid-Afrika ervaar ’n toename in ongelukke wat veroorsaak word wanneer motoriste hulle slimfone in die ry gebruik, wat ’n groot ekonomiese uitwerking op die land se BBP het. Toepassings soos Driving Barista kan help om padongelukke wat deur selfoongebruik veroorsaak word, aansienlik te verminder, wat ons paaie nie net veiliger sal maak nie, maar ook die uitwerking daarvan op die ekonomie sal verminder. Driving Barista is nog in die loodsfase, maar ons hoop dat soortgelyke toepassings gou hul opwagting in Suid-Afrika sal maak.”
Die Aichi-streek het die afgelope 13 jaar agtereenvolgens die meeste noodlottige botsings in Japan gehad. In 2015 was daar 44 369 botsings wat beserings of sterftes veroorsaak het. Daarbenewens was daar ook 50 101 in hegtenisnemings weens die gebruik van slimfone agter die stuur.
Volgens een peiling het sowat 60% van die deelnemers erken hulle gebruik hulle selfone wanneer hulle bestuur, terwyl sowat die helfte van hulle gesê het hulle ry met net een hand op die stuurwiel. Die maatskappye hoop nou die nuwe toepassings sal bestuurders se bewustheid verhoog om nie hulle slimfone te gebruik wanneer hulle bestuur nie.
Bron: Nuusvrystelling